Dis niks anders as bedekte apartheidsteologie nie

*******

Dis niks anders as bedekte apartheidsteologie nie | Beeld

Beeld, 28 Julie 2000

NICO SMITH, Pretoria, skryf:

Wat prof. Jurie le Roux in die artikel onder die opskrif Anti-apartheidsteologie ‘uiters simplisties’ volgens Neels Jackson kwytgeraak het (Beeld, 22 Julie), kan darem waaragtig nie onbeantwoord gelaat word nie.

Besef Le Roux wat hy met sy anti-anti-apartheidsteologie te kenne gee? Niks anders nie as dat almal wat aan die stryd teen apartheid deelgeneem het om godsdienstige redes en dan veral die teoloë, ‘n spul Bybelverdraaiers was.

Hulle het eintlik niks van die Bybel verstaan nie. Inteendeel, hulle het die Bybel misbruik om apartheid wat nie sonder meer sleg en sondig was nie, af te breek. En dan spring hy op die arme Beyers Naudé af as die groot dwaalleraar wat al die ander wat met hom saamgestem het se denke verduister het.

Dit is nogal veelseggend dat Le Roux se betoog teen die anti-apartheidsteoloë sovéél ooreenstemming toon met wat die Nazi-teoloë in die destydse Nazi-Duitsland teen die anti- Nazi-teoloë van die Bekennende Kirche (Belydende Kerk) kwytgeraak het sentimentele liewe-Jesus-teologie wat hulle sou bedryf het.

Le Roux se anti-anti-apartheidsteologie is egter nie slegs geleerde versinsels om “uit” te wees nie, soos hy dit noem. As dit net dít was, kon ‘n mens dit laat verbygaan het. Maar wat hy kwytraak, is niks anders as ‘n bedekte apartheidsteologie nie.

Le Roux weet baie goed dat al wat swart teoloog was ook teen apartheid gestry het. En nou kom sê hy vir ál dié teoloë hulle het eintlik óók niks van teologie verstaan nie. Hulle het hulle aan hul neuse laat rondlei deur Beyers Naudé.

Besef Le Roux dan nie watter skade hy verhoudings op teologiese vlak deur sy standpunte aandoen nie? Blykbaar het hy nie eers aan die swart teoloë gedink nie.

Nee, ons het waaragtigwaar nie prof. Le Roux se soort standpunte in die huidige Suid- Afrikaanse situasie nodig nie. Hy moet dit tog maar asseblief vir homself hou en dit tog in Godsnaam nie as Afrikaner-teoloog op skrif stel nie.

Ons het in hierdie tyd juis vanuit die teologie versoenende standpunte nodig nie standpunte wat teologies nog steeds deurspek is van ondertone van apartheid nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui