Moenie mislei word om ruimte te maak vir vals evangelie nie

Kyk ook:

Die outeur van volgende skrywe is Pieter (PJG) Prinsloo. Hy is predikant van NG gemeente Kroonstad-Wes. Hierdie het ook verskyn as ’n tweede stemboodskap op Whatsapp. Vir sy ander stemopnames, kyk:

1. Die moderatuur van die Algemene Sinode is besig om gemeentes te mislei
3. Die NG Kerk het nie meer een belydenisgrondslag nie

**********

In HIERDIE OPNAME VERDUIDELIK EK DAT GEMEENTES NIE MISLEI MOET WORD OM RUIMTE VIR ‘N VALSE EVANGELIE BINNE DIE NGK TE AANVAAR, SOOS DIE MODERATUUR VAN DIE AS PLEIT NIE

Die vals evangelie, wat ruimte soek vir SGV,  verstaan God se wil verkeerd oor onder andere die volgende ses sake:

  • Die Natuur van die mens
  • Genade
  • Die Genadeverbond
  • Liefde en die wet
  • Bekering
  • Skrif en Openbaring

Hulle leer die volgende oor hierdie ses sake:

NATUUR VAN DIE MENS: Hulle glo die mens se aangebore natuur, insluitende seksuele oriëntasie, is ’n gawe van God en daarom moet mense met ’n homosekuele oriëntasie aanvaar word net soos hulle is.

GENADE: Genade is dat God mense aanvaar soos hulle is en nie diskrimineer teen mense wat leef in homoseksuele verhoudinge nie.

GENADEVERBOND: Alle mense is ingesluit in die genadeverbond in Christus.

LIEFDE EN DIE WET: Liefde is die enigste blywende gebod, en liefde word definieer deur die tydsgees. Gehoorsame liefde aan God kan daarom ook in homoseksuele verhoudings sigbaar wees.

BEKERING: Hulle verkies om nie die fokus op bekering te laat val nie

DIE SKRIF EN OPENBARING: Baie van hulle glo dat die Bybel ’n tydgebonde boek is, uitgedink deur mense Baie glo dus dat die Bybel daarom net tydgebonde wette het wat nie vandag meer geldig is nie. Al wat belangrik is, is om in liefde op te tree soos die tydsgees dit vereis, en dat ons daarom maar stamelend moet praat oor die onbekende God en Sy wil omdat ons nie veel weet van Hom nie.

KOM ONS KYK NOU NA SGV IN DIE LIG VAN DIE WARE EVANGELIE SOOS BELY IN DIE NGK SE BELYDENISSKRIFTE.

NATUUR VAN DIE MENS: Die mens se aangebore natuur is die gevolg van die mag van sonde wat alle mense beheers; dit is beslis nie ’n gawe van God nie. Daarom moet mense met ’n homosekuele oriëntasie, net soos alle ander mense met sondige, aangebore neigings geleer word dat alle mense onder die oordeel van God staan. Ons bely in die DL: “Alle mense word in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die weergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.”

GENADE: Genade is nie dat God ons aanvaar soos ons is nie. In HK vraag 10 -18 bely ons dat ’n regverdige God wat toornig is oor sonde en dit moet straf , Sy Seun in hulle plek straf. Genade is veel anders as dat God mense bloot aanvaar soos hulle is; genade is dat God sy uitverkorenes wat in sonde gebore is, saam met Christus laat weergebore word tot ’n nuwe lewe vir God, deur die kragtige werk van die Heilige Gees. (In die DL bely ons  dat genade behels dat die Heilige Gees die weergeboorte skenk” aan mens wat met ’n sondige natuur gebore is. Die Kategismus bespreek hierdie weergeboorte tot ’n nuwe mens breedvoerig. (Sien ook NGB artikel 24, asook DL hoofstuk 5 oor weergeboorte). Dit is daarom ’n valse evangelie wat leer dat God mense aanvaar soos hulle is en nie teen enige mens diskrimineer nie. Die bewering is byvoorbeeld dat God mense onvoorwaardelik aanvaar net soos hulle is. Hy aanvaar dan hiervolgens, mense ongeag hulle seksuele oriëntasie, en aanvaar hulle dade sonder diskriminasie. Ons bely egter duidelik vanuit die Skrif, dat God nie bloot mense aanvaar soos hulle is nie, maar dat daar mense is wat verlore gaan onder God se oordeel of “diskriminasie” (sien bv HK vraag 20, NGB 37).

GENADEVERBOND:  Die vals leraars leer “… dat alle mense ingesluit is in God se genadeverbond.”

In die DL bely ons egter: “Ons verwerp die dwaling van hulle wat leer: Alle mense is in die staat van die versoening en in die genade van die verbond opgeneem, sodat niemand vanweë die erfsonde aan die verdoemenis skuldig is of verdoem moet word nie, maar dat alle mense van hierdie sondeskuld vry is. Die Sinode leer: Hierdie mening is in stryd met die Skrif wat verklaar dat ons van nature kinders van die toorn is (Ef 2:3).” (DL; hoofstuk 2 – verwerping van die dwalings, punt 5).

LIEFDE EN DIE WET: Liefde vervang nie die ander gebooie soos beweer word deur diegene wat ’n valse evangelie verkondig nie. Boonop word liefde nie definieer deur die tydsgees nie. Liefde het nie die ander gebooie vervang nie, maar die woord liefde is ’n samevatting van die ander gebooie volgens die Bybel (sien daarom HK vraag 4). Daarom bely ons ook uitvoerig in die Kategismus (HK vraag 92 – 115 oor die tien gebooie) hoe wedergeborenes in dankbare onvolmaaktheid “met ’n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe” (sien HK vraag 114 -115). Ons bely wel in NGB 25 dat die seremonies dat die seremonies en heenwysings van die wet met die koms van Christus opgehou het”…  (NGB artikel 25).

Gehoorsame liefde aan God kan daarom ook nie in homoseksuele verhoudings sigbaar wees nie, want dit breek die sewende gebod oor die eg.

BEKERING: Bekering is die gevolg van die Heilige Gees se werking. Bekering is om nie langer volgens jou sondige, aangebore natuur op te tree nie, maar om daagliks te onthou dat God ons in Christus wedergebore laat word het sodat ons in Christus die lewe van die nuwe mens moet leef (sien HK vraag 88 – 91), “sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons ná hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik” (sien HK vraag 115).  Bekering is daarom om jou aangebore, vleeslike natuur met sy neigings (soos homoseksuele neigings) daagliks te kruisig, en as wedergeborene daarna te jaag om vernuwe te word na die beeld van God.

DIE SKRIF: Die Skrif is beslis nie tydgebonde menslike woorde oor God nie, maar God se Woord wat tot ons kom deur openbaring áán, en inspirasie ván menslike skrywers. (Sien gerus NGB artikel 7). Ons verwerp daarom die lering dat die Bybel tydgebonde is. Natuurlik glo ons dat die tydlose lering oor God se Koninkryk, versigtig nagespeur moet word binne die konteks van die Goddelike Woord se tydsbetrokke genres en gerigtheid aan spesifieke eerste lesers.

HIERDIE OPSOMMING TOON DAT DIEGENE WAT RUIMTE SOEK VIR DIE ERKENNING VAN SGV IN DIE NGK, TEN DIEPSTE VRA VIR RUIMTE OM ‘N VALSE EVANGELIE IN DIE NGK TE AANVAAR, WAT BOTS MET DIE WARE EVANGELIE SOOS IN DIE NGK SE BELYDENIS SAAMGEVAT.

1 thought on “Moenie mislei word om ruimte te maak vir vals evangelie nie”

  1. Sal baie graag die redes wou hoor waarom 25% NG kerk lidmate die kerk verlaat het.
    Kerk dwaal. Dis ’n feit. Een of ander gees het hier ingevaar en die mense (wat nie uitstap nie) verblind. Ek het reeds die NG kerk met my 4 kindertjies verlaat in 1983 – blyk dit was die regte besluit.
    Kom ek sê dit reguit: NG Kerk bring nooit ’n BOODSKAP OOR SONDEBESEF nie, SONDEBELYDENIS, sonde kan nie in die Hemel ingaan nie. Bekering. Wedergeboorte. Regverdigmaking. Heiligmaking. Wat word in kweekskole geleer deesdae?? Ek besoek soms NG kerke en die boodskappe is totaal KRAGTELOOS. Die banke word al hoe leer.
    Julle ontsondig sonde. Julle verkondig ’n liberale teologie. Jul dwaling is grensloos! Lank nie meer die kerk van my grootword jare nie. Ek hoop die ander 75% stap ook uit. Sodat hierdie kerk tot sy sinne kan kom!
    Raak sommer ook ontslae van die vrymesselaars, die obelisks, die pagan tekens oral op kerkgeboue. Dis ’n gruwel in God se oë. Mense, word asb wakker — Kom uit Babel uit en weg van haar afgodery. Google vrymesselary in die NG kerke – van die begin tot nou – dan weet ons hoekom die kerk doodloop en SA so lyk.
    Agv SONDE. Onbekeerde, onbelyde sonde.
    Gooi die juk van julle af van tradisies en dogma. Daar is ’n hel al ontken die NG kerk dit. Die Bybel is waar al ontken die NG kerk dit. Ons is almal op pad hel toe tensy ons wedergebore word. Die Ng kerk verkondig nie die ware evangelie nie. Die kerk faal die lidmate. Daarom val die getalle. Die kerk, sy dwalende sinode, is nie belangrik nie- die mense siele is hier belangrik wat mislei word en verlore kan gaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui