Past. Riekert kry pak oor anti-gay uitsprake

**************

Past. Riekert kry pak oor anti-gay uitsprake | Rapport

Deur Johannes de Villiers

14 Januarie 2012

Hy is waarskynlik RSG se gewildste godsdiensaanbieder, een wat met sy vriendelike stem en vrolike laggie in die hart van talle luisteraars ingekruip het.

Maar die afgelope week was die stem van past. Riekert Botha, aanbieder van Pleisters vir die siel op Saterdagoggende, veel minder vrolik.

“Sjoe, dit was nie vir my ’n lekker week nie,” het Botha gesê toe Rapport hom bel.

Dié pastoor is in die middelpunt van ’n storm nadat verskeie teoloë, predikante en ander mense geëis het dat RSG hom van die lug verwyder.

Dié kritici beskuldig Botha van fundamentalisme en haatspraak nadat hy op sy Facebook-aanhangersblad anti-gay-uitsprake gemaak het.

“Baie mense was krenkend teenoor my,” sê ’n ongelukkige Botha. “Ek het nog nooit soveel beledigings gehoor nie.”

Die storm om die Pleisters-pastoor, wat ook by die Vredendal Baptistegemeente werk en ’n paar boeke met oordenkings agter sy naam het, het opgesteek nadat hy op sy Facebook-blad geskryf het: “Dis ‘in’ om gay te wees en die Bybel as outyds te beskou … By God is ‘in’ baie, baie ‘uit’. Jy moet kies: ‘in’ by God en ‘uit’ by die mense of andersom.”

Later het Botha geskryf: “Ek glo dat homoseksualisme sonde is – soos die Skrif sê. Ek glo nie dat om iets sonde te noem, beteken om iemand te veroordeel nie.”

Talle van Botha se ondersteuners het ook die laaste paar dae anti-gay- boodskappe op dié Facebook-blad geplaas – selfs een wat homoseksualiteit ’n eienskap van die Antichris genoem het.

Botha se Facebook-aanhangersblad heet soos sy RSG-insetsel “Pleisters vir die siel”.

Een van die eerste mense wat Botha aangevat het, was die teoloog dr. Ralph Barnard, ’n voormalige RSG-aanbieder, wat wou weet: “Wat doen ’n fundamentalis soos Riekert Botha op RSG?” Volgens Barnard het hy RSG twee jaar gelede gewaarsku dat Botha voorgee om “absolute kennis” oor God te hê.

Kort daarna het onder andere Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, toegetree. Oosthuizen het gekla Botha se Facebook-blad lyk na “die Demoondoom se blad met ’n suikerstropie oor”. (Die “Demoondoom” is ’n verwysing na ds. Pieter Fourie van Krugersdorp wat verlede jaar in die nuus was oor sy Facebook-blad waar beskuldigings van sonde en duiwelbesetenheid rojaal uitgedeel is.)

Van die kritici, onder wie ’n ouer van ’n gay kind, het briewe aan RSG gestuur om te eis dat Botha van die lug verwyder word.

In ’n brief wat mnr. Cobus Fourie van die organisasie South African Gay & Lesbian Association Against Defamation aan RSG en die Uitsaaiklagtekommissie gestuur het, skryf hy dit is “bejammerenswaardig dat ’n openbaar gefinansierde radio­stasie ’n platform verskaf aan ’n persoon wat onvanpaste en onsensitiewe aanmerkings maak”.

Botha se teenwoordigheid op RSG lyk na ’n implisiete goedkeuring van sy sienings deur die radiostasie, skryf Fourie.

Botha self sê hy staan by sy sienings, maar is spyt as hy enigiemand seergemaak het. “Wat ek sê, suig ek nie uit my duim uit nie. Ek kry dit in die Bybel.”

Hy het intussen besluit om die Pleisters-Facebookblad te sluit, want hy is “verleë en besorg oor die mense in albei kampe se uitlatings en benadering”.

Een van die boodskappe wat hom die meeste ontstel het, was van iemand wat geskryf het: “Jou dae by RSG is getel, jou homofobiese idioot.” [Kommentaar: Politieke ontleder, Piet Croucamp, het ook die volgende opmerking oor Riekert gemaak op Jean Oosthuizen se facebook muur: “Ek hoop RSG raak nou ontslae van die useless, pseudo-intellektuele voorvel.”]

Ná dié boodskap het hy RSG se stasiebestuurder, me. Magdaleen Kruger, gebel om te hoor of hy nog ’n toekoms op die lug het.

Kruger het aan R apport geskryf hulle respekteer Botha se spraakvryheid. “As deel van die insetsel Pleisters vir die siel, Saterdae op Brêkfis met Derrich, het sy inhoud RSG nog geen rede gegee om op te tree nie,” sê Kruger.

2 thoughts on “Past. Riekert kry pak oor anti-gay uitsprake”

  1. Hi, ek is Mias Gryling van Nylstroom; Ek ondersteun Riekerd heel hartig oor sy siening van gay-mense rakende die tekste in die Bybel! Baie dankie HERE vir mense soos hy wat bereid is om die wereld aan te durf oor wat in sy hart die waarheid is!
    Kan julle kamstige “verligtes” nie sien wat die duiwel se plan met die Kroon van God se skepping is nie? God het Adam en Eva geskape, nie Adam and Steve nie, omdie wereld te bewoon en daaroor te heers en te vul met hulle nakomelinge!
    Adam en Steve kan nie teel nie! As almal van ons gay word sal God se skepping tot nie gaan binne etlike jare en DIT is wat die duiwel wil hê. Soos dit nou gaan is die duiwel nie ver van sy doel weg nie.
    Wees gewaarsku! 1 Kor. 1 vers 21 “ Dit was die bedoeling van God in Sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou nie.” My eie woorde , maar deur geloof in God!
    Julle “ slim mense stel die skepsel bo God die SKEPPER!

  2. (Luk 17:26-30)
    Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
    Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.

    (Luk 21:28)
    En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.

    (Jud 1:4)
    Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.

    (2Ts 2:11-13)
    En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

    (1Ti 4:1-30
    Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

    Hierdie tiepe dwaalleringe is lankal voor die deur en aktief besig om op ‘n voorbarige en aggressiewe wyse uitgevoer te word. Alhoewel die gelowiges moet waak en vermaan is, is dit tog aan die eenkant goeie nuus – Yeshuah se koms is baie naby!! – net soos die Woord dit weergee – hierdie gender groepering gaan nog baie meer astrant en militant word vorentoe – kyk maar net na die Woord.

    (Heb 6:4-6) Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui