‘Prima facie-saak’ teen kerkman oor pedofilie

In die berig hieronder word aangevoer dat Chris van Wyk ’n prima facie-oortreding begaan het deur homoseksualiteit met pedofilie te vergelyk.

Prima facie is ’n Latynse uitdrukking wat die volgende kan beteken:

  • op die oog af
  • met/by eerste oogopslag
  • oënskynlik

Hierdie term word in moderne regstaal gebruik om aan te dui dat na aanvanklike ondersoek voldoende bewysstukke blyk te bestaan om ’n saak te ondersteun. Prima facie getuienis kan ook daarop dui dat, tensy dit weerlê word, voldoende sou wees om ’n bepaalde stelling of feit te bewys.

Soos hulle sê: “Beauty is in the eye of the beholder.”

As ’n mens in ag neem hoeveel veld pedofilie in die wêreld wen (kyk Homoseksualiteit en pedofilie) was Chris van Wyk se stelling in die kol en ver van enige haatspraak. ’n Mens wonder wat pedofiele oor die saak sou sê…

*********

‘Prima facie-saak’ teen kerkman oor pedofilie | Netwerk24

Deur Jana Marx

04 Oktober 2018

Die Menseregtekommissie (MRK) sê daar is ’n “prima facie-oortreding” van haatspraak teen dr. Chris van Wyk, wat in Facebook-kommentaar homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het.

Buang Jones, waarnemende hoof van die regsdienste-eenheid en bestuurder van die MRK se kantoor in Gauteng, het die inligting bevestig.

“Om gay mense met pedofiele te vergelyk, kom oënskynlik neer op haatspraak. Die saak word nog ondersoek en is oorgeplaas na ons Oos-Kaapse kantoor,” sê Gushwell Brooks, Jones se woordvoerder.

Van Wyk is ’n predikant van die NG kerk Somerstrand in Port Elizabeth en lid van die moderatuur van die NG Kerk se algemene sinode.

Hy het onlangs nuusopskrifte gehaal met sy kommentaar op die Kerkbode se Facebook-blad. Hy het geskryf indien seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, “sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar”.

Hy het gereageer op die bekentenis van ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, dat sy oortuigings nie strook met die kerk se standpunt oor selfdegeslagverhoudings nie.

Janse van Rensburg het onder meer geskryf: “Ek is oortuig daarvan dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester.”

Die kerk is in ’n hofstryd oor gay-kwessies. Die saak, wat op 22 Augustus in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is, gaan oor die omkeer van ’n sinodebesluit van 2015 waarvolgens gemeentes self kan besluit of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies in die huwelik bevestig en gay predikante aanstel. Die uitspraak word voorbehou. Dié besluite is ’n jaar later herroep.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die algemene sinode, sê die NGK wag om amptelik te hoor wat die klag teen Van Wyk is.

Van Wyk wil op regsadvies nie kommentaar lewer nie. Hy is ook nog nie amptelik van die klag teen hom in kennis gestel nie.

Hy het egter op sy Facebook-blad gereageer op ’n berig in Rapport verlede week. Hierin hou hy vol die gedagte dat hy homoseksuele oriëntasie met pedofilie gelyk stel, is van alle waarheid ontbloot.

“Dit is duidelik uit hierdie aanhaling dat ek nie na homoseksuele oriëntasie as sodanig verwys nie, maar na alle seksuele oriëntasies.” Hy het ook sy volledige reaksie aan Janse van Rensburg weer geplaas.

Hy sluit sy breedvoerige Facebook-plasing af met: “Hiermee volstaan ek met my kommentaar op Facebook.”

Chris van Wyk se volledige aanhaling:

Anders as wat jy (Nelis Janse van Rensburg) beweer, is seksuele oriëntasie nie iets waarmee ’n mens gebore word nie. So lees ek in wetenskaplike artikels. Dit is iets wat ontwikkel aan die hand van jou ervaring van aangetrokkenheid tot ander mense. Dit word met puberteit al hoe duideliker. Jou fisiese, emosionele, seksuele en romantiese aangetrokkenheid speel alles ’n rol.

Seksuele oriëntasie kan daarom moeilik sonder meer as ’n gawe van God beskryf word, soos jy dit doen. Dit staan nie só in die Bybel nie. Dit is dus nie deel van God se openbaring aan ons nie.

Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as ’n seksuele oriëntasie beskryf deur sielkundiges (opdatering ter wille van duidelikheid: die APA het die begrip “oriëntasie” in DSM5 ná hewige teenkanting aangepas na “belangstelling”, maar beskryf pedofilie steeds as ’n normale belangstelling, nie as ’n afwyking, en in ons taal ’n sonde nie). ’n Mens sou pedofilie dan ook as ’n goeie gawe van God moet beskryf. Iets wat moeilik in ’n geloofsgemeenskap gedoen kan word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui