Tussen angs en sekerheid (Ferdinand Deist)

Inligting

  • Titel: Tussen angs en sekerheid
  • Subtitel: Gedagtes rondom gebed
  • Eerste uitgawe: 1978
  • Vyfde druk: 1984
  • Eerste uitgawe in nuwe formaat: 2007
  • ISBN: 978-0-7963-0553-4
  • Uitgewer: Lux Verbi.BM

Toekennings

Die heel eerste Andew Murrayprys word aan hierdie boek toegeken in 1980.

Resensies

In Resensie: Tussen Angs en Sekerheid – Gedagtes rondom gebed, word die volgende gesê:

Niemand sal ooit weer dieselfde na gebed, in die trandisionele sin van die woord, kyk nadat hy hierdie boek gelees het nie. … Deist vertel hoe hy dit bevrydend ervaar het toe hy een maal gelees het van ’n prominente teoloog wat nie meer sin in gebed gevind het nie. Hy het self reeds as teologiestudent oor die sin van gebed begin worstel. … “Dis nie dat ek nie meer in gebed geglo het nie. Ek het. Maar ek kon nie bid nie.” … Hy sê die boek is bedoel vir mense wat nie kan bid nie, al wil hulle ook.

Aanhalings

Die volgende is ’n paar aanhalings uit die boek:

Dit is swaar om met ’n skuldbewussyn saam te leef. Dit is seker daarom dat ’n mens enigiets wat jou van ’n skuldbewussyn onthef — of wat dit net vir jou draagliker maar – as’n bevryding ervaar.

In my studentetyd het ek êrens van ’n prominente teoloog gelees wat in sy studentejare die bidure van sy medestudente nie meer sinvol kon meemaak nie. Wie die teoloog was en waar ek dit gelees het, kan ek nie meer onthou nie. Wat die teoloog se oplossing vir die probleem was en of hy `n oplossing gehad het, weet ek ook nie meer nie. Wat ek wel weet, is dat ek daardie mededeling as ’n bevryding ervaar het. Dit was genoeg om te weet dat daar êrens nog iemand op die aarde was wat ook probleme gehad het met gebed.

Dis nie dat ek nie meer in gebed geglo het nie. Dit wel. Maar ek kón nie bid nie. Die bidure het ek bygewoon, maar die sin daarvan het vir my al hoe duisterder geword. Jy kan jouself tog nie bedrieg nie. As jy daar opstaan om te bid, doen jy dit omdat almal dit van jou verwag. Maar self ervaar jy dit as ’n gesprek met die mure of die dak. Jy praat indie lug. Jy praat met jouself of vir die ander.

Hierdie boekie is nie bedoel vir mense wat geen probleme het met gebed nie. Dit is bedoel vir mense wat nie kan bid nie, al wil hulle ook. Vir mense wat ook die ervaring het dat hulle met die mure of die dak praat. Miskien kan ons mekaar se hande vat in ’n gesprek oor die gebed. Ons kan probeer om die oorsake vir hierdie sinlediging na te loop. Ons kan probeer om weer iets van die sinvolheid van gebed te vind. Miskien, wie weet, kan ons dan weer gebed beleef, al is dit miskien ook dan ietwat anders verstaan.

Ferdinand Deist

Herfs 1978

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui