Só saam aanbid Bybel-vreemd

*******

Só saam aanbid Bybel-vreemd | Netwerk24

Gerhard Mahne, Kaapstad

09 Oktober 2023

In die komende Algemene Sinode van die NG Kerk (15 tot 20 Okt.) se agenda op bl. 75, “Gesamentlike Aanbidding?”, vra ’n taakspan dat NG gemeentes saam met Moslems en ander gelowe moet aanbid.

Ons word ook aangemoedig om sodanige aanbiddingsgeleenthede in ons kerkgeboue te reël.

Dis waarskynlik om oor gedeelde, kwellende kwessies in die samelewing saam te bid.

Die verslag vra tereg vir wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele.

En dan die woorde “ . . . die oordeel (word) aan God alleen oorgelaat”.

Kan dit werk?

Vir samewerking op so ’n diep vlak soos gebed is die vereiste dat daar diepliggende filosofiese en beginselooreenkomste tussen partye sal bestaan.

Moslems is dierbare mense, maar hulle leer hul kinders daagliks ’n fundamentele Moslem-oortuiging: “Daar is ’n God, sy naam is Allah en hy het nie ’n seun nie” en Jode verwerp die feit dat Jesus die Christus is.

Hieroor sê die Bybel weer: “Elkeen wat nie by die leer van Christus bly nie, maar verder as dit wil gaan, het God nie; wie by die leer bly, so iemand het die Vader sowel as die Seun.

“As iemand na julle kom en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in julle huis ontvang nie, en hom nie groet nie” (2 Joh: 9 -10).

Nie in julle huis ontvang en nie groet nie beteken om nie op godsdienstige vlak met diesulkes te verkeer en in dieselfde godsdienstige juk te trek nie (2 Kor. 6:14).

Maar nou wonder ’n mens, glo almal dan nie maar in dieselfde Skeppergod nie?

Wel, godsdienste van alle tye bely ’n Skeppergod.

In die antieke heidense Egipte was Ra die skeppergod en onder die Grieke was dit Phanes.

Tog is daar vir Bybel-gelowiges net een God in wie se teenwoordigheid hulle mag leef en aanbid, en dít is Jahwêh wat Homself in en deur sy Seun Christus Jesus geopenbaar het. Gesamentlike gebed in dié geval is dus Bybel-vreemd.

2 thoughts on “Só saam aanbid Bybel-vreemd”

  1. Gerhard ek wonder ook , is daar nie dan maar net een Skepper God nie? As iemand neer kniel en sy onsienbare God aanbid, praat ons nie maar almal met dieselfde God nie? Hoe kan ons oordeel oor iemand wat dit op ‘n ander manier as die Joods/Christen manier doen? As ons vashou aan die geloof dat ons God net kan dien en bereik deur Jesus , dan gaan ons mos baie mense soos Abraham, Moses Samuel ens en kinders wat sterf voor hulle Jesus leer ken het nie in die hemel raak loof nie want hulle ken Jesus nie. Ons moet begin anders dink oor mense wat ander glo , hulle geloof aanvaar en nie oor hulle oordeel nie.

    1. Ponkie, mens kan sien jy dink diep. Wonderlik. Maar as ‘n ou nou wonder oor Abraham, Moses, Samuel (wat ‘n soort Rigter-profeet was) en wat sterf voor hulle Jesus leer ken het, moet ons net eers onthou die Bybel vorm ‘n eenheid van Genesis tot Openbaring. Ons is daarom Bybel-gelowiges en nie, sê maar Psalms-mense of Romeine-gelowiges nie. Party ouens lees mos net sekere Bybelboeke en los die res. As mens dan sê jy’s ‘n Bybel-mens geld dit ook vir jou dat die Bybel self die Bybel verklaar. Duidelike dele werp dus lig op onduidelike dele. Ons weet bv. nie uit Gen 4. waarom Abel se offer bo die van Kain aanvaar is nie. Dis eers as jy in die Nuwe Testament in Hebreërs 11:4 daaroor lees dat jy die rede vind. So, wat die figure soos Abraham, Moses en Samuel betref (en die hele volk Israel in die Ou Testament) sê veral die Nuwe Testament vir ons dat die Gees van Christus in die profete was (1 Pet.1:11), dat die Christus saam met Israel in die woestyn was vanaf Egipte na Kanaan (1 Kor. 10:1-4) en dat die Christus-lied – die lied van die Lam – dieselfde lied is as die lied van Moses (Op. 15:3), en dat Moses die Christus hoër geag het as Egipte se skatte (Heb 11:26). Lees ook gerus in die Ou Testament Gen 3, Ps. 22, Jes 9, Jes 53 en jy sal Jesus daarin raakloop. Daar is dus net EEN boodskap in die hele Bybel nl. Jesus Christus is God se Seun en die enigste Verlosser van ‘n verlore mensdom. Dis ook wat Hand 4:8-12 sê. Die vraag wat ons elkeen vir onsself moet vra is of ek al Jesus as my persoonlike Verlosser aangeneem het (Joh. 1:11-12). Ek neem aan jy het al en indien nie nooi ek jou om dit te doen. Jy sal dan ‘n diepe vrede en vreugde wat gaan groei, belewe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui