Lees self belydenis deur (Belhar)

Kyk ook:

Die volgende artikel is deur GD Botha van Bloemfontein geskryf en van Netwerk24 gekopieer.

************

Lees self belydenis deur

Donderdag 23 Oktober 2014 7:27 nm.

Dit is feitlik onmoontlik om deesdae iets nuuts by te dra tot die debat oor die Belhar-belydenis, want alle argumente, teen en vir, is alreeds soveel keer gesê en geskryf.

Ek wil tog by elke NG Kerk-lidmaat pleit om self die belydenis deur te lees, en om self te oordeel oor hoe die Belhar-belydenis die Here as ’n partydige God vir die arme, verontregte ensovoorts voorgestel het. Vergelyk dit dan met Rom. 3:10 en Rom. 3:24 waar almal as sondaars gelyk is voor God.

Onthou terselfdertyd dat die NG Kerk se algemene sinodes die Belhar-belydenis as onaanvaarbaar verwerp het vir 25 jaar lank, en nadat hulle dit in 2012 aanvaar het, het hulle nog nooit vir lidmate verduidelik waarom hulle hul standpunt verander het nie.

Die NG Kerk in Afrika het die belydenis verwerp, en so ook die NG Kerk wat gerig is op Indiese lidmate.

Die wysiging van Artikel 1 sal tot gevolg hê dat die NG Kerk uit twee soorte lidmate sal bestaan, die “simpatiseerders” met die Belydenis van Belhar, en die “behoudenes” wat die drie Formuliere van Eenheid as voldoende aanvaar.

Dit sluit in die nodigheid dat NG lidmate eers Sondagoggende hul kerk-kantore telefonies sal moet skakel om uit te vind op watter belydenisse die prediking van daardie Sondag gegrond sal wees voordat besluit kan word of jy tuis sal voel in “daardie” NG Kerk.

Dit is belaglik, maar ook hartverskeurend!!

Die (eens) gerespekteerde sinodes behoort hulle te skaam oor die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde.

Versoening is ’n wonderlike gesindheid om na te streef, maar dit is tog reeds deel van elke Christen se lewe, net soos heiligmaking, volharding, gehoorsaamheid, nederigheid…Hierdie hele onnodige vermorsing van tyd gaan nie om versoening nie, maar is eerder ’n slim “plannetjie” om die krimpende lidmaatskap van die NG Kerk te stuit.

G.D. Botha

Bloemfontein

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui