Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Christus se opstanding is nie net ’n wonder nie – dit is ’n oproep, skryf leraar ná wye ekumeniese draai in Mosambiek
Deur Kerkbode / 2 Mei 2025
Gedurende vryheidsnaweek in Suid-Afrika het hy die voorreg gehad om deel uit te maak van ’n groep inter-geloofsleiers wat onder die vaandel van die meer as 25 jaar-oue Cape Town Interfaith Initiative geloofsgemeenskappe en organisies in ons buurland Mosambiek besoek het, skryf Riaan de Villiers.
Ons het onder andere die Departement van Justisie en Godsdienssake, skrywers en kunstenaars, universiteite en skole besoek.
Op ons terugkeer van Mosambiek het ons op Vryheidsdag Konstitusieheuwel besoek. Daar, in die gange waar mense soos onder andere Nelson Mandela, Mohandas Gandhi en Christiaan de Wet aangehou is, het ek saam met voormalige hoofuitvoerende beampte Dawn Robertson, wat tans die stryd vir herstel van Johannesburg voer aan die stuur van die organisasie JoziMyJozi, geloop en besef: Vryheid is nie ’n gegewe nie. Dit is ’n voortdurende opdrag en strewe. Maar dit was nie die enigste heilige grond van dié week nie.
RUTH FIRST SE NALATENSKAP
In Maputo het ek by die Eduardo Mondlane Universiteit stilgestaan in Kamer 62. Dáár, op ’n gewone middag ná werk in die teenwoordigheid van haar geliefde kollegas, het Ruth First – dapper akademikus en vegter vir geregtigheid – ’n briefbom oopgemaak. In haar kantoor, by haar lessenaar waar sy so baie werk gedoen het in die strewe na vryheid is sy vermoor deur ’n regime wat verset gevrees het. Die stilte in daardie vertrek was nie net rou nie – dit was heilige eerbied. Nog ’n bloedige, maar heilige merksteen op ons land se pad na vryheid.
Tydens ons besoek het ons ook met die Mosambiekse Raad van Kerke ontmoet. Hulle het gedeel hoe hulle doelbewus luister na die stemme van leiers uit ander gelowe – nie in debat nie, maar in ’n gesamentlike soeke na vrede. Hierdie ingesteldheid het my diep getref. Hoe anders as ons eie konteks waar mense dikwels eerste met hulle oë luister – en op grond van voorkoms, kleredrag, kultuur of geloof besluit of iemand vriend of vyand is. So maklik verklaar ons iemand persona non grata, in Trump-styl. Maar die evangelie vra iets anders. Dit vra dat ons mekaar sal ontmoet rondom gedeelde waardes: die liefde vir die naaste, en die goue reël – om aan ander te doen wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.
’N PORTUGESE WOORD MET ’N BYBELSE HART
In Mosambiek het ek tussen die gesprekke deur konstant die woord convivência gehoor. ’n Portugese woord met ’n Bybelse hart. Dit beteken nie net vreedsame saamleef nie, maar diep en volgehoue gemeenskap: om sáám te leef in gedeelde respek, regverdigheid en waardigheid. Convivência is die siel van shalom – die droom van God vir heelheid en herstel.
Ek sien hoe convivência in Mosambiek groei – selfs te midde van trauma. Die Hizmet-beweging, die vrug van Turkse vlugtelinge wat deur Erdogan vervolg is, het vlugtelinge Mosambiek toe gestuur wat in net sewe jaar skole en leerinstellings in Mosambiek gevestig het. Ook hier in Suid-Afrika sien ons hulle kinders, wat Afrikaans praat saam met Turks, Engels, Arabies – en wat net soos baie Kongolese en Somaliese vlugtelingkinders, sin maak van wie hulle is in ’n nuwe land. Hulle leer nie net taal nie – hulle leer brugbou.
Maar die wêreld waarin hulle grootword is vol uitdagings. In Noord-Mosambiek is ekstremiste besig om gemeenskappe te verwoes. Mans skuil bedags in die omliggende bosse om nie gevang en geradikaliseer te word nie. Moskees word ontheilig en mense kom die moskees binne met skoene en wapens en verander selfs die wyse van hoe Moslems al vir eeue bid. Hierdie is nie ware Moslems nie, maar ideologies gedrewe ekstremiste wat die geloof vir hulle eie selfsugtige doeleindes wil gebruik. Een dag voed hulle die mense en die volgende dag vermoor hulle mense – hulle regeer deur vrees. Die Mosambiekse regering se reaksie en optrede teenoor die plaaslike bevolking wen egter nie die harte van die mense nie. Die situasie is uiters gespanne. In hierdie konteks het ek weer besef: As die kerk nie profeties praat nie, verraai ons ons roeping.
SEKERE MENSE NIE WELKOM IN GOD SE DROOM?
Op pad lughawe toe in Johannesburg is ek eerste by die taxi en sit saam met die taxi-bestuurder wat na ’n podsending van ’n gesprek met Kallie Kriel luister terwyl ons wag. “Hoekom wil hierdie Afrikanermense vlug?” vra hy. “Trump se vlugtelinge – hulle maak ons land seer.” Maar vlugtelinge kies nie gemak nie – hulle kies oorlewing. Niemand kies waar hulle gebore word nie – maar tog glo ons dat God kies ons. Hoekom sou ons dan dink dat sommige mense meer gekies is as ander? In Suid-Afrika, Mosambiek, VSA, Israel of Palestina, of enige ander plek in God se volmaakte en diverse skepping?
Ons het pas die opstanding gevier. Christus leef. En ons bely dat God ons gekies het nog voor ons Hom kon kies. Tog leef ons asof sekere mense nie welkom is in God se droom nie. Asof liefde vir die naaste opsioneel is. Asof ons vyand nie ook beeld van God dra nie.
Die vroeë kerk het iets anders geleef. Hulle het selfs heidense Romeine wat hulle slawe liefgehad het, as geloofsgenote verwelkom – sonder dat hulle eers die regte leerstellings gehad het. Jesus het gesê: “Wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Wat het van daardie openheid geword? Geseënd is die convivencia-makers want hulle sal kinders van God genoem word.
In 1999 het President Mandela in die Groote Kerk gepleit vir ’n “RDP of the Soul”. Hy het die kerke opgeroep om nie net heil vir die hemel te verkondig nie, maar in samewerking oor Suid-Afrika se ryke en diverse ekumeniese en geloofslandskap genesing vir die nasie te wees.
Die profeet Miga roep: “Wat anders vra die Here van jou as om reg te doen, liefde en trou te bewys en nederig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).
Die opstanding van Christus is nie net ’n wonder nie – dit is ’n oproep. Kom uit. Leef saam. Bou convivencia. Want Christus leef – en Hy bou reeds sy koninkryk met almal wat bereid is om saam te bou in liefde en genade.
- Ds Riaan de Villiers is leraar by Groote Kerk in Kaapstad.
Kommentaar
Daniel Louw
Gaan kyk gerus wie Riaan die Villiers is:
In die artikel sê Riaan: “Dit vra dat ons mekaar sal ontmoet rondom gedeelde waardes: die liefde vir die naaste, en die goue reël – om aan ander te doen wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.”
Ek sal graag wil sien waar dit in die Bybel staan.
Riaan sê: “Ons het pas die opstanding gevier. Christus leef.”
Of hy in ‘n letterlike opstanding glo is onseker. Julian Müller en andere wat slegs in ‘n metaforiese opstanding glo, het dieselfde woorde gebruik.
Riaan sê: “Tog leef ons asof sekere mense nie welkom is in God se droom nie. Asof liefde vir die naaste opsioneel is.”
Dit is ‘n strooipopargument. Wie sê dit?
Riaan sê: “Asof ons vyand nie ook beeld van God dra nie.”
Maar natuurlik kan mense van ander gelowe ook die beeld van God dra. Selfs ateïste kan. Maar soos ons weet is die Bybel duidelik dat redding nie op grond van dade gebeur nie – dit is gebaseer op geloof dat Jesus in ons plek gesterf het.
Om te sê dat die vroeë kerk iets anders geleef het is ‘n totaal verdraaide argument.
Dit is baie duidelik dat redding nie vir Riaan ‘n prioriteit is nie. Liefde vir mekaar is baie meer belangrik. En die enigste manier om by so ‘n siening verby te kom is om te glo dat God ook mense van ander gelowe sal red – dat die hemel nie eksklusief vir Christene bedoel is nie.
🇿🇦 (en 🇺🇸🇬🇧) se kerke milieu, sit met ‘n vér groter probleem as dié vanuit bg. se eukemeniese toer. Riaan veroorsaak net groot hartseer vir homself in die toekoms, want dié waarmee hy so in “eenheid” verkeer, dink maar bitter min van die Christelike Bybel, en is lynreg téén die Bybel se leerstellings aangaande God en Sy Seun.. Die ironie is, sou NG Kerk leraars hul moderne soort van gló van die Bybel, aan Hamas, ISIS, HOUTHIS, MUSLIM BLACK BROTHERHOOD, ens. probeer “oordra”, staan hul kans om onthoof te word, en ek sé dié met groot erns aan die NG Kerk: julle speel met vuur en is in baie groot gevaar. Julle, nie ék nie.
So baie leraars in 🇿🇦🇬🇧🇺🇸 (ongeag kerkverband) blyk te dink, hul kan satan, die antichris, sy valse profete, demoniese netwerk teêstaan (of dat blote préék van die Bybel, hom terughou), maar het nie eens ‘n openbaring van Christus in hul binnekamerlewe beleef nie, soos aangevuur deur God se Gees. Alle gebeure vóór en ná Openbaring 4, vereis ‘n absoluut naak word voor Hom éérs deur Openbaring 2 en 3 vir die “self”, en dan die GEES SELF wat die mens intrek in GOD se Troonkamer, waar mens léér, wat waarlik aanbidding is, en behoort te wees. Daarná eers, kom Openbaring 5, 6, ens…. En dan keur die NG KERK “eenheid” met die duiwel goed? Die duiwel is nie jou speelmaatjie nie, en hy is ook nie in die Troonkamer in Openbaring 4 nie. Eerder dat hy (Riaan en al bovermeldes) tyd met God in die binnekamer begin deurbring, sodat die Gees van die Here, 👁👁 kan oopmaak.
Een ding het ek ook geleer: sodra ‘n persoon sy “Reformasie” of “Pinkster” of “Rooms Katoliek” of “Baptiste” ens. denominasie proklameer as waarlik “Getrou aan Skrif”, weet maar: dié persoon, ken God se ❤ maar baie min; hul wéét miskien baie 💬 vanuit die Bybel of kommentare of van kerkgeskiedenis of ken baie teoloë se dogmatiek, en ken baie teologiese 📚, , en het ook al teologiese joernale ✍🏻, maar kan die antichrisgees nie eens eien in eie familie, kollegas, kerk of die wêreld nie. Of eens in “self” nie. Geleerdheid kan lewensgevaarlik wees waar die denominasie “idol” aanbid word.
In die Troonkamer by God in Openbaring 4, wáár word gepraat van “reformasie”? Ens? Ons sit met baie leraars wat dink hul harte 🔥 van God se Gees, maar is niks anders as hoogs-emosionele belading nie. En hoogmoed.
OPENBARING 4:2 AFR53
[2] En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon.
https://bible.com/bible/5/rev.4.2.AFR53
Jammer dat ek jou so verstaan. Jy klink is soos die Fariseers ens waarna Jesus verwys het toe hy vertel het van die verlore mindstuk en die skaap wat weg gedwaal het. Dit was die die ander mense se skaap nie, dit was nie ‘n ander ou se beursie nie, dit was mense uit die trop wat God se kinders is soos die fariseers. Hy het vir hulle gesê maak jou oë oop julle is is afgedwalendes. Jesus het vir mense kom leer om te verander, jy moet weer gebore word. Jesus het nooit dit verkonding dat ek vir jou sonde gaan sterwe nie. Ons veronderstel dit in ‘n paar verse in die Nuwe Testament maar sy fokus was verseker die manier waarop jy leef en watter invoed jy op die wereld het. Daniel het verseker die kat aan die stert beet. Dankie Riaan ek het ookal die wereld deur getoer en dit het my sienwyse van mense se onwrikbare geloof in God verander
Dankie Riaan vir hierdie artikel dit gee mens hoop. Ek glo jy sal jou nie laat beinvloed deur die kommentaar hier bo nie. Miskien eendag sal hierdie blindes ook kan sien.