Vrae oor ASM se besluit oor formulier

*******

Vrae oor ASM se besluit oor formulier | Kerkbode

Kerkbode

21 September 2022

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Wie sou ooit kon dink dat daar ’n dag sal kom dat ek en dr Gaum oor iets kan saamstem? Ek verwys na sy brief in Kerkbode: “Onderskeid tussen ‘prinsipiële’ en ‘proses’-besluit, nie geldig. In 2019 het die AS opdrag gegee om ’n formulier op te stel vir die kerklike bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Volgens ’n berig in Kerkbode het die ASM nou skielik besluit om nie hierdie opdrag uit te voer nie aangesien die besluite oor selfdegeslagverbintenisse (SGV) volgens hulle nie prinsipiële besluite was nie, maar slegs prosesbesluite. Ds Nelis Janse van Rensburg bevestig dit: “as die kerk nie ’n prinsipiële besluit (oor SGV) geneem het nie, kan die ASM nie voortgaan en … ’n formulier skryf nie.”

Teenoor hierdie siening maak dr Gaum tereg ernstig beswaar. Hy verwerp die ASM se verskoning “met absolute verslaendheid – eintlik verbystering” as “’n wonderlike nuwe onderskeiding wat die ASM na drie jaar uitgedink het … So word van ’n … lastige besluit van die Algemene Sinode ontslae geraak.” en “Die ASM loop myns insiens op baie dun ys met hulle onderskeiding tussen soorte besluite en die nie-uitvoering van duidelike opdragte …”

Tot hier stem ons saam met dr Gaum, al is dit oor totaal ander redes. Ongelukkig slaan hy self die bal mis in sy verdere verwysing na die hofsaak. Ruimte ontbreek om nou daarop te antwoord. Ons verwerp egter ook die ASM se beweerde besluit omrede:

  • Dit oneerbaar is om op so ’n wyse van die AS se “lastige besluit” ontslae te raak.
  • Hulle vinnig was om leraars by Binnelandse Sake te registreer om burgerlike verbintenisse te bevestig, maar na drie jaar nog steeds nie ’n Bybels-gefundeerde formulier daarvoor kon vind nie.
  • Die AS se notules geen bewys lewer van die bewering dat ons die SGV-besluite slegs as prosesbesluite moet verstaan nie.
  • Die AS se 2019-persverklaring juis die teendeel sê: “Na ’n lang en moeisame proses van studie, gesprek, luister en onderskeiding het die Sinode nou die volgende besluit oor selfdegeslagverhoudinge geneem …”
  • Dieselfde sinode besluit het dat dit: “… die boodskap is wat die Algemene Sinode aan die wêreld bekend sal maak …” Wie maak nou blote prosesbesluite met soveel oortuiging aan die wêreld bekend?

Nee, agbare ASM, Spreuke 10:10 sê: “Wie sy oë sluit vir die waarheid veroorsaak smart …” Verstaan u nou waarom soveel gemeentes in smart doleer oor die werkwyse in ons geliefde NG Kerk?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui