NG gemeente Oudtshoorn-Noord doleer

Kyk ook:

Ons, die leraar en kerkraad van die NG Kerk Oudtshoorn-Noord, uit die Ring van Oudtshoorn, deeglik bewus van ons eie gebrokenheid, tekortkominge en sonde wil hiermee, nadat ons ook lidmate geraadpleeg het op ’n gemeentevergadering, ons ontsteltenis en hartseer uitspreek met die Algemene Sinode van 2019 se besluit oor selfdegeslagverbintenisse in en deur die kerk. Ons kan onsself nie vereenselwig met die besluit nie aangesien ons op grond van die Skrif oortuig is dat:

  1. Die Bybel nêrens positief praat oor die beoefening van homoseksualiteit nie, trouens, alle verwysings daarna is negatief.
  2. Die Bybel slegs die huwelik tussen een man en een vrou as ’n Godgegewe lewenslange verbintenis tussen mense erken as ’n verhouding waarin seks beoefen mag word.
  3. Alle seksuele verhoudings wat afwyk van pt.2 as sonde gereken word en nie beskou kan word as Godgegewe, Godgewilde of normale beoefening van seks nie.
  4. Volgens 1 Tim 3 moet die ampsdraers van die gemeente aan verskeie vereistes voldoen en vir die doel waaroor hierdie verklaring gaan, is dit duidelik dat dit mense in gesonde heteroseksuele huwelike en gesinne moet wees.

Ons siening is dat die sinodebesluit direk indruis teen God se Woord en die riglyne oor moraliteit daarin en dat in hierdie besluit nie die Woord van God nie, maar ander wetenskappe die laaste sê het. Ons is deeglik bewus van die kompleksiteit van die aangeleentheid en verskeie sienings hieroor. Ons is ook van mening dat die Woord nie die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig ontken of afkeur nie, maar wel die beoefening daarvan. Daarom meen ons dat die mens onder leiding van die Heilige Gees steeds die vermoë en die keuse het om te kies teen ’n homoseksuele leefstyl (ten gunste van ’n selibate leefstyl) omdat so ’n keuse in ooreenstemming met die riglyne van die Skrif sou wees.

Ons veroordeel nie en ons kan, wil en sal niemand hiermee probeer uitsluit uit die koninkryk nie. Dit doen God alleen. Ons verwelkom alle mense, ook die wat ons reken in sonde lewe in ons gemeente, eredienste en werksaamhede van die gemeente, want ons is almal onverdiend begenadig. Ons het egter as begenadigdes die verantwoordelikheid en verpligting om tot inkeer te kom, gehoorsaam aan God te leef en te strewe na ’n lewe wat in ooreenstemming met die Woord van die Here is en die sonde te laat vaar, maar ons is van mening dat die jongste sinodebesluit ’n sondige leefwyse goedkeur en selfs aanmoedig en gelowiges maan om verdraagsaam teenoor die sonde te wees en dit te omarm.

Ons treur oor ’n besluit wat daartoe aanleiding gee dat gelowige, toegewyde, gehoorsame kinders van die Here wat vir die Here lief is, getrou aan die Bybel wil bly en deur al die jare lojale lidmate was, nou met hartseer en ontsteltenis die kerk verlaat, omdat hulle op grond van die jongste sinodebesluit tot die oortuiging gekom het dat die NG Kerk op sinodale vlak in besluite, ten spyte van die uitgesproke voorneme daartoe, nie meer die Woord van die Here as enigste riglyn vir ’n Christelike leefstyl aanvaar nie en daarom die besluit neem dat hulle nie langer deel wil wees van so ’n kerk nie.

Ons is hartseer daaroor dat dit toenemend voorkom asof sommige van die NG Kerk se teoloë die Skrif klaarblyklik nie meer sien as die uitdruklike, onfeilbare Woord van God nie, maar eerder mense se woorde oor God. Daarmee word die reformatoriese basis van Sola Scriptura nou uit die hart van ons belydenis en identiteit geruk.

In die lig van bogenoemde en met die steun van lidmate van die gemeente verklaar die Kerkraad op 18 November 2019, dat die NG Gemeente van Oudtshoorn-Noord nou ’n dolerende gemeente is en as sulks bekend sal staan totdat dit blyk dat die sinode tot inkeer kom en terugkeer na die beginsels van die Skrif. Die kerkraad sal van tyd tot tyd besluite neem oor die implikasies hiervan bv die gemeente se betrokkenheid by en bywoning van byeenkomste van die Ring van Oudtshoorn en die Wes-Kaap Sinode van die NG Kerk, finansiële bydraes aan die Ring en Sinode en bywoning van VBO kursusse deur die leraar.

Die leraar van die NG gemeente van Oudtshoorn-Noord (Dolerend) mag in die lig van die Skrif se duidelike uitsprake derhalwe nie selfdegeslagverbintenisse goedkeur, inseën of bevestig nie en sodanige verbintenisse mag nie in die gemeente se geboue aangegaan word nie en persone wat in selfdegeslagverbintenisse is, sal nie toegelaat word tot die ampte of as kategete van die gemeente nie.

Leraars wat in selfdegeslagverhoudings leef sal nie toegelaat word om die Woord of sakramente in die
gemeente te bedien of na die gemeente beroep word nie. Die kerkraad en gemeente is nie ten gunste van kerkskeuring nie en bid dat dit nie sal gebeur nie en daarom bly die gemeente voorlopig binne die verband, biddend dat die sinode tot inkeer sal kom en sal terugkeer na die Woord sodat die gemeente haar dolerende status kan ophef en weer volledig kan inskakel by die werksaamhede van die Ring van Oudtshoorn en die Sinode van Wes-Kaap.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui