Ring van Heilbron se besluit nav 2019-SGV-besluit

Kyk ook:

Die ring van Heilbron het op 14 November 2019 ’n spesiale ringsitting gehou om te besin oor die 2019 NGK homoseksuele besluit. Hierin vra hulle onder andere dat die Vrystaatsinode dringend ’n spesiale Sinodesitting byeenroep om, soos Goudland sinode, hierdie kwessie te bespreek.

********

BESLUIT EN VERKLARING VAN DIE RING VAN HEILBRON AANGAANDE DIE ALGEMENE SINODE SE BESLUIT OOR SELFDEGESLAG VERHOUDINGE

14 November 2019

1. Die Ring van Heilbron betreur die feit, dat die Algemene Sinode 2019 die Gravamen van die Ring van Heilbron, wat oor hierdie aangeleentheid ingedien is, doodgewoon geïgnoreer het.

2. Die Ring van Heilbron betreur die besluit van die Algemene Sinode 2019 oor selfdegeslagverhoudinge/verbintenisse en verwerp dit in sy geheel.

2.1 Die Ring verwerp die gedagte dat ’n ‘vasgelooptheid’ bereik is ten opsigte van ons Skrifhantering en Skrifuitleg, wat dit aan willekeur oorlaat dat elke gemeente en lidmaat nou self kan besluit watter sonde nie meer as sonde gereken word nie, spesifiek seksuele oriëntasie in die geval. Die feit dat respek vir mekaar se uiteenlopende Skrifbenaderings swaarder weeg as die waarheid van God se Woord. Die feit dat die konteks van die gemeente die maatstaf vir die waarheid en nie God se Woord as die enigste onfeilbare waarheid gehandhaaf word nie.

2.2 Die Ring verwerp die gedagte dat die eenheid met Christus nie verbrokkel wanneer ons met mekaar verskil oor Skrifhantering en Skrifuitleg nie. Die Skrif is juis die Woord van Christus aan sy kerk wat absolute gehoorsaamheid van ons vra.

2.3 Die Ring verwerp die besluit dat mense in die ampte kan dien ongeag hulle seksuele oriëntasie, terwyl die Woord duidelike vereistes vir al die ampte stel. Dit gaan hier oor die LGBTIQ+ leefstyle in sy wydste sin wat in die Skrif as sedeloosheid aangedui en ten sterkste afgewys word.

2.4 Die Ring verwerp die gedagte dat daar ruimte geskep moet word vir almal om in hierdie opsig volgens sy eie oortuiging te kan optree. Daardeur word ’n diversiteit omhels ten koste van die waarheid van die Woord.

2.5 Die Ring verwerp die besluit om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van sogenaamde burgerlike verbintenisse wat aan homoseksuele verhoudinge kerklike sanksie wil gee.

2.6 Die Ring verwerp die besluit om verskoning aan te bied aan gay lidmate en hulle families vir die pyn wat hulle in die kerk sou beleef het, asook die waardering wat in die besluit uitgespreek word vir die gay-lidmate wat volgehou het met hulle waagmoedige optredes in die kerk.

2.7 Die Ring verwerp die besluit om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit. Die Ring het geen vertroue meer in sommige teoloë wat die kerk voortdurend met onbybelse studiestukke wil konfronteer nie.

3. Die Pad vorentoe

3.1 Die Gemeentes in die Ring van Heilbron distansieer hulle in die geheel van die besluit van die Algemene Sinode 2019 rakende selfdegeslagverhoudinge.

3.2 Die Ring van Heilbron versoek die Vrystaat Sinode om dringend ’n spesiale Sinodesitting byeen te roep, rakende die besluite van die Algemene Sinode 2019.

3.3 Indien die Sinode nie die versoek toestaan nie, sal die Ring van Heilbron gemeentes aanmoedig om aksies te neem soos wat reeds deur sommige gemeentes gedoen is.

3.4 Die Ring van Heilbron het eenparig besluit om die beraad te Moreletapark by te woon.

3.5 Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense die boodskap van genade, vergifnis, belydenis, bekering, liefde en heling aanbied. In dieselfde asem staan ons by die woorde van die kerkhervormer Martin Luther: “I am not permitted to let my love be so merciful as to tolerate and endure false doctrine.

1 thought on “Ring van Heilbron se besluit nav 2019-SGV-besluit”

  1. Voorsitter,
    Ons juig vanoggend in Kanada oor die berig wat ons oor die e-pos gelees het in verband met die probleem wat die Algemene Sinode in die NG kerk veroorsaak het. Ons kan net aan ons VADER dankie sê dat HY predikante, lidmate en sterk leiers aan ons kerk gee wat SY WOORD nog reg hanteer en nie op kleinserighede rond trap nie.
    Ons vertrou dat u vorentoe veel meer ondersteuning sal kry en gelei word om ’n baken van lig, moed en hoop vir ons gelowiges en kerke sal wees.

    Die uwe
    Amanda van der Merwe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui