Brief aan predikant wat dwaal oor redding

Kyk ook:

Die volgende is ’n brief wat Daniel Louw geskryf het aan ’n predikant wat glo dat nie slegs Christene hemel toe gaan nie.

(Kyk ook die artikel Die Nuwe Testament oor Redding)

______________________________

Nav ons gesprek Maandag (1 Maart 2010):

Jy sê dat jy nie glo dat slegs Christene die ewige lewe kan beërwe nie omdat dit onregverdig sal wees indien mense, wat ’n goeie lewe lei, hel toe gaan as hulle nooit die kans gehad het om van Christus te hoor nie. Jy wil hierdie siening regverdig uit Romeine 2. Ek het Romeine 2 gaan lees – ek neem aan jy verwys na vers 14-18:

Romeine 2

(14) Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ’n wet al het hulle nie die wet nie.

(15) Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in ’n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word.

(16) Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.

(17) Jy, jy sê jy is ’n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is,

(18) jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word.

Alhoewel dit ’n ding is wat ek ook nie verstaan nie, sien ek glad nie hierdie gedagte hierin nie. Dit lyk vir my of Paulus die probleem erken, maar hy sê maar net dat God hierdie mense regverdig sal oordeel. Wat daardie oordeel is, sal niemand weet nie. Ons kan spekuleer, maar om te sê dat sulke mense ook die ewige lewe sal kry, is om hierdie gedeelte buite kontek te lees – Paulus is verder in Romeine baie duidelik dat onderhouding van die wet jou nêrens bring nie en dat dit slegs deur geloof in Christus is wat ’n mens gered word. Hier volg ’n paar gedeeltes:

Rom 3:20 Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.

Rom 3:21 Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,

Rom 3:22 maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

Rom 3:23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,

Rom 3:24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Rom 3:28 Ons betoog is tog dat ’n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.

Rom 4:2 As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie!

Rom 4:3 Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

Rom 4:13 Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het.

Rom 4:14 As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag.

Rom 4:22 Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

Rom 4:23 Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie,

Rom 4:24 maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.

Rom 4:25 Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Rom 10:9 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Rom 10:10 Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

Rom 10: 13 want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Rom 10: 14 Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?

Rom 10:17 Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

Verder is baie ander dele in die Bybel vol daarvan dat ’n mens slegs deur Christus gered word en daarom moet ons die Evangelie aan ander verkondig sodat hulle nie verlore sal gaan nie:

Matteus 10

(5) Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: “Moenie met ’n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie.

(6) Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe.

(7) Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’

Mat 4:19

Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

(Hier roep Jesus die dissipels om sendelinge te wees.)

Mat 7: 13-14

(13) “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.

(14) Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

(’n Mens kry baie goeie mense op aarde, maar dit is nie goeie mense wat die ewige lewe kry nie. Min mense kry die ewige lewe (“gaan deur die nou poort”), omdat min mense in Christus (wil) glo.)

Johannes 14:6

(6) Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Handelinge 1:8

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

(Ons moet die Evangelie aan die hele wêreld bring.)

Handelinge 4:12

Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

Ek sou sê dat daar baie goeie mense op aarde. Selfs baie ateïste is goeie mense, insluitende Richard Dawkins, George Claassen en Stephen Hawking. Inteendeel, ateïste roem daarop dat hulle nie ’n god nodig het om goeie lewens te ly nie. Dus is my gevoel dat daar baie mense is wat goeie lewens ly. Ek kan egter vir geen oomblik dink dat ’n ateïs die ewige lewe sal kry nie.

Gaan slegs hel toe as jy Christus verwerp

Omdat jy besef dat die Bybel duidelik is dat ons die Evangelie aan ander moet verkondig, redeneer jy dat ons dit nogsteeds moet doen, maar slegs omdat God so gesê het – vir geen ander rede. Indien iemand dan nie die evangelie wil aanvaar nie, eers dan gaan die persoon hel toe.

Paulus sê egter in Rom 1:13: “Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen.” Dink jy werklik dat sy ywer om mense vir Christus te wen slegs is omdat Jesus so gesê het, al maak dit eintlik nie saak nie?

Jy moet erken dat hierdie redenasie nie logies is nie. Wat sal die doel hiervan wees? As dít waar is, is dit dan nie beter om niemand iets van Christus te vertel nie sodat daar nie ’n risiko is dat jy juis so veroorsaak dat mense hel toe gaan nie?

Jy sê dat indien jou buurman ’n Moslem is en ’n goeie lewe lei en nie van Christus weet nie, dan is hy oppad hemel toe. Maar nou sê die Bybel dat jy hom van Christus moet vertel. As hy egter besluit om nie na jou te luister nie en nie Christus aanvaar nie, dan het jy veroorsaak dat hy hel toe gaan. Dan sou dit mos baie beter gewees het om eerder stil te bly en hom sy gang te laat gaan het.

Verder, hoekom moet Christene baie ly en swaarkry om mense te vertel van Christus as dit nie ’n verskil maak nie? En verder die risiko dat jy juis kan veroorsaak dat hulle hel toe gaan?

Sendingwerk vereis meestal swaarkry en lyding

Romeine 10: 14 sê: “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?

Mense wat nie van Christus gehoor het nie, kan nie glo nie en kan daarom nie gered word nie. En daarom is sendelinge bereid om finansiële en ander opofferings te maak, swaar te kry, te ly en selfs te sterf om die Evangelie te verkondig, ter wille daarvan om ander mense se (ewige) lewens te red. Die evangelie bring ook verdeeldheid en haat. Die Bybel sê dat jy dit moet verwag:

Matteus 10

(7) Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’

(8) Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

(9) “Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie

(10) en moenie vir die pad ’n reissak aanskaf of nog ’n kledingstuk of skoene of ’n stok nie. ’n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

(11) “As julle in ’n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.

(12) As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.

(13) As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.

(14) As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.

(15) Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

(16) “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.

(17) Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel.

(18) Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig.

(19) Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê.

(20) Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

(21) “Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak.

(22) Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.

(23) As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na ’n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

(24) “’n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ’n slaaf nie hoër as sy eienaar nie.

(25) ’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ’n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

(26) “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.

(27) Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin.

(28) Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

(29) “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.

(30) Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.

(31) Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

(32) “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.

(33) Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”

(34) “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.

(35) Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder;

(36) ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’

(37) “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.

(38) Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

(39) “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

(40) “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.

(41) Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal ’n profeet se beloning ontvang; en wie ’n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ’n goeie mens se beloning ontvang.

(42) Wie aan een van hierdie geringstes net ’n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

Paulus het self ook baie gely:

2 Korintiërs 11:

(23) Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.

(24) Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,

(25) drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring.

(26) Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.

(27) Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.

(28) Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.

As ek dit ook nie mis het nie, het meeste van Jesus se dissipels gesterf vir hulle geloof. Stefanus het gesterf terwýl hy die Evangelie aan die Jode gebring het:

Hand 7:52 Was daar ooit ’n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor.

Hand 7:53 Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie.”

Hand 7:54 Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners.

Ek kan vir geen oomblik dink dat God dit van mense sal verwag om so te ly om Sy Evangelie aan ander te bring as dit nie ’n verskil maak of mens in Christus glo of nie. En dan is daar nog die risiko dat hierdie lyding eerder kwaad as goed bring – dat jy goeie mense, wat in elk geval die ewige lewe sou kry, vertel van Christus, dat hulle Christus verwerp en dan juis daarom hel toe gaan.

Beter om ’n goeie lewe te verkondig as Christus

Is dit dan nie baie beter om eerder slegs ’n goeie lewe te verkondig nie? Om mense slegs aan te spoor om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Daar is die volgende voordele:

  1. Volgens jou teorie kry goeie mense ook die ewige lewe.
  2. Sendelinge sal baie minder ly – ek het nog nooit gehoor van iemand wat ly omdat hy mense aanmoedig om goed te leef nie.
  3. Dit is polities neutraal: Jy trap nie op iemand se tone nie en Christene word nie gesien as arrogant omdat hulle glo dat hulle die enigste mense is wat reg is nie.
  4. Daar is geen gevaar dat jy sal veroorsaak dat mense Christus verwerp en so hel toe gaan nie.

Die Bybel sê egter niks daarvan om vir mense te vertel van ’n goeie lewe nie, maar is vol daarvan dat Christene die Evangelie met ander moet deel ten koste van enige-iets anders. Dit is al wat saakmaak op die ou end:

Mar 8:35 want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.

Mar 8:36 Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?

Mar 8:37 Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe?

Angus Buchan is baie lief om te sê: ”It is not good people that go to heaven, it is believers that go to heaven.” Ek kan dit nie beter sê nie.

Waarin het Abraham geglo voor God hom aan hom geopenbaar het?

Ek wil net ook iets sê oor Abraham waaroor ons ook gepraat het:

Jou siening is dat ons nie weet wie/wat Abraham aanbid het voor God hom geroep het nie. Jy glo ook dat Abraham die eerste persoon is aan wie God Homself openbaar het. Sê jy dit agv Josua 24:2 Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders—onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor—anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. ?

Hierdie sê nie noodwendig dat Abraham die eerste persoon op aarde was aan wie God Homself geopenbaar het nie. Is ’n ander moontlikheid nie dat Abraham se familie afvallig geraak het en God hom daar weggeneem het omdat God hom gekies het om sy volk te wees nie?

Die invloed van historiese wetenskap

Jy is nie die enigste persoon met hierdie siening nie. Ek is oortuig daarvan dat die historiese wetenskap (wat evolusie insluit) te blameer is vir hierdie sieninge (kyk “It’s not science” –

creation.com/its-not-science oor die verskil tussen historiese en operasionele wetenskap):

  • Historiese wetenskap neem glad nie die Bybel in ag nie en daarom moet baie aannames gemaak word, waarvan sommige aannames gegrond is op evolusietydlyne.
  • Die historiese wetenskap beweer dat Genesis 1 – 11 nie reg kan wees nie.
  • Volgens die historiese wetenskap was die Joodse geloof (en daarom die Christelike geloof) nie die eerste op aarde nie. Hierdie siening maak volgens my baie afbreuk aan ons geloof.
  • Die historiese wetenskap het ook lyk my bewys dat Abraham nie histories is nie. Dit is in elk geval wat teologiese studente vandag geleer word. Ek het prof Jurie le Roux se notas daaroor – laat weet as ek dit vir jou kan aanstuur.
  • Toe kom menseregte wat uitgedink is deur mense. Menseregte se uitgangspunt (net soos evolusie se uitgangspunt) is dat daar nie ’n god is nie. Dit is dus deur mense uitgedink en wat hulle dink goed is vir ons. Dit het niks met God of die Bybel te doen nie. Daar is darem baie oorvleueling tussen menseregte en die Bybel.

As mens jou te veel steur aan hierdie dinge hierbo, dan is die gesag van die Bybel ernstig in gedrang en dan is ek nie verbaas as die Bybel orals aangepas word by mense se sieninge nie. Die homoseksuele kwessie is ’n sprekende voorbeeld: die Bybel is selfs meer duidelik oor homoseksualiteit as oor seks voor die huwelik, maar baie (indien nie die meerderheid) teoloë dink vandag dat homoseksuele verhoudinge nie verkeerd is nie? Dit is omdat bogenoemde dinge die gesag van die Bybel heeltemal aangetas het. ’n Mens kan vandag amper nie meer sê: “Want die Bybel sê so” nie, want die Bybel het nie meer die gesag wat dit gehad het nie.

Wat sê die Bybel oor die begin?

Die Bybel is egter baie duidelik oor die geskiedenis van die aarde en mense op aarde:

  • God het die aarde geskep en ook Adam en Eva, die eerste mense (4004 vC).
  • God het Hom aan Adam en Eva geopenbaar en het heel moontlik met hulle gepraat soos mense met mekaar vandag praat. In Gen 3:8-10 lees ons dat God in die tuin gewandel het en na hulle geroep het (v9).
  • Adam en Eva het gesondig en daarom is die wêreld vervloek. Dood en swaarkry het hiermee ingetree. Ons noem dit die sondeval. Dit is agv die sondeval dat Jesus aan die kruis moes sterf.
  • God het nog altyd met mense ’n verhouding gehad: Hy het bv ’n besondere verhouding met Henog (Gen 5:24 en Heb 11:5) gehad en Noag.
  • Abraham se familie was lyk my op die verkeerde spoor, maar God het Abraham uitverkies om die vader van Israel (die Jode) te wees.
  • Die eerste geloof in ’n God was die geloof wat Adam en Eva gehad het in God wat hulle geskep het. Die Bybel is nie duidelik wanneer mense vir die eerste keer ander gode aanbid het nie – God het egter juis die sondvloed gestuur omdat mense ander gode of selfs die demone direk aanbid het (Gen 6) en in Josua 24:2 lees ons dat Abraham se familie ook afgode aanbid het. Ook in Gen 31:30 lees ons dat Ragel haar pa, Laban se gode gesteel het. Ander gelowe was egter afgode wat mense geskep het omdat hulle in opstand gekom het teen die ware God, die God wat geskep het (dit gebeur baie in die Bybel). Dit is nie mense self wat die god-konsep uitgedink het om dinge te probeer verklaar of sin aan die lewe te wou gee nie (soos prof Cornel du Toit sê in http://teo.co.za/artikel/articles/287/1/Skepping-en-ewolusie/Bladsy1.html). Hierdie idee kom uit die filosofie en maak slegs sin as jou uitgangspunt is dat daar nie ’n god is nie.
  • Ek glo dat God nog altyd Drie-enig was. Ons lees bv van die Heilige Gees nog voor Hy uitgestort is met pinkster:
    • Genesis 1:2 “…maar die Gees van God het oor die waters gesweef.”
    • Luk 1:15 “want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees.”
    • Luk 1:41 “Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul”

Dit is maar ’n paar gedagtes van my kant af.

Groete

Daniel Louw

4 Maart 2010

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui