Belhar: Waaroor presies moet NG Kerk stem?

Kyk ook:

Piet Strauss het die volgende artikel geskryf in Netwerk24. Hiermee bevestig hy dat die rede hoekom Belhar op die tafel is, om eenheid met die VGK te bewerkstellig.

************

Belhar: Waaroor presies moet NG Kerk stem?

Dinsdag 30 September 2014 03:00

Waaroor gaan die stemmery oor die Belhar-belydenis waaraan kerkrade en gemeentes van die NG Kerk voor einde vanjaar moet deelneem? En waaroor gaan dit nie? Piet Strauss gee ’n uiteensetting.

Die kerkrade en gemeentes van die NG Kerk moet voor die einde van die jaar stem oor ’n nuwe artikel 1 van die Kerkorde soos voorgestel deur die Algemene Sinode. Hierdie artikel gaan oor die belydenisgrondslag of diepste identiteit van die NG Kerk.

Die voorstel spruit daaruit dat die Belydenis van Belhar op aandrang van die Verenigende Gereformeerde Kerk nou langer as 20 jaar op die tafel van die NG Kerk lê. Vir VGK as ’n jonger kerk in die NG familie is dit die uitdrukking van hul identiteit. En juis omdat die belydenisskrifte van die kerk as ’n reaksie op wat die Bybel oor sekere kernsake van ons verhouding met die Here sê, die lidmate bind, moet kerkrade en gemeentes ook in die saak geken word.

Die Algemene Sinode van 2013 het die voorstel wat al van die sinode van Hartenbos in 2004 kom, opnuut gewysig en feitlik eenparig aanvaar.

Duidelikheidshalwe eers waaroor nié gestem word nie.

* Die stemming gaan nie oor die inhoud van Belhar nie, maar oor hoe Belhar in die NG Kerk hanteer moet word; oor ’n praktiese maatreël om die sterk stemme in die kerk daarvoor en daarteen te hoor en formeel te erken; om aan albei ruimte te gee omdat albei ’n gerekende groep in die NG Kerk is.

Die voorstel wil die huidige situasie in die NG Kerk met ’n artikel in die kerkorde wettig. Belhar moet nie die NG Kerk skeur nie. Dit sou in stryd met Belhar self oor die eenheid van die kerk wees.

* Die stemming verander niks aan die huidige 6 belydenisskrifte en die wyse van hul aanvaarding in die NG Kerk nie. Ons aanvaar hulle steeds as in ooreenstemming van die Bybel. Die argument dat as jy oor Belhar ’n keuse het of as dit opsioneel is, al die belydenisse van die NG Kerk opsioneel word, is nie waar nie. Lees die voorstel. Die hantering van die huidige 6 belydenisse is regtig nie op die tafel nie.

* Die argument dat Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk word, of jy nou daarvoor of daarteen is, hou ook nie rekening met die voorstel nie. Die voorstel lui dat Belhar in die belydenisgrondslag van die NG Kerk ingetrek word “op so ’n wyse” sodat dié wat wil, dit kan onderskryf en dié wat dit nie as belydenis onderskryf nie, die vryheid daartoe het. Vir hulle is dit nie ’n belydenis nie.

Die voorstel wil help dat ons Belhar hanteer en vorentoe gaan. Die saak sal natuurlik met die NG familie uitgepraat moet word. Uit daardie oord het ons reeds van stemme verneem dat die huidige stemproses as ’n proses van die NG Kerk gerespekteer moet word. Die saak sal nie net met die VGKSA nie, maar ook met die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa deurgepraat moet word.

Die saak sal ook aan die ander Afrikaanse Kerke oorgedra moet word. Behalwe in die VGKSA, is Belhar nie in al hierdie kerke aanvaarbaar nie.

Waaroor stem die kerkrade en gemeentes?

Die stemming gaan oor die voorstel wat beteken:

  • Die bestaande belydenisse word nie geraak nie.
  • Belhar word op só ’n wyse aanvaar dat dié wat dit as belydenis aanvaar, dit kan doen en dié wat dit nie as belydenis aanvaar nie, dit ook kan doen.
  • Die laaste puntjie in die voorstel lui dat daar by die aanvaarding van nuwe belydenisskrifte – anders as die huidige ses wat nie geraak word nie – geen dwang sal wees nie. Nie eens van my eie kerkraad of sinode nie.

Prof. Piet Strauss, ’n voormalige Vrystaatse moderator van die NG Kerk, is ’n professor in kerkreg aan die Universiteit van die Vrystaat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui