‘Jy doen jou kinders groot onreg aan deur álles vir hulle te doen’

*******

‘Jy doen jou kinders groot onreg aan deur álles vir hulle te doen’ | Netwerk24

Marita Herselman

14 Junie 2022

Ouers wat hul kinders oorbeskerm en álles vir hulle doen, doen hulle ’n groot onreg aan, omdat hulle nooit leer dat hulle dinge self kan doen nie.

En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil. ~ Efesiërs 6:4

Ansa Lange, stigter van Future Fit Parenting wat ouerskapondersteuning bied, sê ’n kind kry so die boodskap dat jy nie vertroue in sy vermoë het nie of dat hy nie verantwoordelikheid hoef te aanvaar nie.

Die terapeut en lewensafrigter van Bloemfontein sê dié kinders sukkel later in hul volwasse lewe om aan te pas, omdat hulle geleer het alles word vir hulle gedoen.

“Die oomblik as jou kinders iets self kan doen, moet jy dit nie meer vir hulle doen nie, glad nie.

“Ouers se verantwoordelikheid is eintlik om hul kinders te leer om so gou as moontlik onafhanklik te wees – na my mening word jou sukses as ouer daaraan gekoppel.”

Netwerk24 het met Lange gesels na aanleiding van ’n treffende pleidooi aan ouers van ene Elana Barke wat vroeër op die Facebook-blad Studiemeester SA geplaas is.

Dit handel oor alles wat ouers vir hul kinders doen en alles waaraan hulle die kinders laat deelneem, en laat die vraag ontstaan of hulle dit vir hulself of die kind doen.

Barke skryf sy was ’n onderwyseres vir 13 jaar en het twee seuns.

In die skrywe vra sy onder meer dat mense ophou om hul kinders vir allerlei kompetisies in te skryf, ophou hul skooltake doen, ophou om hulle in handelsmerkklere te klee, ophou om duur temapartytjies te hou vir kleintjies wat nog nie kan praat nie, en ophou om hulle vir elke “stimulerende” aktiwiteit in te skryf.

“Hou op om jou kind se skooltake te doen, die onderwysers giggel lekker vir jou vreemde taalgebruik.

“Los jou kind dat hy van die hond met die lang tande skryf in sy opstel, hy leer dan om homself uit te druk en dat sy gevoelens en opinies saak maak,” skryf sy onder meer.

Sy sê kinders wil vuil raak en rondhardloop sonder om bekommerd te wees dat hulle hul duur klere beskadig en dit put hulle uit om aan elke aktiwiteit, waarvoor jy boonop “deur jou ore” betaal, deel te neem.

“Jou kind is nie ’n skouperdjie nie, ook nie ’n troeteldiertjie nie. Gesels, lag, raak vuil en wees net. Staan terug, haal asem en wees net,” is Barke se boodskap.

Lange sê ouers moet hulself afvra wat hul beweegrede is – doen hulle dit vir hulself of die kind? Sy sê ouers doen dikwels al dié goed vir hul kinders uit ’n selfsugtige oogpunt, omdat dit hulle na goeie ouers laat lyk.

Sy sê talle kwessies wat mense as volwassenes beleef, het begin by ouers se goeie bedoelings en onkunde.

“Ouers se taak is om hul kinders te help om hul tyd reg te bestuur, te prioritiseer en veerkragtig te wees en gesonde keuses uit te oefen.”

Sy sê as ouers hul kinders se take doen, glo hulle nooit in hul eie vaardighede nie en ontwikkel nie ’n verwysingsraamwerk van wat vir hulle moontlik is nie. Dit spoel oor in hul volwasse lewe.

Wanneer is die aktiwiteite te veel en die druk om te presteer te hoog?

“As die kind se geestesgesondheid daaronder begin ly. Wanneer die kind simptome van angs begin toon en begin onttrek. Kinders wat te bang is vir hul ouers sal onttrek en dié wat eiesinnig is, kan buitengewoon opstandig word.”

Sy sê ouers moet hul kinders leer dat hulle moet presteer en oefen in die mate waarop hulle op hulself sal trots wees. Hulle moet leer hul ouers sal dan trots wees omdat hulle op hulself trots is en volgens eie vermoë presteer. Anders word selfwaarde op eksterne goed gebou.

“Jy moet jou kind, en jouself, nooit leer om identiteit op die hoogtepunte van die lewe te bou nie, want wie is jy dan in die laagtepunte?”

Ouers moet hul kinders leer om terug te bons in slegte tye, sê Lange.

“Daar’s ’n fyn lyn om jou kinders genoeg te ondersteun dat hulle genoeg in hulself glo om alleen te vlieg en nie altyd eerder op Mamma se rug saam te moet vlieg nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui