Pieter Mulder: Op pad na Om Weer Met Niks Te Begin

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Pieter Mulder: Op pad na Om Weer Met Niks Te Begin | Netwerk24

Pieter Mulder

12 Februarie 2023

Veranderings by die Noordwes-Universiteit herinner aan Eksodus, skryf Pieter Mulder.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se algemene sinode het pas besluit dat hul samewerking met die Noordwes-Universiteit (NWU) tot ’n einde kom sover dit die opleiding van predikante betref.

Die ingrypende besluit illustreer hoe die NWU die afgelope tyd verander het. Dit bevestig ook hoe min van die oorspronklike Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) oor is.

Die universiteit het sedert sy stigting in 1869 ’n lang geskiedenis van sukses en mislukking, van voorspoed en swaarkry, wat regstreeks verband hou met die verandering van regerings in Suid-Afrika. Soos die pendulum tussen ’n goedgesinde en vyandige regering swaai, gaan dit voorspoedig of sleg met die universiteit.

Dit laat my altyd aan die Bybel en aan Eksodus 1 dink. In Genesis lees ons hoe Josef as slaaf in Egipte aankom en homself opwerk tot ’n onderkoning.

Uit hierdie magsposisie sorg hy vir sy broers, bring hulle na Egipte en red hy hulle van hongersnood. Dan volg die Bybelboek Eksodus. Die boek begin deur te skryf dat Egipte ’n nuwe farao gekry het. ’n Farao wat nie vir Josef geken het nie. Die nuwe, vyandige farao stel dan slawedrywers aan om die Israeliete te onderdruk. Die nageslag van Josef word vir eeue slawe in Egipte.

Die PU vir CHO se wortels gaan terug na die oprigting van ’n GKSA-teologiese skool in 1869 in Burgersdorp. In 1904 het die teologiese skool na Potchefstroom geskuif en ’n literariese departement bygekry. Uit hierdie literariese departement het die latere universiteit gegroei. As ’n private instelling wat gesteld is daarop dat hul onderrig Christelik moet wees, kry hulle geen finansiële hulp van die destydse regering nie.

Met die Nasionale Party (NP) aan bewind in 1924 het die Potchefstroomse kollege wel ’n subsidie van die staat begin kry.

Later het die regeringsklimaat weer verander. Ten einde geld van die staat te kon kry moes die “CHO”, wat vir Christelike Hoër Onderwys staan, weggegooi word. Dit het tot ’n dekades lange stryd gelei teen hierdie “gewetensklousule” wat dit veroorsaak het.

Die NP kom weer aan bewind met die 1948-verkiesing. Nou is dit “ons mense” wat regeer, voer goedgesinde ondersteuners van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) aan.

Met die hulp van die NP-regering slaag die PUK om in 1950-1951 as ’n selfstandige universiteit erken te word. Dit span die kroon op amper ’n eeu se worsteling. Die aanvanklike stigters het ná 80 jaar daarin geslaag om ’n selfstandige, Christelike en Afrikaanse universiteit te vestig. Die PU vir CHO kry hierna jaarliks op ’n gelyke vlak met alle ander universiteite ’n groot finansiële bydrae van die staat.

Maar die pendulum swaai terug en die Eksodus-beginsel geld weer toe die ANC in 1994 aan bewind kom. Transformasie van die samelewing (wat dit ook presies beteken) plaas druk op alle instellings.

In ’n debat met dr. Kader Asmal, die destydse verantwoordelike minister, verwys ek na die onbillike druk op Afrikaanse universiteite om te verengels.

Die minister voer aan dat verengelsing nodig is om toeganklikheid vir alle studente te verseker. My teenargument is dat dit dan nie in Johannesburg sal geld, waar Wits en die Randse Afrikaanse Universiteit 4 km van mekaar is, nie. Uitsluiting en toeganklikheid kan nie hier geld nie waar studente tussen die twee universiteite kan kies in watter taal hulle wil studeer.

Waarom moet RAU dan ook verengels? Hy het geen antwoord gehad nie.

In my argument het ek na “ons Afrikaanse universiteite” verwys. Asmal se onmiddellike reaksie was dat alle staatsuniversiteite sedert 1994 “belong to all the people of South Africa”. Tegnies was hy natuurlik reg.

As die PU vir CHO teoreties sy private status behou het, sou die argument nie op hom van toepassing gewees het nie.

By die PU vir CHO is ’n forum gestig wat op 26 Junie 1994 ’n verklaring uitstuur met onder meer die bewoording: “ . . . that the PU for CHE . . . accepted and implemented policy which deeply affected fellow South Africans and did not always realise the Christian principles for which the university stood.” Dit is ’n poging om uit te reik en ’n klimaat te skep om met die nuwe regering, wat vyandig mag wees, saam te werk.

Om ’n okkerneut te kan eet, moet jy eers sy dop kraak. As die dop nie wil kraak nie, neem jy ’n ander een. As sy dop begin kraak, kry jy hom nie jammer en sit die neut terug nie. Jy druk harder, want jy weet hy kan heeltemal meegee. Dit was my ervaring met die ANC-regering.

Hulle plaas meer druk op jou as dit lyk of jy begin kraak.

In 2002 het dr. Theuns Eloff nuwe rektor geword. Hy vra ’n komitee van internasionale kundiges van Europese universiteite om aanbevelings oor die PU vir CHO te maak. Hulle beveel aan dat die “Christelike Hoër Onderwys” as kwalifisering van die universiteit se naam weggelaat word. Van hul argumente is dat deur dit weg te laat ontslae geraak word van ’n “ ’n stuk apartheidsbagasie”. Die “CHO” is toe verwyder.

Hierna kom die Noordwes-Universiteit (NWU) tot stand toe die Potchefstroomse universiteit, Bophuthatswana-universiteit en die Vaaldriehoek saamsmelt om een universiteit te word met Eloff as rektor. Met tolkdienste word ’n goeie balans tussen Afrikaans en Engels gehandhaaf.

Nadat prof. Dan Kgwadi rektor word, word die druk op Afrikaans al hoe groter. Op die oomblik is Engels besig om geleidelik orals Afrikaans op die Potchefstroom kampus uit te druk. In verskeie fakulteite word alle klasse reeds net in Engels aangebied. Engels is ook die administratiewe taal van die universiteit. Dit beteken dat alle dokumentasie en vergaderings in Engels alleen plaasvind.

Tolkdienste word al hoe minder gebruik.

Met die “CHO” weg en Afrikaans onder druk is min van die oorspronklike PU vir CHO oor. Tot onlangs het meer as 75% van die Potchefstroomse NWU-studente by ’n ander universiteit verby gery om by die NWU te kom studeer. Hierdie studente, oorwegend wit en bruin, maar ook swart, het met hul voete gestem om aan ’n Afrikaanse universiteit met ’n Christelike instelling te studeer.

Soos die kampus verengels, is daar nou geen rede meer waarom so ’n student by Wits of Pretoria sal verby ry as sy kursus in elk geval in Engels by die NWU aangebied word nie. Dit lyk of die NWU se bestuur hierdie argument nie wil verstaan nie.

Die eindpunt hiervan is dat die NWU net nog ’n Engelse plattelandse universiteit sal word wat vanweë sy ligging nie met stedelike universiteite soos Wits en Pretoria sal kan meeding nie. So ’n universiteit word ’n “laaste-uitweg-universiteit”.

Swakker studente, vir wie nie by hierdie stedelike universiteite voorsiening gemaak word nie, val dan as hul tweede of derde keuse terug op die NWU.

150 jaar was die teologiese skool die simboliese hart van die universiteit. Die ooreenkoms wat die NWU aan die teologiese skool voorgehou het, was nie vir die GKSA aanvaarbaar nie. Simbolies verloor die NWU nou hierdie hart. Die ooreenkoms het bepaal dat die NWU die inhoud van die kurrikulum wil saamstel en die reg sou hê om die teologiese dosente aan te stel. So ’n situasie maak dit onmoontlik om teologiese studente vir die GKSA op te lei.

Die besluit het ingrypende finansiële implikasies vir die GKSA se teologiese skool, maar soos een dosent aan my gesê het: “Ons het met niks in Burgersdorp begin nie en het oorleef – ons kan dit weer doen.”

Hierdie patroon herhaal hom steeds meer in Suid-Afrika soos instellings gedwing word om hulle los van staatsinstellings te maak en na hulself begin omsien.

Onthou dat in Eksodus die pendulum wel teruggeswaai het en die Israeliete ná ’n tydperk uit Egipte verlos is deur te trek!

  • Dr. Pieter Mulder is ’n Gereformeerde lidmaat en was 15 jaar ’n dosent aan die PU vir CHO voordat hy tot die parlement verkies is.

Kommentaar

Mag hierdie optrede deur die Gereformeerde kerk, behoudendes in die NG Kerk inspireer om die regte ding te doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui