Kuberstorm woed oor draadloos-dominee

**************

Kuberstorm woed oor draadloos-dominee | Volksblad

Deur Neels Jackson

2012-01-11 22:10

PRETORIA. – ’n Kuberstorm het losgebars om die kop van die bekende radiodominee Riekert Botha na aanleiding van sy standpunt oor homoseksualiteit.

Botha, predikant van die Vredendal-Baptistekerk, is bekend vanweë sy bydrae in die insetsel Pleisters vir die Siel Saterdagoggende oor RSG.

Hy het op sy Facebook-blad “Pleisters vir die Siel – Riekert Botha” ’n inskrywing gemaak met die strekking dat homoseksuele uit is by God, al is hulle dalk in by die wêreld.

Die ouer van ’n gay kind het dit onder die aandag gebring van mnr. Jean Oosthuizen, joernalis van Kerkbode, wat hieroor op sy en Kerkbode se Facebook-blaaie geskryf het. Dit het gelei tot heftige debatte waarin verskeie mense gevra het dat RSG Botha se bydraes beëindig.

Hy is onder meer beskuldig van fundamentalisme, dat hy die Bybel selektief lees en dat hy gays hel toe stuur.

Botha self het by navraag gesê dat hy die Bybel as die geïnspireerde Woord van God beskou wat hy “onomwonde glo”.

Hy het vrede as mense sê hy is fundamentalisties of agter die klip. Hy kan nie iets anders sê as wat hy sê nie.

Botha sê hy het eintlik net die Bybel aangehaal. Hy het niemand beledig, gesê hulle is afstootlik of dat hulle in die hel gaan brand nie. Wat hy egter nou van sy kritici kry, is presies die soort veroordeling waarvan hulle hom verwyt. “Wie is nou skuldig?” wou hy weet.

Me. Magdaleen Kruger, stasiebestuurder, is met verlof, maar het by navraag gesê sy het klagtes op haar e-pos gekry. Dit was egter nie meer as wat hulle gewoonlik kry nie.

RSG se benadering is dat mense se standpunte op Facebook hul persoonlike menings is. Die stasie respekteer mense se vryheid van spraak binne die raamwerk van die Grondwet.

Self het RSG nie standpunte oor omstrede sake soos gays, die doodstraf of aborsie nie.

Wat Botha se bydraes in Pleisters vir die Siel betref, was daar nog geen rede vir RSG om op te tree nie. Sy deelname is besonder gewild.

Die stasie het hom wel gevra om die verwysing na “Pleisters vir die Siel” en RSG van sy persoonlike Facebookblad weg te laat.

– Volksblad

Kyk ook

Kommentaar

Hierdie lyk na objektiewe beriggewing, maar is nie. Twee voorbeelde is:

  • “Hy het vrede as mense sê hy is fundamentalisties of agter die klip. Hy kan nie iets anders sê as wat hy sê nie.”: Hierdie mag moontlik waar wees, maar Riekert het dit nie self gesê nie – iemand anders het dit van hom gesê.
  • In die Beeld-berig skryf Jackson: “Botha, predikant van die Vredendal Baptistekerk, deel Saterdagoggende oor RSG “pleisters vir die siel” uit.”: Hierdie is om Riekert se bieding te verkleineer.

(Neels Jackson is ook bekend dat hy homself ook eerder by die liberales skaar as die Bybelgelowiges. Kyk bv ook Boek ‘kwaadwillig’ wat NGK kap oor Bybel.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui