15 maniere om valse lering deur onderskeiding te ontmasker | JUIG! Tydskrif
Geskryf deur: Kevin DeYoung
21 Oktober 2025
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Wat is valse lering en hoe herken ons dit? Daar is natuurlik geen onfeilbare manier om dit te identifiseer nie. Bybelse onderskeiding verg jare van gebed, prediking en praktyk, maar daar is sekere vrae wat ons kan help om die waarheid van die dwaling te onderskei. Hier is 15 vrae wat ek onlangs aan my gemeente gestel het om te help onderskei tussen ware en valse lering.
1 Klink die lering vreemd?
Dit is nie ’n onfeilbare maatstaf nie – die uitverkiesingsleer kan byvoorbeeld by die eerste aanhoor daarvan vreemd klink. Maar gesonde lering behoort Bybels sin te maak vir iemand wat jaarliks die Bybel deurlees, elke Sondag kerk toe gaan en dekades lank Sondagskool bygewoon het. ’n Christen wat al lank ’n gelowige is, behoort te wonder: “Hoekom het ek nog nooit vantevore iets soos hierdie gehoor nie?”
2 Klink dit te goed om waar te wees?
Nie in die ewige lewe nie, maar in hierdie lewe. Beloftes van geen mislukkings, gewaarborgde materiële voorspoed of volkome gemak in verhoudings en emosionele rus, is nie betroubaar nie.
3 Behels dit snuisterye, relieke of heilige water?
Die Christelike geloof bevat wel ’n element van misterie, maar dit het niks met toorkuns te doen nie.
4 Behels dit profetiese woorde?
Christene definieer profesie op verskillende maniere. Ek verwys hier nie na ’n gepaste woord, kragtige prediking of wyse raad nie. Ek praat van “die Here het vir my gesê”-uitsprake wat vir ander voorskryf wat om te doen en wat nie aan die hand van die Skrif getoets of beoordeel kan word nie.
5 Speel engele, buite-aardse wesens of “saadgeld” ’n groot rol in die lering?
Genoeg gesê.
6 Gebruik dit die woord “kode” prominent?
Bybelkode, Da Vinci-kode, Omega-kode – vermy dit liewer heeltemal.
7 Behels die lering geheime?
Dit was die aantrekkingskrag van gnostisisme. Dit het voorgegee om die ingewyde na ’n wêreld van geheime kennis te lei. Dit is hoekom ek ongemaklik is met vrymesselaars, Mormone en selfs baie studentegildes. Tensy dit oor nasionale veiligheid gaan, wees versigtig vir groepe wat deur streng bewaarde geheime bymekaar gehou word. Boeke met “geheim” in die titel is ook dikwels verdag (Lesslie Newbigin se The Open Secret is die uitsondering wat die reël bevestig).
8 Steun dit op ’n karikatuurbeeld van God?
Valse lering beeld God dikwels uit as ’n outokratiese sterkman óf ’n vriendelike gesig wat krale by Woodstock uitdeel. Daarteenoor straal die God van die Bybel, om Jonathan Edwards se woorde te gebruik, ’n “menigte uiteenlopende voortreflikhede” uit.
9 Gebruik dit groot temas om spesifieke verse te kanselleer?
Ons moet altyd Skrif met Skrif vergelyk, maar ons mag nie vae temas soos liefde, geregtigheid of genade gebruik om die besonderhede van die Skrif plat te druk nie.
10 Bevorder dit ’n onbemiddelde benadering tot spiritualiteit?
Mistisisme, in die tegniese sin, is ’n benadering tot God sonder bemiddeling. Valse spiritualiteit probeer intimiteit met God kweek wat nie deur die bemiddelde openbaring van die Skrif gaan nie en ook nie lei tot die bemiddeling van Christus aan die kruis nie.
11 Gebruik dit vaag gedefinieerde terme en slagspreuke?
Liberalisme begin met ’n gebrek aan aandag aan woorde. Dit is die triomf van ortodoksie om sorgvuldig met taal om te gaan.
12 Laat dit die noodsaak van bekering agterweë?
Wees op jou hoede vir die “voel-goed”-uitnodiging wat almal na die wyd oop arms roep. Die koms van die Koninkryk is nie goeie nuus vir sondaars wat volhard in sonde nie – dit is goeie nuus vir sondaars wat hulle bekeer.
13 Lyk dit of die lering of leraar behep is met een persoon, een leerstelling of een idee?
’n Ongevraagde ontmaskering van honderde bladsye sê gewoonlik meer oor die outeur as oor die onderwerp.
14 Lei dit tot ’n ongebalanseerde voorstelling van die waarheid?
Ware Christenskap hou altyd ’n balans tussen komplementêre Bybelse waarhede – soos waarheid én genade, Christus as God én as mens, verlossing deur geloof alleen én die noodsaak van gehoorsaamheid. Dit was gewoonlik die ketters wat hulle skuldig gemaak het daaraan om Bybelse spanning te netjies en ordelik op te los.
15 Pas die lering in by die Bybelse verhaal van sonde en verlossing?
Hoe kan ’n heilige God woon te midde van ’n onheilige volk? As die lering nie sin maak as deel van daardie verhaal nie, is ek agterdogtig.
Wees wys!
Volwasse Christene vind nie fout met alles en almal wat net effens van hulle verskil nie. Maar hulle onderskei en hulle is versigtig. Bewaar jou hart. Bewaar jou huis. Bewaar die goeie skat wat aan jou toevertrou is.
KEVIN DEYOUNG – senior pastoor van Christ Covenant Church in Amerika en medeprofessor in sistematiese teologie by Reformed Theological Seminary