Kyk ook:
- Die NGK en NHKA vra vir gesprek met GKSA (30 Jan 2026)
- CRCA breek alle bande met die NG Kerk (Mei 2022)
- Groeteboodskap van Gereformeerde Kerk aan NG Kerk AS2023
- Gereformeerde Kerke skaal bande met NG Kerk af oor vroue (11 Jan 2026, Rapport)
Francois van Deventer, GK Wonderboompoort
5 Februarie 2026
Vanoggend lees ek die brief (Elders gesien: Spanning loop hoog, maar leiers wil ‘openhartig’ gesels ná GKSA dié besluite neem op Potch – Kerkbode) wat die NGK en NHK aan die GKSA binnelandse deputate geskryf het. Die brief veronderstel dat die GKSA bande gebreek het op grond van die NGK en NHK se omarming van VIDA. Dit is egter baie ernstiger as slegs VIDA.
U sien, dit is soos wanneer ek vir u ‘n pragtige fossiel van ‘n vlinder sou wys en u dan sou probeer oortuig dat dit werklik ‘n vlinder is. U sou tog dadelik kon raaksien dat die vlinder nie meer beweeg nie. Die lewe het hierdie vlinder reeds eeue gelede verlaat. Dit is egter nie net die lewe nie, selfs die organise materiaal van die vlinder is vervang met minerale. Die vlinder is eintlik nou ‘n stuk klip wat net die vorm van die oorspronklike vlinder verteenwoordig. Dit is glad nie meer ‘n vlinder nie.
Nou, dit is presies die problem met die NGK en NHK. Hulle het fossiele geword. Daar is nie meer enige lewe in hulle nie. Hulle lyk nog soos die oorspronklike NGK en NHK van 100 jaar gelede, maar binne in is hulle nie meer dit wat die vorm verteenwoordig nie. Hulle het ‘n stuk klip geword. Selfs hulle harte het harte van klip geword. Wat bedoel ek?
In vorm bely die NHK en NHK nog steeds dat hulle vashou aan die Belydenisskrifte en die Bybel. Maar as jy vir ‘n bietjie meer detail vra, dan sien jy dat nog net die vorm oor is, die inhoud is met iets anders vervang. Vir 1700 bely Christene die Belydenis van Nicea en as ons die Evangelies lees, dan kom ons agter dat die Ou Testamentiese gelowiges dieselfde geglo het. Hierdie belydenis word net lee woorde in die monde van die gefossileerde NGK en NHK. Hulle glo ook nie die Bybel waarvan die Belydenisskrifte slegs opsommings is nie. Die gefossileerde NGK en NHK se fossielstatus word duidelik:
- Hulle sê dat Gen 1-11 ‘n mite is. Daarom is ook die verhaal van Adam en Eva en die sondeval ook ‘n mite. Hulle ontken dat God die Skepper is van hemel en aarde.
- Hulle ontken dat Christus uit ‘n maagd gebore is (evangelies)
- Hulle ontken dat Christus op die derde dag weer opgestaan het uit die dood (1 Kor 15).
- Hulle ontken dat Homoseksueles hulle moet bekeer (Rom 1)
- Hulle ontken die bestaan van die hel (Die verhaal van Lasarus)
- Hulle ontken dat die paradys van Genesis weer herstel sal word met die werklike wederkoms van Christus aan die einde van die geskiedenis (Openbaring)
- Hulle ontken dat Jesus die enigste weg en waarheid tot die lewe is (Joh 3). Daarom reel hulle intergeloofs samekomste in Hermanus en Kaapstad.
- Hulle ontken NGB Artikel 5 en 7 en daarom volg al die dwalings hier bo genoem.
Geagte broeders deputate. Dit is my bede dat u as ons Dopper verteenwoordigers, nie doekies sal omdraai met die verteenwoordigers van die NGK en NHK nie. Dat u vir hulle hard en duidelik sal verduidelik dat hulle tot bekering moet kom. Dat hulle hul fossielstatus moet ophef. Dat daar bekering moet kom sodat hulle harte van klip vervang kan word met harte van vlees. Voordat hierdie fossielstatus van die NGK en NHK nie omgekeer word nie, kan en mag daar geen band tussen ware gelowiges en hulle bestaan nie. Mag die HERE u help om getrou te getuig.
Groete
Francois van Deventer
GK Wonderboompoort
Aai toggie Francois as mens nou bly vassteek by die 1700 en die antieke gelowiges en hoe hulle die Bybel geskryf en verstaan het, dan gaan dit laat word vir die GKSA. Word wakker asb mense. Hou op met Bybelversies lees en begin logies dink.
Beste Ponkie, graag wil ek jou verseker dat ons nie “by die 1700” vasgesteek het nie, maar by eerder by 1561, 1563 en 1618/1619, waar die suiwere leer beskryf en verdedig is. Ook vir die Gereformeerdes is die gevaar om nader aan die tydsgees “van die 1700’s” (lees die Verligting) te beweeg. Ons glo dat die Skrif en Christus se prediking tydloos is, NIE gekoppel aan die denke van vandag NIE. Ons “lees nie Bybelversies nie”, eerder hoofstukke met Skrifverklarings, en “dink logies” soos Augustinus, Thomas a’ Kempis, Luther, Calvyn, Bavinck, Totius, Schilder [nie seker dat jy al van hulle almal gehoor het nie…]. Ons kan selfs leer uit gedeeltes van die skrywe van pous Benedictus XVI met sy sterk klem op … ja … ortodoksie. Na hierdie ontboeseming kan ek weer begin doen waarvan ek hou, Youtube videos oor meganika en Isaac Newton en Johannes Kepler (Oeps! Principia is in 1686 geskryf…)
Beste Simon.
Jou antwoord is presies wat ek probeer sê het. Julle steek vas by die regte datums, versies en hoofstukke in die Bybel wat sekere dinge vir ons vertel. waaruit ons kan leer. Julle steek nog vas aan die wat mense geskryf het jare gelede wat toe op hul kultuur van die tyd van toepassing was. Vir baie van hulle was die aarde nog plat, ons is op hierdie oomblik oppad maan toe. Jul houding oor vroue in die kerk, dit is julle saak, maar maak dit dan op alle gebiede van toepassing. God se woord geld tenminste oral op dieselfde manier in die kosmos. Moet asseblief dan nie luister na ‘n vrou wat ‘n President van ‘n land is nie, as jy siek is en die spesialis is ‘n vrou, moenie dat sy jou gesond maak nie, vroue in die politiek asseblief moenie luister nie, want hulle het nie die reg om ‘n leiers rol te speel nie. As jou dogter wil gaan verder leer, keer haar, sy hoort by die huis in die kombuis om koekies te bak. Jou dubbele standaarde maak nie sin nie. My oorspronklike voorstel, begin logies dink is nog steeds van toepassing. God het ons gemaakna sy beeld om te kan dink en ons verstand te kan gebruik