Geloofsbelydenis van Athanasius

Geloofsbelydenis van Athanasius

Hierdie belydenis is nie deur Athanasius opgestel nie. Dit stam waarskynlik omstreeks 500 uit Spanje of Suid- Frankryk. Vir sover bekend is dit in die 13de eeu met die ander twee ekumeniese belydenisskrifte (Apostoliese Geloofsbelydenis en Geloofsbelydenis van Nicea) gelykgestel. Dit word ook die “Symbolum Quicumque” – na die eerste woorde – genoem.

  1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit voor alle dinge nodige dat hy die algemene geloof hou;
  2. Maar elkeen wat dit nie geheel en al en ongeskonde bewaar nie, sal sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is:
  3. Dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer,
  4. Sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel;
  5. Want die persoon van die Vader is ’n ander, van die Seun ’n ander (en) van die Heilige Gees ’n ander;
  6. Maar die Vader, die Seun en die Heilige Gees is één Godheid met gelyke een en mede-ewige majesteit.
  7. Hoedanig die Vader is, sodanig is ook die Seun (en) sodanig is ook die Heilige Gees:
  8. Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape (en) die Heilige Gees is ongeskape;
  9. Die Vader is onmeetlik, die Seun is onmeetlik (en) die Heilige Gees is onmeetlik;
  10. Die Vader is ewig, die Seun is ewig (en) die Heilige Gees is ewig;
  11. Nogtans is dit nie drie Ewiges nie, maar één Ewige;
  12. Net so ook nie drie Ongeskapenes of drie Oneindiges nie, maar één Ongeskape en één Oneindige;
  13. Net so is die Vader almagtig, die Seun almagtig (en) die Heilige Gees almagtig:
  14. En tog is dit nie drie Almagtiges nie, maar één Almagtige;
  15. So ook is God Vader, God is Seun en God is Heilige Gees;
  16. En tog is dit nie drie Gode nie, maar dit is éé God;
  17. Net so is die Heer Vader, die Heer Seun (en) die Heer Heilige Gees;
  18. En tog is dit nie drie Here nie, maar dit is één Heer;
  19. want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke persoon afsonderlik God en ook Heer te noem, so is dit ook die algemene geloof verbode om van drie Gode of Here te praat.
  20. Die Vader is deur niemand gemaak of geskape of verwek nie.
  21. Die Seun is deur die Vader alleen, nie gemaak of geskape nie maar verwek.
  22. Die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun, nie gemaak, geskape of verwek nie, maar Hy gaan van die Vader en die Seun uit.
  23. So is daar dan één Vader, nie drie Vaders nie, één Seun, nie drie Seuns nie, één Heilige Gees nie drie Heilige Geeste nie;
  24. en in hierdie Drievuldigheid is niks eerder of later nie en is niks meer of minder nie, maar al drie persone is onderling mede-ewig en volkome aan mekaar gelyk.
  25. só, dat in alle opsigte, soos alreeds hierbo gesê, die eenheid in die Drievuldigheid en die Drievuldigheid in die eenheid geër moet word.
  26. Daarom, wie dus salig word, moet só oor die Drievuldigheid voel.
  27. Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo. Die regte geloof is dan:
  28. dat ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus,die Seun van God, tegelyk God en mens is.
  29. Hy is God uit die substansie van die Vader, voor alle tye verwek én mens uit die substansie van sy moeder, in die tyd gebore;
  30. volkome God, volkome mens met ’n redelike siel en menslike vlees;
  31. aan die Vader gelyk na sy Godheid; minder as die Vader na sy mensheid.
  32. En alhoewel Hy God is en mens, is Hy nogtans nie twee nie, maar één in Christus;
  33. één, nie deur verandering van die Godheid in vlees nie, maar deur die aanneming van die mensheid in God;
  34. één, nie deur die vermenging van substansie nie, maar deur die eenheid van die persoon.
  35. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens één in Christus:
  36. wat gely het om ons saligheid ontwil, ter helle neergedaal het, op die derde dag weer opgestaan het uit die dode,
  37. opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en vandaar sal kom om hulle wat nog lewe én hulle wat alreeds gesterf het te oordeel;
  38. by wie se koms alle mense weer sal opstaan wat die liggaam betref en rekenskap sal gee van hulle eie werke;
  39. hulle wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar hulle wat kwaad gedoen het, in die ewige vuur.
  40. Dit dan is die algemene geloof : as iémand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig word nie.

1 thought on “Geloofsbelydenis van Athanasius”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui