NGK-leiers vra besinning oor diversiteit in die kerk

*******

NGK-leiers vra besinning oor diversiteit in die kerk | Kerkbode

Kerkbode, 28 Julie 2006

Die NG Kerk se leierskap is bekommerd oor die skade wat aangerig word wanneer die kerk se lidmate goedsmoeds toegelaat word om predikante van dwaalleer te beskuldig sonder dat daar die nodige gronde vir sulke klagtes bestaan.

Die kerk se moderamen het op sy afgelope moderatuursvergadering in Esselenpark kennis geneem van die teologiese verskille waaroor daar tans in die kerk debat gevoer word. Daar is ook verwys na die klagtes van dwaalleer teen sekere teoloë wat dit tot gevolg gehad het.

Die leierskap van die NG Kerk is veral onrustig oor die verdagmakery wat sulke klagtes tot gevolg het. Ds Bobby Scherrer (links onder) van die Algemene Diensgroep Ondersteuningsdienste het gesê dit lyk soms of elke persoon meen dit is sy reg om die kerk te toets in welke mate die kerk reg is. Hy sê die NG Kerk in die Vrystaat win tans regsadvies in om te bepaal tot watter mate dit iemand se reg is om ’n ander persoon in die kerk by ’n klag te betrek. Ds Scherrer sê die Algemene Sinode se regskommissie sal ook daarna moet kyk. “Ons sal die sisteem moet verander om onsself en die kerk te beskerm teen die skote uit die donker,” het hy gesê.

Dr Braam Hanekom (regs onder) van die Algemene Diensgroep Gemeente-Ontwikkeling het gesê die diversiteit in die kerk gaan meer word en nie minder nie. Dr Hanekom sê die kerk se hoogste prioriteit is om te besluit hoe word nuwe waardes gevestig en hoe daar binne die kerk waardig met mekaar verskil kan word te midde van die verskille, sonder om liefdeloos op te tree teenoor mekaar.

Die voorsitter van die moderamen, dr Coenie Burger, het gesê diversiteit is ’n goeie ding, maar die vraag sal ook gevra moet word hoe wyd kan diversiteit geakkommodeer word.

Die aktuarius van die NG Kerk se vorige Algemene Sinode, dr Nelus Niemandt, sê dit moet nie vreemd wees dat daar verskillende menings in die kerk gehuisves word nie. Hy het homoseksualiteit, die doop, kerkeenheid en Skrifbeskouing uitgesonder as die vier sake waaroor daar veral verskillende sienings in die kerk bestaan.

Dr Niemand het gesê teologiese gesprekke verg moeite en eis baie tyd op. Hy sê tot dusver het die kerk se meganismes waarvolgens sulke gesprekke plaasvind goed gewerk en daar moet simpatie wees vir die ringe se sisteme.

Die toekomskundige, dr Piet Muller, het op navraag aan Kerkbode gesê daar is drie strome wat die Christendom wêreldwyd verdeel. Dr Muller meen die vraag is of hierdie Christene wat teologies min het om vir mekaar te sê, steeds in een kerk behoort te sit.

Die drie groepe bestaan volgens hom uit ’n pre-moderne groep wat die Bybel letterlik opneem, ’n moderne groep wat die kern van die Christelike leerstelling aanvaar, maar sekere dele soos die verhaal van Jona en die vis as ’n gelykenis beskou en postmioderne Christene wat baie van die ou teologiese opvattings bevraagteken. “Die vraag is watter teologie sal uiteindelik seëvier in die herenigde kerk as die NG Kerkfamilie weer een kerk is,” het dr Muller gesê.

– jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui