Priesters mag nie gay-huwelike seën – Vatikaan

Priesters mag nie gay-huwelike seën – Vatikaan | Netwerk24

15 Maart 2021

Die Vatikaan het Maandag gesê dat priesters en ander predikante in die Rooms-Katolieke Kerk nie mense van dieselfde geslag wat met mekaar trou, mag seën nie.

Die kantoor by die Vatikaan wat met doktrine belas is, het die uitspraak in ’n antwoord op vrae uitgevaardig oor die neiging in sekere gemeentes om sulke seëninge toe te laat om Katolieke wat homoseksueel is by kerke te verwelkom.

Volgens die kantoor dra die antwoord pous Franciskus se goedkeuring weg. Die kantoor hou vol dat dit “nie bedoel is om ’n vorm van onregverdige diskriminasie te wees nie, maar eerder ’n herinnering aan die waarheid van die liturgiese ritueel”.

Dit lui verder dat sulke seëninge nie toelaatbaar is nie, hoewel dit “deur ’n opregte begeerte gemotiveer word om homoseksuele persone te verwelkom en by te staan” en hulle te help om in die geloof te groei.

Die kantoor het bygevoeg aangesien die huwelik tussen ’n man en vrou deel van ’n sakrament vorm en seëninge met hierdie sakrament van die huwelik verband hou, dit nie op egpare van dieselfde geslag van toepassing kan wees nie. – Reuters

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui