Ope brief aan Algemene Sinode van 2023

In die artikel Top-advokaat waarsku NG Kerk oor gays (Rapport, 8 Oktober 2023) word daar verwys na ‘n ope brief deur 11 van die 12 lidmate wat die NG Kerk hof toe geneem het nadat die 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudings omgedraai is in 2016. Hier is die brief.

Kyk ook Adv Jeremy Gauntlett: Legal opinion.

***********

Ope brief aan die Algemene Sinode van 2023 (AS2023)

Geagte sinodegangers –

Graag bring ondergetekende lidmate van die NG Kerk die volgende onder u aandag.

  • Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het etlike moeilike kwessies in hulle termyn
    met insig en wysheid hanteer. Daarvoor moet hulle bedank word.
  • Ongelukkig tel die ASM se hantering van die Algemene Sinode 2019 (AS2019) se besluite oor selfdegeslagverbintenisse (SGV) nie onder hierdie sake nie. Volgens die antwoorde van die Dagbestuur op pertinente vrae en die regsmening van ’n senior advokaat (laasgenoemde aangeheg), blyk –
    • — Die ASM huiwer steeds om onomwonde te erken dat die AS2019 selfdegeslagverbintenisse prinsipieel aanvaar het deur predikante toe te laat om sulke
      verbintenisse te bevestig.
    • — Hoewel die ASM/NG Kerk nie teen die duidelike hofuitspraak van 2019 in hierdie
      verband geappelleer het nie, en die uitspraak dus aanvaar het, blyk dit nié uit die
      AS2019-besluite en die ASM se hantering daarvan nie.
    • — Die ASM het gefouteer deur in hulle hantering van die besluite van die AS2019
      onderskeid te tref tussen sg “proses-“ en “prinsipiële” besluite – ’n onderskeid wat nie
      deur die AS2019-besluite gemaak word nie (sien regsmening).
    • — Die ASM het gefouteer deur nie uitvoering te gee aan die opdrag van die AS2019 dat
      ’n formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse ontwikkel moet word nie,
      en deur net liturgiese riglyne vir sodanige verbintenisse beskikbaar te wil stel, nagelaat
      om voldoende leiding aan kerkrade en bevestigers van sulke verbintenisse te gee.
  • Aangesien ons graag ’n positiewe bydrae tot die bespreking van hierdie saak wil lewer,
    word die volgende gedagtes vir ’n moontlike besluit met respek aan die Algemene
    Sinode deurgegee met die hoop dat afgevaardigdes dit ter sprake sal bring:

    • — 1 Die Algemene Sinode herbevestig die sinode se volle aanvaarding van die Bybel as
      die Woord waardeur God met ons praat, en bid dat die Heilige Gees die kerk steeds sal
      lei om deur verantwoordelike hermeneutiek die boodskap van die Skrif vir ons tyd reg te verstaan.
    • — 2 Die Algemene Sinode herbevestig in die lig van die Skrif die menswaardigheid van
      alle mense.
    • — 3 Die Algemene Sinode verklaar daarom ook dat hetero- en homoseksuele persone
      wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk.
    • — 4 Die Algemene Sinode herbevestig dat die sinode erkenning gee aan burgerlike
      (trou-) verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag, en wil toesien dat hierdie
      verbintenisse deur predikante wat die nodige reëlings getref het, waardig bevestig kan
      word.
    • — 5 Die Algemene Sinode besluit dat die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake
      (ATLAS) deur sy werkgroep wat herstellende prosesse fasiliteer, baie dringend ’n
      konkrete program van versoening en herstellende geregtigheid moet ontwikkel vir
      praktiese uitvoering en toepassing in sinodes en gemeentes.
    • — 6 Die Algemene Sinode oefen nie gewetensdwang uit nie en erken dat daar
      diversiteit van beskouings oor hierdie en ander etiese kwessies binne die kerk is, en
      beklemtoon die belangrikheid van voortgesette studie van die Skrif sowel as kennisname van wetenskaplike navorsing oor sulke sake.

Met dank vir u aandag en groete in die Here –

Lidmate van die NG Kerk:

  1. Judith Kotzé
  2. Pieter Oberholzer
  3. Laurie Gaum
  4. Lulani Vermeulen
  5. Hennie Pienaar
  6. Murray Coetzee
  7. Hendrik Bosman
  8. Nadia Marais
  9. Leon Wessels
  10. Frits Gaum
  11. Chris Jones

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui