Geen formulier vir gay-huwelike ‘is tree terug’ vir NG Kerk

Kyk ook Vra nuwe verbintenis vir pare (Adv. Hein Van Der Walt, 8 Okt 2022) wat in reaksie hierop geskryf is.

*******

Geen formulier vir gay-huwelike ‘is tree terug’ vir NG Kerk | Netwerk24

Isabel Venter

22 September 2022

Die besluit van die NG Kerk om nie ’n formulier vir selfdegeslagverbintenisse saam te stel nie, “is ’n tree agteruit”, meen dr. Frits Gaum, voormalige skriba van die NG Kerk se algemene sinode.

Elke individuele kerkraad sal dus self kan besluit hoe hulle gay-huwelike wil hanteer.

Die algemene sinode se moderamen (sinodale dagbestuur) het in Mei vanjaar op ’n vergadering in Johannesburg daarteen besluit dat so ’n formulier spesifiek vir selfdegeslagverbintenisse saamgestel word.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het vroeër aan Arisa Schamrel gesê die kerk onderskei tussen ’n huweliksformulier en ’n formulier vir selfdegeslagverbintenisse. Die huweliksformulier verwys spesifiek na ’n verbintenis “tussen een man en een vrou”.

Selfdegeslagverbintenisse geskied nie kragtens die Huwelikswet (wet 25 van 1961) nie, maar kragtens die Wet op Burgerlike Verbintenisse (wet 17 van 2006). ’n Selfdegeslagverbintenis kan net voltrek word deur ’n predikant wat by die departement van binnelandse sake om magtiging aansoek gedoen het.

Die kerk se taakspan vir leer en aktuele sake is daarom sowat ’n jaar gelede gevra om ondersoek in te stel na die opstel van ’n nuwe formulier spesifiek vir selfdegeslagverbintenisse, wat aan die moderamen voorgelê sou word.

Maar op die Mei-vergadering het die moderamen besluit ’n nuwe formulier kan nie opgestel word nie “aangesien die algemene sinode nie ’n prinsipiële besluit ten gunste van selfdegeslagverhoudings geneem het waarop so ’n formulier geskoei kan word nie”.

Selfdegeslagverbintenisse is al jare lank ’n warm patat vir die NG Kerk. Die algemene sinode het in 2015 besluit dat gemeentes self kan besluit of hulle huwelike tussen gay mense gaan toelaat. Op ’n buitengewone sinode in 2016 is hierdie besluit tersyde gestel.

Die saak het hierna in die hooggeregshof in Pretoria gedraai waar die hof beslis het die 2016-besluit is ongeldig omdat die NG Kerk nie by sy eie reëls gehou het toe die nuwe besluit geneem is nie en omdat die 2016-besluit ook gay lidmate se reg op vryheid van geloof, gelykheid en privaatheid vertrap.

In 2019 het die algemene sinode weer ’n besluit aanvaar waarvolgens daar “ruimte is vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag”.

Vanuit die 2019-standpunt beskou, is die moderamen se besluit in Mei “ ’n tree terug”, meen Gaum.

“Daar is mos ’n besluit geneem om ruimte te skep, so dit is wat nou moet gebeur, nie om een ding wat jy besluit het nié uit te voer en te dink jy los hierdeur enigiets op nie.”

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Kairos Netwerk, wat behoudende NG Kerk-lidmate verteenwoordig, meen die moderamen se besluit wys hy is nie daartoe in staat om ’n Bybels-gefundeerde formulier vir selfdegeslagverbintenisse op te stel nie.

“Kairos Netwerk wys lidmate op die ware rede wat Skrifgetroue lidmate lankal weet, naamlik dat dit onmoontlik is om ’n Bybelse formulier op te stel vir bevestiging van ’n sondige, on-Bybelse verhouding,” het Knoetze Dinsdag gesê.

Hy meen ook dit is “oneerbaar” van die moderamen om op hierdie wyse ontslae te raak van die algemene sinode se “lastige besluit”.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, bevestig die moderamen kon nie ’n besluit neem oor die formulier nie omdat die algemene sinode nie ’n beginsel-besluit oor selfdegeslagverbintenisse geneem het nie.

Die algemene sinode het ook nie vir of teen selfdegeslagverbintenisse besluit nie. “Dit is ’n deurlopende gesprek wat die kerk het . . . en daar sal nog baie gesprekke hieroor wees,” het Janse van Rensburg Woensdag gesê.

Die algemene sinode se advies aan kerkrade wanneer hulle ’n besluit oor dié kwessie moet neem, is om eerder te kyk na die persoon se toewyding aan die Here as na eienskappe soos byvoorbeeld ras, geslag of seksuele oriëntasie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui