Ons gaan maar net eenmaal deur die lewe

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Maart 2001 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Salomo sê in Prediker 2:17: Ek het die lewe gehaat, want alles wat in hierdie wêreld gebeur, het vir my sleg afgeloop.
Dit is nie nodig dat ’n mens jou lewe moet begin haat nie. Ons lewens is ons kosbaarste besitting uit die hand van God. God wat goed is, het bedoel dat ons lewens met blydskap gevul sal wees. Blydskap kom nie deur die dinge wat met ons gebeur nie, maar deur ons uitkyk op die lewe.

Ons het maar net een lewe en ons gaan net maar eenmaal deur die lewe, daarom:

  • Gee ag op die mense wat die Here op jou pad bring. Die mense by die besighede, die parkeerareas, daar waar jy in ’n tou staan of in ’n hysbak ry. Kyk na hulle, glimlag vir hulle, gesels met hulle.
  • Gee ag op die vriende wat die Here vir jou gee. Kuier saam met hulle, eet saam met hulle, speel saam met hulle en belewe die goeie van die lewe.
  • Gee ag op die lewensmaat wat die Here vir jou gegee het. Waarom sal jy die kosbare tyd wat vir julle saam gegee is, deurbring met rusies en verwyte. Probeer by die onvolmaakthede van die teenswoordige lewe verbykyk en sien weer raak dat die Here vir jou ’n groot geskenk gegee die dag toe jy ’n maat gekry het. Waardeer jou maat.
  • Gee ag op jou kinders. Mors ’n bietjie van jou tyd in hulle teenwoordigheid. Doen lekker dinge saam. Moenie dat die kosbare tyd wat jou kinders in jou huis is verbygaan met onvergenoegdheid en ontevredenheid nie.
  • Gee ag op die plante, die diere, die son, die wind en die wolke rondom jou. Sien jy nog die kleure in die natuur rondom jou? Ruik jy nog die geure van die reën, die grond en die blomme rondom jou. Die Here gee ons elke dag ’n wonderlike sonsopkoms en ’n sonsondergang. Sien ons dit nog raak, of is ons te besig met “belangrike” dinge om te gaan kyk hoe die son ondergaan in sy glorie?
  • Gee ag op die lekker bord kos wat jy elke dag geniet. Dit is ’n gawe van die Here. Dit het ’n lang pad gekom voordat dit smaaklik in jou bord te lande gekom het. Waardeer dit.
  • Gee ag op die koninkryk van God in die wêreld. Het jy gehoor van die groot dinge wat God onder die mense doen? Miljoene ontdek Jesus as hulle Verlosser in hierdie dae. Hulle vreugde oor oor die wonderlike God wat hulle ontmoet het en hulle lewens verander het, ken geen perke nie. By die sendingweek die afgelope tyd het ons weer daarvan gehoor. Praat daaroor, bid en gee jy daarvoor. Kom loop saam in die triomftog van God deur die wêreld. As jy hiervoor gewillig is sal jy ’n nuwe lewe ingaan waarin al die bekommernisse oor nietighede nie meer vatplek op jou kry nie.

Salomo met al sy wysheid, rykdom en prestasies het as ’n onvergenoegde en ongelukkige mens gesterf. Sy lewe het vir hom ’n teleurstelling geword. God het dit nie so vir ons bedoel nie. Elkeen van ons het ’n kruis om te dra, maar die goedheid van God is groter as ons kruise. Hy het vir ons hoop gegee, ’n lewe van hoop en blydskap in Christus Jesus. Ervaar jy jou lewe so?

Met liefde en goeie wense

Jou leraar

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui