Sinode: Hoëveld kies nuwe moderator, gemeentes deel hul stories

*******

Sinode: Hoëveld kies nuwe moderator, gemeentes deel hul stories | Kerkbode

Nico Smit

19 Oktober 2022

Die atmosfeer op die eerste dag van NG Kerk Sinode Hoëveld se 23ste sinodesitting was gevul met mense wat lag, gesels en opgewonde is om mekaar na ’n lang tyd weer te sien.

Die sitting vind van 18 tot 20 Oktober ná vier jaar se Covid-verwante ontwrigting by Kaleideo in Kemptonpark plaas.

Die tema is Ons storie. In die een hoek van die vertrek tref afgevaardigdes toue aan wat van die dak hang. Dit is waar gemeentes met behulp van pennetjies, foto’s, briewe of traktaatjies hulle stories – hoopvolle stories – kan kom vasmaak. Dit spoor gemeentes aan om die positiewe stories te vertel en nie te fokus op die negatiewe verhale of kritiek nie.

Die keuse van die tema wil sê dat lidmate in hierdie streeksinode van die NG Kerk se storie ook die Here se storie is en dat elkeen deel van Christus se storie is, omdat die kerk sy liggaam is, aldus Theo van Rensburg, die oudste dienende leraar wat die sinode bywoon. Klem word ook geplaas op ’n gestuurde kerk, maar ook ’n sturende kerk en ’n versorgende kerk.

Die Sinode Hoëveld se storie lyk ook vanaf vandag anders met ’n nuwe moderator en assessor. Die stemming vir moderator was tussen dr André Bartlett en dr Johan Botha, waar dr Johan Botha as moderator verkies is vir die volgende termyn. Dr Tom Smith, van NG Gemeente Fontainebleau, is as assessor verkies van die sinode.

Prof Stephan Joubert het Hoëveld Sinode toegespreek rondom die tema van veerkragtigheid, breekbaarheid en dan anti-breekbaarheid. Hy meen dat elke persoon, gemeente, ring en sinode meer anti-fragile moet leef, omdat die koninkryk van God nooit in die moeilikheid is nie. Hy vertel dat elke mens waar hy of sy is, in hulle storie, ’n profeet moet wees.

Dag Twee (19 Oktober 2022) hou die belangrike gesprek rondom Artikel 37 en die dolering van gemeentes in. Hou Kerkbode dop vir meer inligting oor die gebeure.

  • Dr Nico Smit is ’n leraar en Kerkbode-medewerker.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui