1 000 jaar oue Bybel kan $50 m. op veiling haal

*******

1 000 jaar oue Bybel kan $50 m. op veiling haal | Netwerk24

Outeur onbekend

17 Februarie 2023

Die wêreld se oudste Bybel, wat ouer as 1 000 jaar is, sal na verwagting vir minstens $50 miljoen op ’n veiling verkoop word.

Die Sassoon-kodeks, ’n Hebreeuse Bybel wat tot so ver terug as die negende of vroeg tiende eeu dateer, sal volgens die afslaers Sotheby’s die waardevolste gedrukte teks of historiese dokument tot nog toe wees wat opgeveil word.

Die Bybel sal eers van volgende week in Londen ten toon gestel word voordat dit in Mei vanjaar opgeveil sal word.

Kenneth Griffin, ’n miljardêr-belegger, het in 2021 ’n nuwe rekord opgestel toe hy $43,2 miljoen vir die eerste kopie van die Verenigde State se grondwet betaal het.

Die Sassoon-kodeks is na sy vorige eienaar, David Solomon Sassoon, genoem, wat die Bybel in 1929 bekom het en deur die jare een van die insiggewendste private versamelings van Judaïese en Hebreeuse manuskripte in die 20ste eeu saamgestel het.

Die dokument dien as ’n noodsaaklike skakel wat Joodse tradisies en die moderne Hebreeuse Bybel met mekaar verbind.

Eers toe die huidige eienaar van die boek, Jacqui Safra, radiokoolstofdatering daarvan laat doen het, is daar vasgestel hoe oud dit is.

Dit is selfs ouer as die Aleppo-kodeks en die Leningrad-kodeks, twee belangrike antieke Hebreeuse Bybels, sê Sotheby’s.

Die oudste kopieë van Bybelse tekste wat nog ontdek is, was die geskrifte wat in 1947 in grotte by die Dooie See ontdek is.

Die Hebreeuse Bybel bestaan uit 24 aparte boeke wat in drie dele verdeel is: die Pentateug, die Profesieë en die Geskrifte. Die Bybel strek van die boek van Genesis tot Kronieke. – Reuters

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui