Die ongewenste brief van Basjan Botha

Onderstaande brief deur ene Basjan Botha is op www.facebook.com/kerkbode geplaas, is daarna vinnig verwyder, maar sommige lesers het dit gekopieer en weer geplaas, waarna dit weer verwyder is.  Met my laaste kyk om 11:00 op 23/01/2012 is dit weer as een van die kommentare op ’n ander artikel geplaas. 
 
Die probleem is waarskynlik dat Jean Oosthuizen erg hierin aangevat word, maar die ironie is dat die tientalle ander skrywes op dieselfde NG-webblad wat God verdag maak en beledig, nie verwyder word nie.  Hoe rym dit?  Wie se eer is vir Kerkbode belangriker — die mens of God s’n? 
 
Basjan Botha se brief:
 
Op een punt moet ek egter gedeeltelik met jou saamstem, Jean Oosthuizen.
Ook ek kan helaas ‘fout vind’ met ‘die NG-kerk’.
’n Kerk, enige kerk, wat toelaat dat iemand soos jy betrokke is by ’n blad wat hul saak moet bevorder, laat – om dit sag te stel – die wenkbroue lig.
Wat gaan hier aan?
Waar is the powers to be dan?
Hoekom word hierdie man wat soveel haatspraak kwytraak hier geduld?
Haatspraak teen die kerk wat hy veronderstel is om te dien en selfs haatspraak tot in die hoogste hemele (ek sidder eintlik om dit te noem.)
Daar is geen eerbied of respek en hoegenaamd geen ‘brieke’ nie.
Wat van byvoorbeeld die onlangse artikel wat hy op die kerkbode-blad deel oor die voorhuid van Jesus en die reaksies daarop wat getuig van uiterste swak smaak.
Wat daar staan om gelees te word – op die kerkbode se webblad.
Hy is soos ’n jakkals met ’n brandende stert en hy verwoes die oeslande nét waar hy holderstebolder in sy vrees en verwarring infoeter.
Sonder dat hy gekniehalter word, of in die bek geruk word, selfs vir sy eie beswil.
Wat van sy nalopers, waaronder ’n paar predikante wat desperaat probeer om ook ‘cool’ te wees.
Wat van die sg. naamlose predikante, as hulle werklik bestaan en nie net as ’n foefie ingespan word nie?
Hoe moet dit wees vir hierdie ouens se gemeentelede om na hul dienste te luister?
Om by hulle troos te gaan soek?
Hoe lei hulle as herders die skape wat aan hul toevertrou is, op die weg tot saligheid?
Is daar nie ’n ‘ombudsman’ by wie ’n mens kan gaan kla nie?
WAT gaan inderdaad hier aan?
Is dit ’n geval van: ons wil tog net nie ‘stir’ nie?
Want netnou word ons dalk as fffundamentaliste uitgeskel en dis ’n fffreeslike ffflippen fffloekwoord.
Daarom buig ons agteroor om hom en die wat agter hom aanpraat te akkommodeer?
Want hy het after all ’n finger in the ‘paai’.
Boekblik en Griffel wat die ‘kuns’tydskrif Pomp verkoop én Hier staan ek én ’n mens kan sommer ook The Cookie Book via die Kerkbode koop.
Slaat my om . . .
 
Diegene wat hul plig hier versuim, kan bevraagteken word, maar natuurlik kan ’n mens nou nie almal wat ’n verbintenis met die NGK het, ‘saam met die vuil badwater’ uitgooi nie.
Dit sou eenvoudig dom wees.
Daar is genadiglik nog wedergebore predikante in die NG-Kerk te vinde. En lidmate wat diep teleurgesteld en seergemaak word deur die stormwinde (ill winds) van verandering wat hier waai.
Ook is daar ’n verskil tussen ‘die kerk’ en ‘Die Kerk’.
Kan iemand dit dalk vir hierdie mense verduidelik, asseblief?
 
Ek het helaas nie die grasie, geduld en genade van ’n Gideon Aggenbag nie. Miskien kom die wysheid tog saam met die grysheid. I bow before his greater genius, ek bewonder die rustige manier waarop hy so mooi verduidelik dat enige Christen wat sy sout (van die aarde) werd is, sy ontsteltenis oor die ontering van die Naam van sy Saligmaker en Verlosser, hoorbaar (sigbaar) sal maak.
 
Vraag: Is ’n mens veronderstel om ’n onaangename smaak in die mond te kry wanneer jy die Kerkbode se webblad lees?
Om so ongelukkig en so ontsettend hartseer te voel
oor die blatante uittarting en ontering van ons Heer en Meester se naam?
Wel, in daardie geval, sal die kerk se geloofsbelydenis drasties aangepas moet word na die geloofsbelydenis, volgens Jean Oosthuizen en kie.
 
WANT . . . ek herinner:
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
Die Skepper van die hemel, en die aarde,
En in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, Ons Here;
Wat ontvang is van die Heilige Gees,
Gebore uit die maagd Maria;
Wat gely het onder Pontius Pilatus,
Gekruisig is, gesterf het en begrawe is
En ter helle neergedaal het;
Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
Wat opgevaar het na die hemel
En sit aan die regterhand van God,
Die almagtige Vader,
Van waar Hy sal kom om te oordeel –
Die wat nog lewe en die wat reeds
gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike Kerk,
Die gemeenskap van die Heiliges;
Die Vergewing van sondes;
Die opstanding van die vlees,
En ’n ewige lewe. Amen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui