Antwoorde op beskuldigings nie toegelaat op Kerkbode-aanlyn

Onderstaande artikel het in Julie 2010 op Kerkbode-aanlyn verskyn. Ek en Charles Malan (van www.ngkerk.org.za se Diversiteitsforum) het daarop kommentaar gelewer, maar my laaste kommentaar wou Kerkbode-aanlyn eenvoudig nie plaas nie. Dié kommentaar en die e-posse daar rondom word hier gegee.

Artikel

Eenheid is die belangrikste, sê Jerry

“Ek dink die belangrikste saak op die WGGK se agenda is eenheid. Eenheid is iets wat toenemend op baie kerke se agenda kom. Ek dink eenheid is in baie kerke broos as gevolg van interne probleme, sê dr Jerry Pillay.

Dr Pillay is op die pas afgelope vergadering van die wêreld se grootste gereformeerde ekumeniese liggaam, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) as president verkies. Dit het plaasgevind in Grand Rapids, Michigan in Amerika. Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke het tot stand gekom toe die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Raad besluit het om hulle gewig saam te gooi.

Is daar spanning tussen die twee begrippe, geregtigheid en eenheid, wat die WGGK se vergadering oorheers het?

“As daar spanning is, is dit onnodig. Nee, ek dink nie daar is spanning nie. Die een lei na die ander. Woorde en dade moet mekaar aanvul. Wanneer ons in gemeenskap, in eenheid met mekaar lewe, dan sal ons ook leer om in geregtigheid teenoor mekaar te lewe” het dr Pillay aan Kerkbode gesê.

“Ons moet kerke help om weer die eksterne opdrag van die Christendom raak te sien. As ons as Christene dít raaksien, sal ons die interne probleme oorkom. Ek dink ons het die fokus verloor dat ons geroep is om in die Naam van Jesus Christus verandering in die wêreld te bring. En ons het ons gevoel vir sending verloor.”

Jerry Pillay is tans voltydse Algemene Sekretaris van die Verenigde Presbiteriaanse Kerk in Suid-Afrika. Hy en sy vrou Sandra het drie kinders, Jesandra (19), Janice (16) en Aaron (4). Hulle woon in Benoni. Jerry is ’n boorling van Durban en het sy teologiese studie aan die Universiteit van Durban-Westville gedoen. Daarna het hy ’n PhD aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Hy was ook tien jaar lank predikant in Kaapstad.

anton@tydskrifte.co.za

*************

Kommentaar:

Sendingwerk en eenheid
2010/07/19

As mens na die kitaarslaners op www.ngkerk.org.za se Diversiteitsforum kyk, het hulle nie hul gevoel vir sendingwerk verloor nie – hulle verkondig net ’n heel ander evangelie. Soveel mense as moontlik moet geakkommodeer word, die Bybel is nie meer die basis nie, ander gelowe is ook reg, en niemand hoef tot bekering te kom nie. Ja, die doelstelling van eenheid kan daarin gesien word, maar watter soort ongelowige eenheid is dit?

Ek hoop van harte dat dr Jerry Pillay die eenheid voorstaan wat gebou is op Jesus Christus as enigste Verlosser, en op die waarheid van Sy Woord. – Dr Hennie Mouton

Geregtigheid en eenheid
2010/07/24

Dr Pillay is natuurlik reg dat daar nie spanning tussen geregtigheid (lees ook Christelike naasteliefde veral jeens verdruktes) en eenheid (lees ook kerkeenheid) te wees nie. As webbestuurder van die Diversiteitsforum wat deur dr. Hennie Mouton veroordeel word, moet ek egter ten sterkste beswaar maak teen sy eensydige en verdraaide opsomming van dit wat op die forum aangaan. Lesers kan self gaan oordeel in watter mate ’n “heel ander evangelie” daar verkondig word. Ons weet nou al hoe die doktor van die een forum na ’n volgende beweeg om sy besondere evangelie te verkondig, maar om so verregaande oor gelowige Christene en ’n strewe na diversiteitsbevordering te veralgemeen is blote beswaddering. Dit is benede peil dat hy ’n belangrike leier soos dr Pillay ook by hierdie kleinlikheid probeer betrek. Soos op die Diversiteitsforum sal hy hopelik ook nie hier veel verder die kans kry om met sy persoonlike verpakking van die enigste moontlike “verlossing” te smous nie. Hy is lank genoeg geduldig daar geakkommodeer. – Charles Malan

Direkte kommunikasie met Anton Pienaar:

—–Original Message—–
From: Hennie Mouton
Sent: 28 Julie 2010 10:38 AM
To: Anton Pienaar
Subject: Kommentaar op “Eenheid is die belangrikste, sê Jerry” op Kerkbode-aanlyn (2)

Môre Anton,

Ek het onderstaande nou al 2 maal probeer plaas op Kerkbode-aanlyn as kommentaar op bogenoemde artikel, maar dit het nog nie verskyn nie. Dit is nie net belangrik omdat ek kans gegee behoort te word om my stellings te verduidelik nadat Charles Malan dit eensydig en verdraaid genoem het nie, maar ook omdat die lesers toegang tot al die inligting behoort te hê om te kan oordeel.

Groete,

Hennie Mouton

—–Original Message—–
From: Anton Pienaar
Sent: 28 July 2010 11:45
To: Hennie Mouton
Subject: RE: Kommentaar op “Eenheid is die belangrikste, sê Jerry” op Kerkbode-aanlyn (2)

Hennie

Jean is nie vandag hier nie. As hy more terug is sal ek hom daarop wys.

Groete

Anton

—–Original Message—–
From: Hennie Mouton
Sent: 29 July 2010 12:17
To: Anton Pienaar
Subject: FW: Kommentaar op “Eenheid is die belangrikste, sê Jerry” op Kerkbode-aanlyn (3)

Middag Anton,

Ek het vanoggend ’n 3de keer probeer, en selfs Jean Oosthuizen se naam uit my skrywe gehaal.

Ek hoop hy besef hy moet nie al drie plaas nie, maar slegs die laaste een.

Jammer, dis ’n dom ding om te vra, maar Jean het homself al vele male as bloot moedswillig bewys.

Groete,

Hennie

—–Original Message—–
From: Hennie Mouton
Sent: 30 July 2010 11:22
To: Anton Pienaar
Subject: FW: Kommentaar op “Eenheid is die belangrikste, sê Jerry” op Kerkbode-aanlyn (3)

Jammer om weer aan jou te moet skryf Anton, maar jou man Jean het nog steeds nie onderstaande kommentaar geplaas nie.

En ek kan geensins sien dat dit meer beledigend of minder feitlik is nie as die dinge wat Charles Malan van my geskryf en julle al lankal geplaas het, vir almal om te sien.

Groete,

Hennie

——————–

Hier is die kommentaar wat toe nooit op Kerkbode-aanlyn geplaas is nie, en Anton Pienaar het geen verdere skrywe of antwoord aan my gestuur nie:

Gaan lees gerus (3)

Lesers moet maar self besluit of my opsomming hierbo eensydig en verdraaid is soos beweer deur Charles, gemeet aan my seleksie van aanhalings uit www.ngkerk.org.za se Diversiteitsforum, wat te siene is op www.glodiebybel.co.za onder Kommentare/”Hennie verdedig stellings”. Indien Kerkbode of Kerkbode-aanlyn my die ruimte sou gee, sal ek die seleksie van aanhalings graag ook hier plaas. Uiteraard was dit redelik moeilik om kommentare wat oor die 150 bladsye lank is, en sekere sienings slegs redelik subtiel laat blyk, sinvol baie korter aan te haal.

Let ook daarop dat sommige van die aanhalings (soos aangedui) later deur Charles verwyder is en tans nie meer op die Diversiteitsforum te lese is nie. Dit maak natuurlik bietjie ’n grap van Charles se versoek dat die huidige kommentare op die Diversiteitsforum gelees moet word om my stellings te beoordeel. Die webwerf www.glodiebybel.co.za bevat egter ook al die volledige kommentare onder Debatte/”NGK Diversiteitsforum 2010″, behalwe vir enkeles wat nie voor verwydering gevang kon word nie. Wat verwyder is, vertel natuurlik ’n verhaal op sy eie.

‘n Verdere interessantheid is dat een van die aanvanklik gereelde skrywers, “Jan Allemantig”, baie waarskynlik Charles Malan self was (sy bydraes het later verdwyn). Goeie redes om dit te glo is op die Diversiteitsforum geplaas, maar dis baie vinnig verwyder en dis nooit ontken nie. Dat die webbestuurder onder ’n skuilnaam ook bydraes kan lewer is sekerlik nie onaanvaarbaar nie, maar as sy skuilnaam soms skynbaar van die webbestuurder verskil en hom kritiseer, en op ander plekke ’n skynbare meerderheid wil daarstel en dan verkondig dat dit die meerderheidsopinie is, grens dit sekerlik aan bedrog. ’n Mens wonder daarom hoeveel van die ander ondersteuners van Charles se idees nie ook maar sy eie skeppinge was nie.

Daar is ook ’n sterk moontlikheid dat “Stefan Nel” ’n skuilnaam van ’n invloedryke figuur in die NG Kerk en ook op die vloekende en Godslasterlike Kletskerk is. “Stefan Nel” het in elk geval voorgegee dat hy in NG Valleisig se gemeente was, en daarom glo weet dat baie jongmense daar vir Izak du Plessis mis, terwyl navraag opgelewer het dat daar nooit ’n “Stefan Nel” op daardie gemeenteregister was nie. Charles Malan het die Diversiteitsforum nie net op Kletskerk geadverteer nie, maar Stefan Nel se bydraes baie waardeer: “Stefan en die ander gewaardeerde deelnemers aan die gesprek moet dus weet hulle woorde waai nie in die wind weg nie”, om maar een voorbeeld te noem.

Drs Gerhard Bothma en Fanie Cronje is duidelik hoogs gewaardeerde meelopers van Charles Malan en het regdeur al die gesprekke sy sienings ondersteun en teologies probeer begrond. Die dubbele standaarde wat Charles Malan toepas in terme van skrywes te verwyder omdat dit glo beledigend is, het baie duidelik geblyk deurdat Gerhard Bothma se beswaddering van ds Etienne Maritz op grond van Kletskerkskrywes oor ’n gebeurtenis van meer as 10 jaar gelede, nou nog nie verwyder is nie. My beswaar daaroor is ook eenvoudig verwyder omdat dít glo beledigend was! Dat Charles Malan nie Jan Allemantig se swak rassistiese grappe (2010-07-03), wat blykbaar een of ander diversiteitsboodskap bevat, verwyder het nie, kan mens verstaan gegewe bogenoemde.

Nee wat Charles, ek dink dat enigeen wat objektief en ernstig na jou en jou meelopers se Diversiteitsforum kyk, die verskuilde motiewe nie kan mis nie. Julle probeer eenvoudig “goeie humanisme”, ten koste van die evangelie soos weergegee deur God in die Bybel, by die NG Kerk insleep.

Hennie Mouton

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui