BRIEF | Boeddhiste sal dalk gou in NG Kerk kan aanbid

*******

BRIEF | Boeddhiste sal dalk gou in NG Kerk kan aanbid | Netwerk24

Prof. Johan Janse van Rensburg

Rapport, 8 Oktober 2023

Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein, skryf:

Ten spyte van die feit dat die NG Kerk oor die afgelope twee dekades duisende lidmate verloor het (Kerkbode, 10 Nov. 2022), gaan die Algemene Sinode vindingryk voort om nog meer omstrede sake op die agenda te plaas.

Dit het onafwendbaar die resultaat dat nog meer ontsteltenis en onsekerheid oor die identiteit van die kerk verdere ontwrigting gaan veroorsaak. Dit is egter nie alleen die sake waaroor daar besin gaan word nie, maar die wyse waarop verslae (soos in die verlede) saamgestel word om by vooropgestelde uitkomste aan te land.

Terwyl aanbevelings oor gesamentlike byeenkomste tussen verskillende godsdienste, selfs in gemeentelike kerkgeboue, aangemoedig word (om maar een saak te noem), is dit reeds duidelik in watter rigting die taakspanne die sinode wil laat beweeg. Inderwaarheid is sulke byeenkomste alreeds gehou voordat die Algemene Sinode ’n mening daaroor kon uitspreek.

Sal sinodegangers in staat wees om die fynbeplande strukturering en formulering van hierdie en ander verslae en aanbevelings uit te ken?

Die Skrifgebruik in sulke verslae is uiters verdag. Een voorbeeld spreek vanself. Ter stawing van intergeloof-byeenkomste word slegs na God se seën oor Ismael in die Ou Testament verwys (Genesis 16), terwyl die hele geskiedenis van God se toorn oor Israel, wat gedurig by heidense godsdienste betrokke geraak het (afgodery), asook die implikasies van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis buite rekening gelaat word.

Onder die dekmantel van vryheid van godsdiens, die noodsaak tot verdraagsaamheid en die noodsaaklikheid om met mekaar in gesprek te tree, word gebedsgeleenthede in kerke as ideaal voorgehou.

Dit herinner sterk aan voorstanders van die Emerging Church wat in Amerika saam met Boeddhiste in hulle tempels aanbid het.

By die kritiese lees van die agenda is daar onvermydelik die neerdrukkende gevoel dat ons nog ’n stappie verder geneem gaan word na ’n algehele vervreemding van die gereformeerde Skrifbeskouing en verarming van identiteit. Hoe lank nog gaan gemeentes en lidmate sulke onskriftuurlike besluite van die Algemene Sinode aanvaar?

2 thoughts on “BRIEF | Boeddhiste sal dalk gou in NG Kerk kan aanbid”

  1. Wat gaan met die NG Sinode aan? Jul haag ons ou lidmate wat gedoop, aangeneem en oud geword het in die NG Kerk weg. Speel jul nou God? Die straf wag en dan wil ek nie deel wees daarvan nie.

  2. Ek wil graag ‘n lansie breek vir hierdie besluit van die Sinode:
    Ons is ‘n piepklein Oosterse Ortodokse gemeente (ja, ons is Christene en vier elke Sondag die oudste Liturgie in die wêreld se jongste amptelike taal) wat deur die goedgunstigheid van die Rondebosch NG gemeente ‘n klein kapel op ‘n galery van die kerkgebou kon inrig. Ons is innig dankbaar vir hierdie tuiste en die welwillendheid van die gemeente.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui