Die moderatuur van die Algemene Sinode is besig om gemeentes te mislei

Kyk ook:

Die outeur van volgende skrywe is Pieter (PJG) Prinsloo. Hy is predikant van NG gemeente Kroonstad-Wes. Hierdie het ook verskyn as ’n stemboodskap op Whatsapp. Hier is nog van sy stemboodskappe:

2. Moenie mislei word om ruimte te maak vir vals evangelie nie
3. Die NG Kerk het nie meer een belydenisgrondslag nie

*********

Die moderatuur van die Algemene Sinode is besig om gemeentes te mislei

Hulle weier om te erken dat die Algemene Sinode ’n besluit geneem het wat hulle nie mag neem nie. Die Algemene Sinode het kerkordelik nie die reg/bevoegdheid om ruimte aan gemeentes te gee om elkeen sy eie besluit oor kwessies soos homoseksuele verbintenisse te gee nie. Kom ek verduidelik:

Dit kan vergelyk word met ons regering wat ’n besluit sou neem om die land se grondwet te ignoreer; ons regering sou byvoorbeeld heeltemal buite hulle grondwetlike reg/bevoegdheid optree indien hulle op ’n dag die volgende besluit in die openbaar sou afkondig[1]:

‘Ons as regering besef Suid-Afrikaners het gekom by ’n vasgelooptheid rondom die grondkwessie. Die regering erken dat daar landsburgers is wat nie hulle weg oopsien om grond te beset nie. Die regering erken dat daar landsburgers is wat wel hulle weg oopsien om grond te beset. Die regering wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die regering bely egter dat die eenheid van die land gefundeer is in ons eenheid as reënboognasie en ons grondwet. Hierdie eenheid verbrokkel nie wanneer daar oor grondkwessies verskil word nie.’

Dit sou tog belaglik wees om te dink dat die regering grondwetlik kan wegkom met so ’n mooiklinkende stuk misleiding, waarin hulle ruimte skep vir grondvergrype. Waarom dink mense dan dat die AS kan wegkom met die mooiklinkende stuk misleiding waarin hulle ruimte skep vir selfdegeslagverbintenisse?

Lees gerus Kerkorde artikel 1 waarin die “grondwet van die NGK” beskryf word: Die NGK staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

In artikel 6 van die NGK se kerkordelike grondwet staan daar daarom die volgende oor die leraars van die NGK:

Vir die toelating tot die bediening van die Woord word vereis dat persone ’n legitimasieverklaring onderteken waarin hulle verbind word tot die belydenisgrondslag van die NGK.

Laastens moet ons daarom nadink oor wat die kerkorde/grondwet van die NGK leer oor die mag/bevoegdheid van die AS. Kan die AS ruimte skep vir alle gemeentes om volgens hulle eie oortuiging op te tree? Nee, beslis nie as daardie oortuigings bots met die belydenisgrondslag van die NGK nie. Hoor gerus watter bevoegdheid die AS het volgens Artikel 43.1: Tot die taak van die AS behoort: 43.1.1 dit wat uitdrukking gee aan die Kerk se gemeenskaplike identiteit in terme van Woord, Belydenis, Kerkorde, roeping en beleid.

Maar jy wonder dalk: Wat sou ’n besluit wees wat uitdrukking gee aan die Kerk se gemeenskaplike identiteit in terme van Woord en belydenis? Die antwoord is baie eenvoudig: Die boodskap van die Skrif, soos dit duidelik in ons belydenisskrifte saamgevat word, is dat selfdegeslagverhoudinge sonde is. Die AS moet daarom uitdrukkig gee aan ons belydenisgrondslag wat bely dat selfdegeslagverhoudings sonde is. In minstens drie gravamens wat in die agendas van AS 2016 en 2019 was, toon ek, Pieter Prinsloo van Kroonstad-Wes, asook Chris van Wyk, asook Helgard van Rensburg en Theo Danzfuss aan  dat ons belydenisgrondslag selfdegeslagverhoudings as sonde bely. Die gravamens motiveer breedvoerig hoe ’n besluit om ruimte te gee aan selfdegeslagverhoudings ruimte sou wees aan ’n valse evangelie wat heeltemal in weerspreking van ons belydenisskrifte is.

Die Moderamen van die AS mislei daarom gemeentes met hulle mooiklinkende bewerings dat die AS nie kies vir of teen selfdegeslagverhoudings nie, maar ruimte gee aan gemeentes om self daaroor te besluit. Die AS het nie die reg om ruimtes te skep wat bots met die kerkordelike ooreengekome belydenisgrondslag van die NGK nie. Die ASM weier egter hardnekkig om te erken dat hulle Skriftuurlik, belydenismatig en kerkordelik nie die reg gehad het om te besluit wat in 2019 besluit is nie. Hulle sal dit ook nie toekomstig erken nie, want dit is ’n ongemaklike waarheid wat nie hulle narratief pas nie.

Wat staan gelowiges nou te doen? Daar is ’n paar opsies: Die AS sal soos die regering deur ’n hof gedwing kan word om te besluit volgens die Kerk se ‘grondwet’. Dit is ’n slagveldmoontlikheid. Nog ’n moontlikheid is dat Streeksinodes bande sal losmaak met hierdie AS wat volhard in hulle misleidende optree, en weier om besluite te neem ooreenkomstig die belydenisgrondslag van die NGK.

Voetnotas

[1] vergelyk die ooreenkomste in hierdie bewoording met die 2019 besluit se bewoording

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui