Kerkman pak gays oor ‘onverdraagsaamheid’

Kyk ook:

Die volgende artikel is in reaksie op die feit dat Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, hom in die openbaar uitgespreek het oor die feit dat gays as volwaardige lidmate in die kerk verwelkom moet word (kyk Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’).

Dit is baie interessant dat die NGK ou katkisasiehandboek na die AGS verwys het as ’n sekte. Hoe is die bordjies nie verhang nie? Vandag is daar baie NGK lidmate wat hulle veel eerder vereenselwig met Isak Burger as met Nelus Niemandt.

********

Kerkman pak gays oor ‘onverdraagsaamheid’

Beeld

Claudi Mailovich, Dinsdag 07 Julie 2015 05:34

Isak Burger

JOHANNESBURG. – Daar is ’n neiging van onverdraagsaamheid binne die gay-gemeenskap teenoor die Kerk.

Of só kom dit voor, het dr. Isak Burger, president van die Apostoliese Geloofsending (AGS), oor dié Kerk se standpunt oor homoseksualiteit binne die Kerk gesê.

“Daar is ’n hoë vlak van onverdraagsaamheid vir mense wat bely hulle was gay, maar nou verlos en deur God genees is – in sommige gevalle vir vele jare,” het Burger in ’n verklaring gesê.

“Die onvoorwaardelike aanvaarding van gay mense en hul lewenstyle het die mees politiek- korrekte standpunt in die Weste vandag geword.

“Almal wat nie hiermee saamstem nie of ’n ander standpunt huldig as gevolg van hul Bybelse oortuigings word as homofobies, skynheilig, regse fundamentaliste en verkramptes geëtiketteer.”

Burger het gesê die AGS bly by sy standpunt dat alle mense gedeelde eienskappe het wat hulle mens maak en daarom ook gelyk maak en dat God lief is vir almal.

“Vryheid van denke, opinie, gewete en geloof is elke burger se reg. En daarom het ons ’n redelike verwagting dat die Bybelse oortuigings en waardes van die Christelike Kerk, wat uit individuele gelowiges bestaan, gere­spekteer moet word.”

Daar is volgens die AGS nie ’n enkele teksvers in die Bybel wat ’n gay lewenstyl onderskryf nie.

Die AGS “staan wel nie onsimpatiek” teenoor gay lidmate nie.

“As ander daarmee gemaklik is om die Skrif te ignoreer, dan moet dit so wees. Maar sover as wat dit die AGS aangaan, moet ons buig voor die wil van God soos wat ons dit uit die Skrif verstaan.

“Ons vind dit belangriker as om politiek-korrek te wees.”

Werner van der Walt, ’n leraar van Lewende Woord, het gesê hy sal nie anders kan nie as om ja te sê as hy gevra word of homoseksuele aktiwiteite sonde is.

Ds. André Muller, stigter en hoofleraar van die Reformerende Kerk, het gesê Burger maak ’n kategoriese uitspraak teen die gay-gemeenskap en dat daar nie iets is soos net een gay lewenstyl nie.

“Ek wil vir hom sê: Moenie met die gay aktiviste praat nie, praat met die gay Christene. Gay gelowiges wil maar net soos enige ander gelowige gehanteer word. As dit dan onverdraagsaam is, dan is ons onverdraagsaam.”

– Dr. Isak Burger, president van die Apostoliese Geloofsending (AGS)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui