Dankie vir leraars wat die skrif en belydenis vashou

***********

Dankie vir leraars wat die skrif en belydenis vashou | Kerkbode

Deur Johan Janse van Rensburg

17 Augustus 2021

Prof Johan Janse van Rensburg skryf:

In sy poging om die onrus in die NG Kerk te besweer, het Nelis Janse van Rensburg in ’n video die kerk pastoraal probeer aanspreek. Dat hy daarin die indruk skep dat die kerk nog by sy gereformeerde belydenis staan, is onbegryplik. Ek twyfel of daar enige teoloog is wat afwykende uitsprake oor die Skrif en die geloof gemaak het, wat hulle teologie as gereformeerd sou bestempel. Trouens, die gereformeerde teologie word in akademiese kringe al hoe meer agterhaal ten koste van die resultate van die historiese kritiek en ’n natuurlike teologie. Die Fakulteit Teologie in die Vrystaat het byvoorbeeld al ’n dekade gelede besluit om nie meer gereformeerde teologie te bedryf nie. Daar is op ’n sogenaamde klassieke teologie besluit. Die kuratorium is hiervan op ’n vergadering ingelig en dit is sonder teenstem aanvaar. Dit was die laaste vergadering wat ek bygewoon het voordat ek afgetree het. Sommige besluite van die Algemene Sinode het die rug op die belydenisskrifte gedraai. Selfs tugsake teen sekere teoloë wat Skrifwaarhede verwerp, het op niks uitgeloop nie, of is nie deur kerklike besluite gerepudieer nie. Daar was voorbeelde van teoloë wat openlik verklaar het dat die opstanding van Christus nie ’n kernsaak is nie. Verder het ’n paar teoloë van ’n teïstiese teologie afstand gedoen en dit met ’n post-teïstiese teologie vervang.

Om dan te beweer dat die kerk in ’n lang tradisie van gereformeerde teologie staan, is misleidend. Prof Willie Jonker het kort voor sy dood sy besorgdheid uitgespreek omdat die gereformeerde teologie vervaag het. Die lang tradisie waarna Nelis verwys, sluit Calvyn, Bavinck, Kuyper en Berkouwer in. Geeneen van hulle sou die relativering van Christus se opstanding, die bestaan van die duiwel of ’n post-teïstiese geloof as gereformeerd beskou nie. Die Algemene Sinode se besluit om onder die beginsel van diversiteit te werk, het die weg vir allerlei afwykings van die gereformeerde leer moontlik gemaak. Daarom het leertug uit die kerk verdwyn en is artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gerelativeer. Nee, ds Nelis, die gereformeerde tradisie is op soveel maniere geskend. Dankie vir gemeentes waar leraars nog die Skrif en belydenis vashou en wys dat hulle die besluite van die Algemene Sinode ondraaglik vind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui