My besluit oor my NG Kerk lidmaatskap na die Algemene Sinode van die NG Kerk se hantering oor selfdegeslagverhoudings

My besluit oor my NG Kerk lidmaatskap na die Algemene Sinode van die NG Kerk se hantering oor Selfdegeslagverhoudings

Deur Chris Visser

5 Oktober 2020

Hiermee maak ek bekend dat ek uit protes oor die AS se 2019 besluite oor Selfdegeslagverhoudinge (SGV), aangesluit het by die Moreleta Kairos Netwerk met die oog op ’n toekomstige besluit ten opsigte van my eie lidmaatskap van my huidige gemeente en groter NG Kerk.

1. Waarom doen ek dit nou?

Ek was die afgelope jare reeds ontsteld oor die rigting wat die kerk se Sinodale leierskap ingeneem het. Ek kan beslis nie met my gewetensoortuigings saam gaan met die besluite oor Selfdegeslagverhoudings wat lynreg ingaan teen die Bybel se lering oor die huwelik nie. Sedert die besluite in 2019 was daar daarna genoegsame bewys dat dit nie die breër NG Kerk geval nie, en was my hoop en verwagting steeds dat daar êrens ’n omkering van die rigting wat die AS besluit het om te gaan, sal wees.

Die Moreleta Beraad wat in Februarie 2020 plaasgevind het om die afwykende leerstellings, wat deur die Sinodes en die teologiese inrigtings, in die kerk ingevoer word, te bespreek, deel my eie oortuigings en ek het ook daaraan deelgeneem. Dit het by my die hoop laat opvlam dat daar wel ’n omkering kan kom.

Maar toe kom Covid-19 wat alles verander het, ook op kerklike gebied. Ipv dinge op die ys te plaas, kom die nuus daarna vanuit die AS kantoor dat leraars nou onder hulle leiding selfs kan aansoek doen om sulke huwelike te bevestig. Enkele gemeentes (‘n hele 40 nou al) besluit wel om te doleer (daaroor te treur – Lees die verduideliking en redes daarvoor deur op die skakel te klik).

Baie gemeentes en leraars bly volgens my waarneming ongelukkig met die stand van sake, maar min neem volgens my kennis openlike standpunt in daarteen. Dit was uiteraard moeilik om dit te doen agv die afgelope 6 maande se Covi-19 beperkings op die werk van die kerk.

Die Moreleta Kairos Netwerk wat vanuit die Beraad van vroeër ontstaan het, het onlangs verdere inisiatiewe hieroor bekend gemaak en dit blyk vir die platform te wees waarin ekself my protes teen die AS se rigting vorentoe gaan voer.

2. Wat is die Moreleta Kairos Netwerk?

2.1. Die Moreleta Paneel het besluit om ’n netwerk op te bou met hierdie dolerende gemeentes en enige persoon wat hulle vereenselwig met die gedagtes waaroor daar by die Moreleta Beraad ooreengekom is.

2.2. Die netwerk se naam is Moreleta Kairos Netwerk. Sien www.moreletakairos.net

2.3. Mense wat verdere steun aan die beweging wil gee, kan daar Registreer en op hoogte bly van verdere verwikkelinge.

2.4. Vir enige vrae en om kommentaar te lewer: epos na info@moreletakairos.net of op die webblad by “Antwoorde”.

3. Wie is ek en hoe raak dit my?

3.1. Eerstens, dit gaan glad nie oor my nie. As konteks wel die volgende: Ek is ’n emeritus-leraar van die NG Kerk. Was nou 38 jaar in die bediening, met ’n passie en voorkeur vir die suiwer verkondiging van die Woord en veral die kerk se Getuienistaak. Na 15 jaar as gemeenteleraar, het ek daarna sedert 1996 voltyds begin fokus op sendinguitreike en ander gemeentes se mobilisering vir sending. Ek probeer steeds daarmee woeker.

3.2. My Sendingpad: Ek het aanvanklik groot oop deure by gemeentes vir Sending beleef; Rondom die eeuwisseling 2000 was Sending vir talle gemeentes ’n groot prioriteitsaak en was ek by meer as 300 gemeentes daarmee betrokke. Ek het toe ook verskeie boeke as hulpmiddels vir gemeentes oor die Onderwerp gepubliseer wat goeie aftrek gekry het – Sien hier).

3.3. Veral die afgelope dekade was my ervaring egter ’n toenemende afname in Sending-betrokkenheid en belangstelling deur die kerk vir Sending (Sien my navorsing daaroor hier).

3.4. Natuurlik het baie faktore hiermee ’n rol gespeel. My oortuiging is egter dat veral die Gay-debat in die NG Kerk wat gedurende die tyd al meer aktueel geword het, ’n groot invloed op gemeentes se betrokkenheid by Sending tot gevolg gehad het (Lees meer daaroor hier)

3.5. Tans is ons steeds saam met verskeie medewerkers veral gefokus om die groot oop deure van die Sosiale Media te benut om die evangelie te deel en ons sendingroeping uit te voer (Sien https://www.facebook.com/KoFie.project/).

3.6. Ter kennisname het ek in 2018 ’n verdere boek oor Sendingmobilisering van gemeentes gepubliseer – wat al my kennis en ervaring daarvan oor baie jare saamvat; ek was baie opgewonde om dit met die breër kerk te deel, maar moes met groot teleurstelling ervaar dat die boek baie min belangstelling kry – dis net asof die “saak” nie meer op gemeentes se agenda so belangrik is nie; asof daar te veel ander sake is wat die agenda oordonder!? (Lees meer oor die boek “Net so stuur Ek julle ook”)

3.7. Laastens, die kerk behoort ernstig kennis te neem van onlangse navorsing van Barna oor die effek van die Corona-nadraai op die toekomstige kerk. “1 in 5 churches facing permanent closure within 18 months due to COVID-19 shutdowns.” Verder bevind hy “As many as one in five churches could permanently close as a result of shutdowns stemming from the coronavirus pandemic.” Niemand weet hoe die kerk se toekoms gaan lyk nie, maar baie se verwagting is dat “die nuwe normaal” die kerk in ’n swakker posisie gaan plaas as tevore. Om te midde hiervan die verdere implikasies van ’n verdeelde kerk oor die AS se besluite ook nog te akkomodeer, kan nie anders as om die NG Kerk vorentoe nog verder seer te maak nie.

4. Waarop baseer ek my teenstand tov die AS-besluite?

Alhoewel ek nie ’n “kundige” oor die onderwerp van SGV is nie, het ek deurentyd op hoogte probeer bly en bly dit vir my belangrik om die Woord van God en sy Eer boweal te stel. My oortuigings hieroor is gevorm deur my eie interpretasie en verstaan van die hele Skrif, asook die bestudering van geskrifte en boeke van teoloë wat ek vertrou met hulle hantering van die Skrif, bv.

4.1. Jan du Rand en Marius Nel – Homoseksualiteit en die Bybel

4.2. John Piper – sy geskrifte, veral sy beklemtoning om God se eer boweal te stel (vgl. Rom 1:21, 23, 25, 28; 2:23 ) en veral sy prediking oor Romeine 1:24-28 The Other Dark Exchange-Homosexuality, Part 1 en Part 2

4.3. John MacArthur: Artikels en prediking.

4.4. Verskeie Video’s van Ferdie Mulder bv. Selfdegeslagverbintenisse – ’n Nuwe Godsdiens?

My Persoonlike ervaring:

4.5. Ek het oor baie jare in die bediening met baie seer ervarings van mense wat met hulle SG-begeertes geworstel het, te doen gekry. ’n Maklike antwoord is daar nie en as gelowiges is ek oortuig dat Jesus Christus alleen ’n antwoord bied.

4.6. Ek het egter ook met verskeie persone te doen gekry wat kon getuig dat God hulle gehelp het om die uitdaging van hulle eie SG-begeertes te oorkom en verlossing en genesing van hulle seer te kry. My gevoel die afgelope jare is egter dat eersgenoemde groep oordrewe aandag en begrip by die kerk kry, terwyl laasgenoemde groep gemarginaliseer word en min erkenning en begrip kry – in ons eie land en volgens wat mens lees, nog meer in die Internasionale wêreld.

4.7. Talle getuienisse van hierdie groep (voormalige homoseksueles of ex-Gays) is op die internet beskikbaar en dit gryp my steeds aan om hulle verhale te hoor. Veral die voorreg om Andre Bekker, een van hierdie groep, persoonlik te ontmoet, sy getuienis te hoor en sy deeglike navorsing en persoonlike insig en ervaring waarmee hy vir baie jare reeds aan ander leiding gee – en reeds baie ander mense met soortgelyke vrae kon gehelp het – dit het my siening daaroor gevorm. (Luister hier na ’n onlangse persoonlike getuienis van André Bekker)

4.8. Andre Bekker het verskeie briewe aan die NG Kerk geskryf, die eerste reeds in 2013; dit het aanvanklik my eie oë oopgemaak vir ’n ander siening as die pad wat die AS die afgelope aantal jare toenemend geloop het. Ek het nog altyd gewonder: Waarom gee hulle nie baie meer intense aandag daaraan nie (Brief 2013; Brief 2017).

4.9. Die groot klem wat die saak van LGBTQ+ mense deesdae in die media en onder Menseregte groepe kry, is welbekend. Daarom het Andre Bekker ’n taakgroep Voice of the Voiceless begin om hulle saak ook die nodige aandag te gee. Die eerlike, maar wetenskaplike wyse waarop hulle materiaal aangebied word, tref my elke keer.

4.9.1.Voice of the Voiceless Advocacy: Voice of the Voiceless Advocacyis a South African Christian human rights organization for marginalized sexual minority groups, living within biblical values. It is an advocacy organization called into being to be a voice for these voiceless ones. Hulle ervaring is dat hulle min erkenning kry en daar selde na hulle kant geluister word.

4.9.2.Sien die webwerf o.l.v. Andre Bekker: Voice of the Voiceless

4.9.3.Sien die Facebook Groep Voice of the Voiceless. Daar is verskeie getuienisse en artikels wat baie meer lig op die onderwerp plaas. Daar lees mens bv. “Jesus loves Homosexuals, but, they have to turn to Jesus and repent in order to enter the Kingdom of God – We all do”.

4.9.4. Laastens, uit ’n getuienis van ’n persoon wat self met groot pyn met die saak geworstel het, skryf hy uiteindelik die volgende “Ek doen ’n beroep op die Kerk om ’n standpunt voor te staan, wat in stede van verwarde mense aan te moedig om hulle sonde verwronge oriëntasie as hulle identiteit te aanvaar, hulle na die Weg, die Waarheid en die Lewe sal wys, sodat hulle hul van hulle sonde kan bekeer en na God draai.”

5. Ander materiaal wat my oortuigings hieroor gevorm het:

5.1. ’n Uitstekende Video: Such were some of you Video

5.2. Van die baie materiaal wat op die Internet beskikbaar is, deel ek die van Steve Gallagher (the founder and president of Pure Life Ministries who has dedicated his life to helping men find freedom from sexual sin and the abundant life in God that comes through deep repentance.}

Lees meer daaroor… Origin of Male-Homosexuality.

5.3. Brad Furges, “Director of Mens Counselling” by Pure Life Ministries in die VSA, skryf in “Homosexuality-If its sin, there’s hope“. “From my own personal experience, I know that a person who chooses a homosexual lifestyle cannot glorify God and is therefore destined to enter the spiral of degradation described by the apostle Paul in Romans 1:21-27.”

5.4. Laastens, materiaal soos op die Moreleta Kairos webblad se Media afdeling geplaas is… soos bv. A Change of Affection: What happens when a gay man encounters the power of the Holy Spirit? Becket Cook, a formerly gay man shares his amazing Christ-Encounter & answers the church’s most commonly asked questions about the LGBTQ+ community.

6. ’n Paar praktiese vrae van my kant aan die Kerk

6.1. Hoe gaan die kerk se hulpverlening aan mense wat binne die wye gemeenskap wat gedefinieer word met LGBTQ+ vorentoe gehelp word? Die term LGBTQ+ word so wyd en omvattend getrek, dat dit die gevaar loop dat mense met persoonlike unieke persoonlikhede en behoeftes wat onder die een term ingegooi word, nie regtig gehelp kan word nie. Is die moontlikheid van sonde, wat net met berou en bekering herstel kan word, dan geen oorweging meer nie? Die heteroseksuele mens bly dan voortdurend steeds worstel met wat die Bybel duidelik as sonde uitlig?

6.2. Het tradisionele Bybelse pastoraat, om iemand wat worstel met wat ook al die persoon se nood is – skuld, twyfel, angs – enigsins nog ’n plek om met die evangelie van hoop, vergifnis van sonde en verlossing deur Jesus Christus hulp te verleen? Bied die besluite van die AS om SGV te normaliseer en selfs kerklik as huweliksbevestigers by te staan, asook die hedendaagse klem op Wetlike Menseregte en om almal te aanvaar vir wie en wat hulle is en doen (ook binne die hele wye term van LGBTQ+), enigsins nog die moontlikheid om die gesprek in ’n Bybels pastorale rigting te mag stuur? Die klem op Liefde vir almal wat anders is, sonder om ook met die realiteit van Sonde in ons almal se lewe voor God en Sy Woord te buig, dit is vir my die uitstaande probleem in die kerk se beklemtoning tans.

6.3. Hoe gaan die kerk maak met die Voiceless-groep; al diegene wat getuig hoe hulle oor ’n lang tyd geworstel en in ’n nuwe verhouding met Jesus Christus hulp en genesing gekry het (soos waarvan talle getuienisse hierbo op die webblaaie beskikbaar is)? Gaan die kerk, om nie aanstoot te gee aan die eersgenoemde groep nie, diegene wat ontken dat hulle ook Bybelse pastorale hulp vir sonde nodig het en wat tans so sterk aandring op hulle Wetlike Menseregte, diegene van die tweede groep, hulle wat getuig dat Christus wel vrymaking aan hulle gegee het, bly ontken en ignoreer, soos hierdie groep dit tans beleef? Dis die rede waarom hulle Webblaaie die naam “Voiceless” gekies het.

7. Vrae aan kerkrade en leraars wat tans kies om neutraal te bly en die probleem dood te swyg.

7.1. Ek ken talle leraars wat in persoonlike gesprekke in die verlede teenoor my hulle teenstand teen die besluite van die AS uitgespreek het. Blykbaar is dit egter moeiliker om dit teenoor kollegas of binne hulle kerkrade te doen en so ’n storm te ontketen. Dalk het hulle algaande begin aanvaar dat die AS besluit om SGV te normaliseer dalk nie meer so onaanvaarbaar is dat hulle meer daarteen moet standpunt inneem nie; sommige noem dit slegs ’n stormpie in ’n teekoppie. Mens verstaan dat daar prakties baie faktore op die spel is: jou toekoms, jou standplaas, jou pensioen…? Kollega Dominees, dis meer as ’n stormpie in ’n teekoppie. Die Eer van God en sy Heerlikheid bly op die spel (Rom 1:21, v23 “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie – Die vertaling soos in my ’83-Bybel (Die vertaling in die ’87 weergawe lees “Almal het gesondig en is vêr van God af”) ? ? ?

7.2. Dan is daar die “wysheid” wat ek in sommige gemeentes teenkom dat hulle verkies om nie te fokus op die dinge “waarteen” ander is nie; hulle fokus eerder op die dinge “waarvoor” hulle as gemeente is, die regte kerk-goed soos sending en barmhartigheid ens. Dis klink nogal na ’n “mooi” standpunt, maar prakties ontwyk hulle die “geveg”; hulle kies om nie standpunt in te neem nie. Kollegas, wat verkeerd is, kan tog nie net ignoreer word nie. As jy swyg, keur jy immers die volle pakket van die AS besluite goed.

7.3. ‘n Praktiese toekoms-scenario: Daar is gemeentes en leraars wat besluit hulle gaan nie (tans) deelneem aan die bevestiging van SGV huwelike nie. Hoe seker is hulle dat hulle nie vorentoe in hofgedinge gedwing kan word deur diegene wat dit verlang nie. Daar is reeds hofsake wat op grond van die land se nuwe gelykheidswette (waaraan die AS blykbaar meegewerk en dit deur hulle kondoneer word?), dat John en Jan (of Mary en Maryn) nie meer skaam is om openlik te veg vir hulle “regte” nie.!! Regte om die gebou daarvoor te benut en deur hulle kerk getrou te word. En gemeentes, leraars, diegene wat tans nie openlik hulle teenkanting daarteen verklaar nie, sal nie dan kan omdraai nie.

7.4. Die NG Kerk het reeds oor die saak sedert 2015 baie lidmate (en inkomste) verloor. Die baie gemeentes wat reeds aangedui het dat hulle die pad van dolering gaan stap en die Moreleta Kairos Netwerk wat algaande sterker momentum kry, wil dit laat voorkom of kerkskeuring onafwendbaar is vir die NG Kerk. Daar is blykbaar toenemende klem onder die Sinodale leierskap om ten alle koste Kerkeenheid te probeer bewaar – met ’n kerkskeuring gaan daar immers baie verdere skade gely word.

7.5. Ek het tevore in punt 3.7 reeds na Barna se navorsing oor die kerk na Covid-19 verwys. Ek noem dit net weer.

7.6. Laastens: Daar is, slegs op hierdie laat stadium, steeds ’n ander opsie! ’n Radikale standpuntverandering – wat slegs moontlik is as dit met ’n hartsverandering (in die ou taal – bekering, terug na die Bybel) gepaard gaan? Dit is waarvoor ek steeds bid en hoop.

Dankie vir u aandag,

Ter wille van die Koninkryk en die Eer van God.

Chris Visser, Centurion.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui