Gelowiges moet lig loop vir dié wet

Kyk ook Godsdiensvryheid verkeerd verstaan (26 Nov 2023) waarin Amos van der Westhuizen hierop reageer.

*******

BRIEF | Gelowiges moet lig loop vir dié wet | Rapport

Rapport, Sondag, 12 November 2023

Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein, skryf:

Word godsdiensvryheid nie in die gedrang gebring deur die haatspraak­wetgewing wat vroeër vanjaar aanvaar is nie? Parlementêre komitee het besware teen die beoogde wetgewing aangehoor, maar bitter min is gehandhaaf. Volgens Dakalo Singo, direkteur en hoof van Pro Bono Practice, word met die term “haatspraak” in die algemeen verstaan dat dit geld vir enige persoon wat doelbewus ‘n oortuiging propageer op ‘n wyse wat volgens algemene opvatting die uitdruklike bedoeling het om iemand te beledig of seer te maak.

Wanneer persoonlike oortuigings nie uit male fides (slegte bedoelinge) gebore is nie, maar in diepgewortelde geloofsoortuiging begrond is, is dit ‘n kwelvraag of ‘n hofuitspraak ‘n gelowige of die kerk en predikante aan haatspraak skuldig kan bevind. Het ‘n gelowige nie die reg van gewetensvryheid, wat deur die Grondwet beskerm word, om die beginsels van daardie geloof, op grond van Skrifbeginsels en die besluit van die meerdere vergaderings, te bely nie?

Kommentaar oor die wetgewing het uitgewys dat die term “haatspraak” hopeloos te wyd gedefinieer is. Dit lei daartoe dat ‘n hof die term “haatspraak” na willekeur kan toepas. Die praktyk het dit reeds bewys. Om die ou landsvlag te vertoon, is deur ‘n hof as haat­spraak uitgewys, terwyl die sing van “Kill the boer, kill the farmer” nie as haatspraak veroordeel is nie.

Dit bring Christene voor ‘n nuwe uitdaging. “Wees versigtig wat jy sê,” moet as goue reël geld. Let veral op die motivering vir die uitspraak wat jy maak. As ‘n oortuiging op grond van die Skrif gemaak word, kan dit tog kwalik as haat­spraak beoordeel word, omdat dit die beginsel van godsdiensvryheid direk weerspreek. Die geloof moet immers op die Skrif en nie op persoonlike oortuigings nie, begrond word. Bewoording moet met versigtigheid gekies word en enige suggestie van kwade gesindheid moet vermy word. Dit is in elk geval wat die Bybel leer (Jak. 3:8).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui