Wedergeboorte

Wedergeboorte verwys na ’n nuwe lewe in Christus. Wanneer ’n mens tot bekering kom, sterf die ou mens af en jy word ’n nuwe mens – jou denke vernuwe.

In Engels word dit die volgende genoem: to be born again; regeneration

In die Bybel lees ons van wedergeboorte in die volgende dele:

Johannes 3

(3)Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (4)Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (5)Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. (6)Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. (7)Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. (8)Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Esegiël 36

(25)Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. (26)Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. (27)Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

2 Korintiërs 5

(17)Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

1 Petrus 1

(23)Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Kyk ook Heidelbergse kategismus, vraag 8.

Wat is die verskil tussen bekering en wedergeboorte?

Alhoewel dit seker nie krities belangrik is om die verskil te weet nie, kan ’n mens dit waarskynlik soos volg verstaan:

Bekering bestaan uit twee stappe:

  1. Afsterwe van die ou mens
  2. Opstanding van die nuwe mens

Wedergeboorte is waarskynlik deel van die tweede stap van bekering (volgens 2 Korintiërs 5:17).

Wedergeboorte is dus deel van die bekeringsproses.

Kyk ook

3 thoughts on “Wedergeboorte”

  1. Ek dink die onderskeid tussen bekering en wedergeboorte is uiters belangrik. Daar bestaan wel verskillende bekerings maar slegs een wedergeboorte begrip. Bekering is iets wat ons as mens doen op grond van die oortuiging van die Heilige Gees. Wedergeboorte is ’n daad wat God alleen doen wanneer jou bekering ’n ware bekering is en jy dan deur God in Christsus regverdig verklaar word. Die nuwe lewe is die geskenk van wedergeboorte van die Here Efe 2:8-10

  2. Ek het reeds ’n paar opmerkings gemaak oor die artikel “Bekering”, wat tot ’n mate saamhang met sekere stellings oor wedergeboorte.

    Ons moet verstaan dat daar sonder wedergeboorte geen sprake kan wees van geloof in, of liefde vir, Jesus Christus nie.

    Net so min as wat ’n kind enige aandeel in sy eie geboorte sou kon gehad het, net so min kan enigiemand ’n aandeel hê aan sy eie wedergeboorte. Dit hang totaal af van die werking van God die Heilige Gees.

    Elke mens word geestelik dood en as ’n vyand van God gebore, en slegs God kan hom uit daardie sondedood lewendig maak deur die wedergeboorte. Slegs só ’n wedergebore mens kan glo, hom bekeer van sy sonde en groei in die geloof. Soos ’n paal bo water staan die wedergeboorte heel eerste in die geloofslewe. Geen mens kan homself bekeer nie. Bekering is ’n resultaat van wedergeboorte – en wedergeboorte is die absolute begin van alles wat in die gelowige se lewe afspeel.

    Slegs die nuutgebore kind van God kan sy sondes en verkeerdhede raaksien, berou daaroor hê, en hom daarvan bekeer.

    Om dus te beweer dat “Wedergeboorte is waarskynlik deel van die tweede stap van bekering (volgens 2 Korintiërs 5:17)” en dat “Wedergeboorte is dus deel van die bekeringsproses.” kan eenvoudig nie waar wees nie.

    2 Korinthiërs 5:17 sê juis vir die wedergeborene dat hy ’n nuwe skepsel in Jesus Christus is en dat die “ou dinge” (die onwedegergebore status) verbygegaan het.

  3. Wonder maar net, my ervaring is n erkenning van my verlorenheid en sondige batuur totdat ek Jesus ontmoet het, verstaan wat Hy aan die kruis gedoen het en dit erken deur Hom te aanvaarvas my Saligmaker, in nooi om by my te kom woon, my lewe oor te neem en dan vind wedergeboorte plaas. Jesus het alles ad kruis gedra, oa sonde, daarom ek is verlos daarvan, my gees weergebore, God het self woonplek in my kom maak en is dit nou die deel wat na my afsterwe ewig voortleef.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui