NG Kerk: Wat kom eerste, die HOENDER of die EIER?

Die NG Kerk: Wat kom eerste, die HOENDER of die EIER?

Arnold Griesel

15 Mei 2025

In ʼn dieper metaforiese betekenis handel hierdie vraag oor oorsaak en gevolg van die Christelike geloof. Elke oorsaak het ʼn gevolg. Vir die behoudende hou die keuse tussen die hoender en die eier ewigheidsimplikasies in. Waarom so?

Vir die gereformeerde gelowige kom die oorsprong, die oorsaaklike van sy/haar geloof eerste. Die fundamentele geloofswaardes is geanker in die Bybel en ons geloofsbelydenisse. Hierdie norm van die gereformeerde geloof hou ewigheidswaardes in – dit is onveranderbaar en bevestig wat was, wat is, en wat kom. Semper reformanda (voordurend reformerend) secundum verbum Dei (in ooreenstemming met die woord van God).

In Gen. 1:24 beveel God: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, volgens hulle soort: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte”…. so, vereenvoudigend en simbolies kom die hoender vir die protestantse gelowige eerste.

Vir die vrysinnige, “ruim huis” gelowiges kom die eier eerste. Die “ruim huis” teologie het duidelik nog nie ʼn wasdom bereik nie, is ontwikkelend, en hoe die voltooide huis uiteindelik gaan wees, is onseker. Soos Richard Dawkins dit gestel het: “Die hoender is maar net die eier se manier om nog ʼn eier te maak.” Na jarelange studie van die evolusieleer, kom hy tot die gevolgtrekking dat, as dit by hoenders kom, is dit beslis die eier wat eerste kom. Lank voor daar hoenders was, was daar immers alreeds eierlêende dinosourusse waaruit voëls en hoenders geëvolueer het deur middel van DNS-mutasies. Die moontlikhede is legio – daar kan visse, voëls, slange, reptiele, motte ensovoorts uitbroei – gee net genoeg tyd.

Wat is die gevolge?  Wat kom eerste, geloofskeuring of kerkskeuring? Vir die regsinnige gelowige is die “ruim huis” teologie geloofskeuring, aanleidend tot kerkskeuring binne kerkverband. Die verwagting dat die “hoenderhen” (vaste universele aanvaarde normatief van die gereformeerde Christelike geloof) altyd as rigsnoer deur die NGK gehoorsaam en eerbiedig sou word en die opdrag om die evangelie te verkondig en dissipels te maak (hoenderkuikens as vrug van die geloof) is in skerwe.

Vir die vrysinnige groepering is dit in analogie van Dawkins maar net ʼn manier om ʼn geloof verskuiwing te maak. Dit word semper reformanda sonder die gereformeerde kwalifikasie secundum verbum Dei geloods. Die kuikens—die eindpunt van die “ruim huis” geloof—is nog in mutasie en ongedefinieerd. Dit mag in die toekoms gevind word by ʼn plek waarna menige vrysinniges reeds verlangend op reis is met legio alternatiewe spesies kuikens (uitkomstes) – waar die saaier wat gemaai is ontvang.

Twee duidelik identifiseerbare politiserende geloofoortuigings binne een kerkverband het ontstaan – een geanker op ʼn vaste protestantse Christelike normatief (gedifferensieerd van ander gelowe), die ander ʼn diverse vloeibare en veranderende “ruim huis” geloof.

Dit het die regsinnige genoop tot diepe geloofbesinning. Ingesluit die losgemaakte Sinode van Namibië, is daar reeds 58 gemeentes wat by gebrek in eenheid van geloof ontrek het uit die NGK.

Waaroor besin die NGK tans? Oor die behoud van ʼn kerkverband of oor die evangelieboodskap?  Gaan dit oor teologie en Skrifbeskouing, of oor kerkreg en eiendomme? Is daar wel welwillende ruimte teenoor regsinnige gelowiges om hulle primêr vry te maak om te fokus op volharding en gehoorsaamheid aan die ware kerk se roeping om die evangelie te verkondig en dissipels te maak? Of hoe om regsinniges met die kerkorde gevange te hou?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui