Ope brief van vroue in die GKSA oor VIDA

’n Groep vroue in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het ’n ope brief opgestel na aanleiding van die onlangse sinodebesluit om gemeentes met vroue-ouderlinge uit die kerkverband te sluit. Die volledige brief volg hieronder.

Kyk ook die volgende reaksies op hierdie brief:

*******

Ope brief deur vroue in GKSA oor VIDA

Hierdie brief het nié ten doel om ’n teologiese of Bybelse argument te voer nie. Ons (die ondertekenaars) probeer dus nie om standpunte met verwysing na spesifieke Skrifgedeeltes te bewys of te weerlê nie. Die doel van hierdie skrywe is eerder om ons eie gedagtes vanuit die intuïtiewe Skrif-gevormde aanvoeling van die lidmaat eerlik op papier te plaas.

Ons doen dit omdat ons nie wil hê die indruk moet ontstaan dat alle vroue in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika stilbly en alles sonder vrae of innerlike worsteling aanvaar nie.

Hierdie brief is daarom nie primêr bedoel (in die huidige formaat) vir publikasie in die openbare pers of media nie, maar word in die eerste plek aan ons plaaslike kerkrade gerig, as deel van ’n interne gesprek.

Ons wil dit ook duidelik stel dat ons nie pretendeer (voorgee) om namens alle vroue te praat nie, en dat ons nie as spreekbuise vir ander optree nie. Die menings en gevoelens wat hier uitgespreek word, verteenwoordig slegs onsself. Dit is bloot ’n vrouestem – een van vele moontlike stemme binne die kerk – wat ruimte vra om gehoor te word.

Ons rig die dringende versoek dat, by alle besluite wat vroue raak (nou én in die toekoms), hierdie stem van ons as deel van die geloofsgemeenskap erken, aangehoor en ernstig in die besluitneming verreken sal word.

Ons het met ontnugtering en teleurstelling kennis geneem van die besluit wat die sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) Dinsdag 6 Januarie 2026 geneem het.

Ons betreur die besluit dat gemeentes wat vroue as ouderlinge bevestig (het), hierdie praktyk binne ’n jaar moet beëindig aangesien dit strydig sou wees met ’n vorige sinodebesluit. Verder word hierdie gemeentes met uitsluiting uit die kerkverband gedreig – die sagter woord wat aangevoer word, is ‘selflosmaking’ (vgl. Meijer in “Dopper-dominee: Gemeentes het ’n jaar om vroue losmaking te gee”, Rapport, 18 Januarie 2026) – tensy hierdie vroue binne ’n jaar uit die amp verwyder word.

Dreigement

Die “dreigement”, soos waarna in die koerantartikel verwys word, is tegnies reeds uitgevoer en in werklikheid reeds geïmplementeer. Die besluit bepaal dat, indien gemeentes nie vroue-ouderlinge losmaak nie, hulle geag sal word hulleself losgemaak het. Ná een jaar tree die gevolge outomaties in: Die betrokke gemeentes word buite die kerkverband geplaas kragtens die bestaande besluit. Die klassis het in so ’n geval geen diskresie nie, maar moet bloot die feit konstateer en die gemeente van die reeds ingetrede gevolge in kennis stel.

Dié besluit volg op die oorweging van ’n meerderheid- en minderheidsrapport oor die “hantering van kerklike binding en die nie-toepassing van sinodebesluite”.

Van meet af aan ervaar ons hierdie besluit as tragies, vreemd en problematies, om die volgende redes:

1. Die kompleksiteit van Skrifuitleg en die gevaar van polarisering

Die besluit is ten diepste gegrond in die interpretasie van spesifieke Bybeltekste wat alle betrokke partye as gesagvol aanvaar, maar waaroor daar uiteenlopende verklaring en toepassing binne die GKSA bestaan. Die saak kan dus nie in eenvoudige terme verstaan of beoordeel word nie.

Dit blyk dat daar, ook internasionaal, hoofsaaklik twee kernbegrippe (of interpretasiestrome) rondom die posisie van die vrou in die besondere dienste in ’n gemeente bestaan. Die een groep hou by ’n streng letterlike uitleg van bepaalde Skrifdele en kom tot die gevolgtrekking dat vroue in die kerk moet stilbly en nie in leiersposisies mag dien nie. Die ander groep lees dieselfde Skrifdele (met inagneming van die hele Skrif) vanuit ’n ander hermeneutiese en eksegetiese raamwerk en is oortuig dat vroue wel geroep kan wees om hul gelyke gawes in diens van die koninkryk én die kerk te kan en moet gebruik. Laasgenoemde verstaan die Skrif só dat geslag nie ’n rol moet speel by die oorweging van die geskiktheid van ’n persoon om tot ’n besondere diens beroep te word nie.

Dit is opmerklik dat die sinode van 2009 juis versigtig te werk gegaan het deur oor die toelating van vroue tot die diakendiens goed te keur “in die lig van die Skrif”, maar oor die ouderlingsdiens soos volg besluit: “Die sinode het in die lig van die behandeling van die rapport tot die oortuiging gekom dat vroue nie in die besondere dienste van predikant en ouderling mag dien nie” (Kennisgewing aan die Gereformeerde Kerke, 1 Julie 2009). Die 2026-sinode verklaar egter nou die meerderheidsrapport se standpunt as “ongehoorsaam aan Christus” en dus onskriftuurlik.

Hierdie polarisasie herinner sterk aan die huidige politieke klimaat wêreldwyd, waar mense op oorvereenvoudigde wyse dikwels, na regte of nié, in ekstreme kampe gedwing word: óf radikaal links óf radikaal regs. Hier, in die konteks van die GKSA, is ons bevrees dat hierdie komplekse saak ook tot gevaarlike polarisasie gaan lei, met die gevolg dat liefdelose etikettering of swartsmeerdery plaasvind. Ekstreme polarisasie word gekenmerk deur fundamentele wantroue en morele diskreditering; iets wat ons hoop die GKSA ten sterkste en in liefde wil vermy. Ons wat glo dat die Here inderdaad ook vroue roep, poog nie om ons standpunt op enige party af te dwing of om mense moreel te diskrediteer nie, maar is bereid (en pleit daarvoor) om ruimte te laat vir eerlike verskil oor die uitleg van die Skrif, soos wat die 2009-sinode kennelik gedoen het.

Dit moet eerlik en nederig erken word dat beide hierdie interpretasiestrome nie neutraal na die Skrif kyk nie. In albei gevalle word die Bybel vanuit bepaalde voorafgaande oortuigings (maar steeds getrou aan die belydenisskrifte) gelees.

Sola Scriptura

Die gereformeerde belydenisskrifte spreek voorafgaande oortuigings aan deur ’n vaste interpretatiewe raamwerk te bied wat bepaal hoe gelowiges die Bybel verstaan. Sola Scriptura – die Skrif alleen is die hoogste gesag.

Die een uiterste punt van standpuntinname word beskuldig van liberalistiese, humanistiese en/of feministiese beïnvloeding van denke; die ander uiterste groep word beskou as beïnvloed deur patriargale en kultuurgebonde uitgangspunte sonder inagneming van die konteks. Tog is dit opvallend dat beide hierdie standpunte vanuit opregte oortuigings kom: dat húl argumente deur getroue en akkurate Skrifuitleg onderlê word.

Juis hierin lê die tragiek – maar ook die uitdaging: twee groepe wat dieselfde Skrif liefhet, dieselfde Here wil dien, en tog tot radikaal verskillende gevolgtrekkings kom. Om hierdie debat te reduseer tot bloot gehoorsaamheid aan Christus teenoor ongehoorsaamheid aan Christus, of geloof teenoor ongeloof, bekering en verderf, laat nie reg aan die werklike diepte en kompleksiteit van die vraagstuk geskied nie. Dit hou nie rekening met die vernuwingswerk waarmee Christus tans nog in sondaars besig is nie.

In die breër samelewing, en ook in die kerke, bestaan daar altyd ’n derde, meer gematigde groep – mense wat die kompleksiteit probeer erken en die spanning eerlik en in liefde wil hanteer.

Ons verstaan dat daar wel ’n middelgrondsoekende voorstel op die sinode gedien het, maar dat dit afgestem is. Ons wonder dus of daar tans werklik genoeg ruimte hiervoor gegun word in die kerklike gesprek oor hierdie saak?

2. Die werklike gevaar van kerkskeuring

’n Onmiddellike en baie reële gevolg van die besluit is die gevaar van kerkskeuring, en dit omdat plaaslike kerke in hulle gewete gebind word – soos wat in 1859 met die sing van evangeliese liedere gebeur het. Soos reeds wyd in die media berig is, kan die hardvogtige deurvoering van hierdie besluit tot ’n breuk binne ’n reeds klein en krimpende kerkverband lei.

Wanneer twee groepe binne een kerkverband vanuit die Skrif oortuig is van hul standpunt, is dit onrealisties en onwys om te dink dat een groep eenvoudig tot “inkeer” sal kom sonder ernstige gewetenskonflik. Die besluit smee nie eenheid nie – dit dwing onderwerping aan kerklike besluite, of anders uitsluiting af – wat in stryd is met die presbiteriale kerkregeringstelsel wat juis hiërargievorming wil voorkom.

Dit is opmerklik dat die besluit onder die vaandel van die hantering van kerklike binding geneem is.

Presbiteriale stelsel

Die GKSA aanvaar ’n presbiteriale stelsel (teenoor bv. presbiteriaanse, kollegialistiese, kongregrasionele of independistiese stelsels). Die presbiteriale stelsel is juis gemik op die voorkoming van hiërargie en magsmisbruik en sinodokrasie.

3. Nie ’n belydeniskwessie nie

Dit is belangrik om te beklemtoon: Hierdie is nie ’n belydeniskwessie of “wesentlike kwessie” of “gewigtige saak” nie – dit is nie ’n kernwaarheid van die Christelike geloof nie.

Ons wys op die volgende:

• Hierdie onderwerp kom nêrens in die Gereformeerde belydenisskrifte aan die orde nie.

• Die besluit berus op eksegetiese en hermeneutiese oorwegings oor ’n saak waaroor die Bybel self nie ondubbelsinnig of eenstemmig uitsluitsel gee nie.

Hermeneuse en hermeneutiek

Dit is belangrik om tussen hermeneuse en hermeneutiek te onderskei. Hermeneutiek raak die hele verstaansproses. Hermeneuse raak die wyse waarop die eksegetiese resultate (die betekenis toe-daar) oor die brug gebring word na die hede (die betekenis nou-hier). Daar word gereeld die ongeldige beskuldiging gemaak dat ons wat glo dat die Here wel vroue-ouderlinge roep, ’n ander (ongereformeerde) hermeneutiek volg.

• Daar is ernstige twyfel oor die konsekwente toepassing van basiese en kernbeginsels van Bybeluitleg (hermeneutiek en eksegese), veral die beginsel dat Skrifdele binne hul tekstuele, openbaringshistoriese en kultuurhistoriese konteks geïnterpreteer en verstaan moet word (’n vergelykbare voorbeeld sou byvoorbeeld wees hoe Nuwe-Testamentiese tekste oor slawerny vandag hanteer word);

• Die rol van die vrou in die besondere dienste is ’n kwessie waaroor Bybelgetroue kerke wêreldwyd nie eenstemmig is nie.

4. Besluitnemingsprosedure en magsuitoefening

Nog ’n beswaar teen die huidige sinodebesluit lê in die wyse waarop gesag uitgeoefen is (of wil word). Ons is van mening dat hierdie besluit wesenlik strydig is met die besluitnemingspraktyke wat in die Kerkorde van die GKSA self vasgelê is, en dat dit ’n gevaarlike verskuiwing in kerkregering verteenwoordig – veral aangesien daar ’n argument bestaan dat sommige persone wat na die sinode afgevaardig word strategies gekies word om bepaalde uitkomste te verseker. Sulke praktyke behoort uitdruklik deur die kerke veroordeel te word, aangesien dit die integriteit en geloofwaardigheid van die sinodale besluitneming fundamenteel aantas.

In ooreenstemming met die presbiteriale stelsel het die GKSA histories en prinsipieel gewerk vanuit die uitgangspunt dat elke gemeente outonoom onder die heerskappy van Jesus Christus funksioneer. Juis daarom het die Gereformeerde tradisie doelbewus wegbeweeg van ’n hiërargiese model waarin ’n sentrale liggaam finale en bindende gesag uitoefen. In die Gereformeerde kerkregering is sinodes nooit bedoel as heersende instansies nie, maar moet sinodes – soos die besondere dienste – die gesag van ons Here Jesus Christus bedien.

Reeds in 2009 het een van die ondertekenaars van hierdie brief ’n ernstige waarskuwing uitgespreek teen die toenemende sentralisering van gesag in die GKSA, en is daar ’n beroep gedoen dat individuele gemeentes self verantwoordelikheid moet neem vir besluite wat hul eie bediening en konteks raak. Die huidige besluit wek die indruk dat ons in 2026 selfs verder terugbeweeg na ’n hiërargiese, byna Middeleeuse kerklike magsmodel wat voorheen deur die Gereformeerde tradisie afgewys en verwerp is.

Die Kerkorde self stel hierdie beginsel duidelik. Artikel 84 bepaal: “Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.”

Teen hierdie agtergrond is dit moeilik om te begryp of te regverdig hoe die sinode homself die reg toeëien om verpligtende voorskrifte aan gemeentes (ook aan klassisse en streeksinodes) te gee, gepaard met dreigemente van uitsluiting.

Die besluit as dreigement

Sien die eerste kassie oor die gebruik van die woord “dreigement”. Besluit van die 2026-sinode, punt 4 en 5:

4.) Indien ’n kerk ná daardie tyd voortgaan om nie by die sinodebesluite te hou nie, word met droefheid deur die klassis aan die gemeentes in die GKSA gekonstateer dat daardie kerk ongehoorsaam aan Christus is en haarself van die GKSA as een kerklike gemeenskap losgemaak het.

5.) Indien ’n klassis in gebreke bly om dit te doen, sal die betrokke streeksinode die feit konstateer. Indien die betrokke streeksinode in gebreke bly om dit te doen, sal ’n volgende algemene sinode dit doen. Hierdie besluit stry met die presbiteriale stelsel en is tipies van ’n kollegialistiese stelsel.

Só ’n benadering kom neer op hiërargiese magsuitoefening, presies dit wat artikel 84 wil voorkom. Artikel 74 bepaal dat sekere sake op plaaslike vlak by die kerkraad hanteer moet word. Artikel 77 bevestig dat die tugbevoegdheid (waarop die sinode nou aanspraak maak) nie by meerdere vergaderings berus nie, maar in die gemeente self. In Gereformeerde kerkregering is die kerkraad die enigste liggaam wat direk deur Christus ingestel is vir die uitoefening van tug en dissipline – nie die sinode nie. Ons voer daarom aan dat die sinode in hierdie saak buite sy bevoegdheid opgetree het.

Indien die GKSA hierdie pad verder loop, staan ons nie meer binne ’n tradisie van voortdurende reformasie nie, maar binne ’n stelsel van sentralisering, beheer en institusionele selfbehoud. Dit is nie reformasie nie – dit is regressie.

Op die tema van besluitneming is dit ook vir ons vreemd dat die sinode juis die minderheidsrapport aanvaar het – ’n rapport wat vroue tot stilswye dwing – terwyl die meerderheidsrapport, wat vroue en hul gawes as volwaardig deel van die geloofsgemeenskap erken, van die hand gewys is. Ons verstaan dat die aard van die kerk en meerdere vergaderings wesenlik verskil van wêreldlike instellings soos die owerheid en howe. Ons besef die presbiteriale kerkregering funksioneer nie op demokratiese beginsels nie; waarheid word nie deur stemming bepaal nie, en een gelowige wat op ’n geldige Skrifbeginsel staan, kan in beginsel reeds die norm stel. Hierdie uitgangspunt kan egter nie dien as skild teen die afsonderlike en wesenlike vraag of daar in die betrokke besluitneming sprake is van onbillike diskriminasie nie. Hoewel howe huiwerig is om in godsdienstige aangeleenthede in te meng, het hulle dit wel in die verlede gedoen, veral waar daar sprake is van diskriminasie.

5. Die werklike onderwerp van die besluit: ’n tegniese rookskerm?

Dit is verál vreemd en problematies dat daar in werklikheid ’n besluit geneem is oor die plek van vroue in kerke onder die sluier en tegniese opskrif van “die hantering van kerklike binding en die nie-toepassing van sinodebesluite”. Hierin lê potensieel prosedurele en/of administratiewe onreg.

Waaroor het hierdie besluit dan regtig gehandel? Gaan dit oor alle soorte sinodebesluite wat nie nagekom word nie? Moet alle gemeentes wat enige van die sinodebesluite verontagsaam (tot ’n meerdere en mindere mate) binne die volgende jaar uit die kerkverband uitgewerk en losgemaak word? Indien dit die geval is, sal daar immers heelwat ander voorbeelde wees wat konsekwent ook onder die vergrootglas geplaas moet word. Ons dink byvoorbeeld aan gemeentes wat nie hul finansiële verpligtinge nakom nie en versuim om hul ramings te betaal. Word hierdie gemeentes ook onder “dreigement” geplaas om binne ’n jaar te voldoen — of geld hierdie streng toepassing slegs waar dit oor die besluit rakende vroue gaan?

Hierdie vraag en aanslag laat ’n mens met die agterdog dat die besluit nie werklik bedoel is om konsekwent toegepas te word op alle vorme van nienakoming nie, maar dat dit ’n selektiewe dogma is wat spesifiek en uitsluitlik op vroue gemik is. Hierdie indruk word verder versterk deur die feit dat ’n eksklusiewe fokus op die “vrou in die amp” tydens die sinodedebat uitdruklik bevraagteken is, en dat ’n breër fokus doelbewus van die hand gewys is.

Kredensie

Dit is die moeite werd om in gedagte te hou dat daar tydens die sinode ook ’n parallelle aanslag was onder die vaandel van kredensie (aanvaarbaarheid van die geloofsbriewe van kerke wat vroue-ouderlinge het).

Indien daar waarheid in laasgenoemde is, en ons vermoed dit wel, is die besluit uiters problematies. Dan maak dit sin dat skrywers soos dr. Wim Vergeer op 11 Januarie 2026 in Rapport die harde vraag vra: “Is die Gereformeerde Kerk dan ’n mannekultus?” Soortgelyk is Christina Landman se meningstuk van 25 Januarie “Neem die Dopper-mans wraak teen vroue?”; en Jean Oosthuizen se stuk van 18 Januarie: “Doppers vermom geslagsgeweld as kerklike dogma”. Alhoewel ons waarskynlik nie die woord “geslagsgeweld” sou gebruik nie – en dalk eerder “geslagsdiskriminasie” – is ons bevrees dat hierdie opskrifte waarheid bevat.

Geslagsdiskriminasie en feminisme

’n Ander probleem is natuurlik dat die groep mans wat die besluit geneem het, maar ook vroue, die idee van “geslagsdiskriminasie” nie noodwendig as enigsins gesaghoudend beskou nie. Volgens baie van hulle is dit dieselfde as “woke” en feminisme: wêreldse idees waarmee die “dwalende” gemeentes gebreinspoel is. (Bron: Facebook, My Dopperdagboek [’n privaat groep]).

6. Die persoonlike en pastorale impak

Op persoonlike vlak tref hierdie besluit ons op verskillende maniere op besonder pynlike wyses. Dit tref, omdat ons so lief is vir die Here en Sy kerk en onsself tuis en geborge voel in hierdie spesifieke gemeenskap van gelowiges. Ons is (die meeste van ons vanaf geboorte) deel van die GKSA, soos die GKSA deel is van ons. Ons wil ons ook nie by enige ander kerk voeg nie. Ons sal eenvoudig nie daar tuis wees nie. Van ons stam direk van die oorspronklike stigters van die GKSA af. Dis wie ons is. Ons betreur ’n besluit wat ons dreig met uitwerping en verwerping. Ons betreur dit om te hoor dat ons wat gawes van lering en leiding ontvang het, nie daardie gawes in ons kerke mag gebruik nie. Dit maak seer om te hoor dat ons nie in die GKSA welkom is nie. Dit maak seer om in ’n gemeenskap te bly waar óór ons besluit word sonder dat ons (ooit) ’n stem (gehad) het of ooit geraadpleeg is. Só herinner die artikel van Johan Eybers op 25 Januarie 2026 in Rapport ons aan die 2003 dokumentêr “Hoor haar stem ook; getuienis van Gereformeerde vroue”. Die artikel se titel is: “Doppers se besluite maak mense van vlees en bloed seer, sê vroue”.

Die dokumentêr

Hierdie dokumentêr is in 2003 vervaardig, en gebruik ter ondersteuning van die beswaarskrif teen die 1988-sinode se besluit oor die nie-toelating van vroue tot die besondere dienste van ouderling en predikant. In die video beskryf 13 Gereformeerde vroue hul persoonlike geloofservarings: oomblikke waarin hulle oortuig was dat God hulle roep, maar waarin die kerke vir hulle gesê het daardie roeping is onaanvaarbaar, verkeerd of onmoontlik, en is hulle daaroor tot “bekering” opgeroep.

Ten spyte daarvan dat ons nie in die besluit geken is nie, moet ons wel magteloos toekyk hoe die (nadelige) gevolge daarvan veel verder strek as net vir vroue: Dit bring nie net in sekere gevalle onderlinge konflik mee nie, maar raak nou ’n hele geloofsgemeenskap – kerkraadslede, predikante, emeriti, hele gemeentes, mans en kinders. Die implikasies van die dreigende kerklike uitsluiting strek só wyd dat dit die potensiaal het om sekere predikante se werksekerheid (oor ’n jaar van nou) in gevaar te stel. Ons wil die saak nie voortydig vooruitloop nie, en is natuurlik bewus van die feit dat ’n predikant se bedieningsooreenkoms nie ’n streng arbeidsregtelike verhouding is nie (aangesien hy deur die plaaslike gemeente beroep en bevestig is, en deur daardie kerk versorg moet word), maar daar bestaan tog baie onsekerheid.

Predikant se toekoms

Daar heers byvoorbeeld onsekerheid oor ’n predikant se toekoms (die moontlikheid, of nie, van ’n beroep na ’n ander gemeente in die GKSA).

Dit het selfs ’n impak op emerituspredikante (en hul versorging). Uiteindelik raak dit die voortbestaan van die kerkverband. Die implikasies van hierdie besluit is dus verreikend – en gewoon roekeloos en liefdeloos.

Verder is dit ’n welbekende feit dat daar GKSA-gemeentes is wat sukkel om genoeg manlike ouderlinge te kry om die bedieningswerk te verrig. Dít terwyl daar vroue in kerke sit wat beskik oor die gawes en vaardighede – soms selfs in ’n meerdere mate as sommige mans – om wel as ouderlinge te dien. Om hulle te verbied om dit te doen, is nie net onlogies nie – dit werk geestelike verarming in die hand.

Wat moet ons as vroue binne hierdie konteks doen? Moet ons, anders as Priscilla in die Bybel, maar net stil sit en ons diens beperk tot teeskink en broodjies smeer? Dit is om jou talente onder ’n maatemmer weg te steek en jou lamp sonder olie te laat. Die Here gee immers gawes sodat ons dit inderdaad sal gebruik.

7. ’n Lewe in twee wêrelde

Nog ’n rede waarom die besluit ons uiters ongemaklik stem, is dat daar binne die GKSA baie vroue is wat daagliks met gesag, insig en verantwoordelikheid optree – nie net in ’n wye verskeidenheid beroepe (waar diesulkes as leiers optree, kennis deel, ander leer, onderrig en help) nie, maar ook (en dalk veral) as moeders en versorgers wat saam met hul eggenote draers is van hul kinders se geloofsvorming. Baie vroue word, saam met of sonder ’n eggenoot, toevertrou met die diepste en mees fundamentele vorm van onderrig: om hul kinders te leer bid, die Bybel te lees, geloof te verstaan en Jesus Christus prakties ná te leef.

Teen hierdie werklikheid word dit byna onverklaarbaar dat dieselfde vroue in hul gemeentes en op meerdere vergaderings veronderstel is om stil te bly – nie mag leer of leiding neem nie. Dink die besluitnemers werklik dat dié vroue nie die innerlike spanning en selfs absurditeit hiervan raaksien nie? Moet diesulkes hulle laat manipuleer tot ’n identiteitskrisis waarin hulle vyf of ses dae van die week as volwaardige morele en geestelike mens mag funksioneer, maar vir die uur of twee in die kerkgebou tot ’n ander, mindere mens en rol gereduseer word?

Hierdie spanning verdiep in die lig daarvan dat vroue wel toegelaat word om deel te neem aan die beroeping van predikante, ouderlinge en diakens. Dié interne inkonsekwentheid is moeilik versoenbaar met beginsels van die gereformeerde roeping.

8. Dalende getalle en triomfantelikheid

Daar is ’n ernstige en breër kommer oor die drastiese afname in lidmatetal binne die gemeentes, en die GKSA-kerkverband in die algemeen. Die beskikbare statistiek (sien die bylaag hieronder) toon reeds ’n geruime tyd ’n duidelike en volgehoue dalende tendens. Indien hierdie tendens voortduur, is die toekomstige lewensvatbaarheid van die kerkverband in werklike gevaar.

Om dan nog kerklike besluite te neem – of selfs openlik te vier (soos inderdaad deur sommiges gedoen word, insluitend sommige predikante) – wat groot dele van die geloofsgemeenskap vervreem en uitsluit, en dit slegs te regverdig met die argument dat sogenaamde “suiwerheid” belangriker sou wees as getalle en kerkgroei, is nie net pastoraal onverantwoordelik nie, maar ook strategies kortsigtig.

‘Ware’ en ‘suiwere’ kerk

Op hierdie punt is dan van waarde om daarop te wys dat die Nederlandse Geloofsbelydenis in artikel 29 die merktekens van ’n “ware kerk” bely – nie die merktekens van die “suiwere kerk” nie.

Die Bybel roep die kerke nie op om doelbewus kleiner te word ter wille van een enkele en ’n eng verstaan van suiwerheid nie, maar om die Evangelie wyd en ruim te verkondig, mense in te nooi, te leer en te doop. Die laaste en grootste opdrag wat Jesus aan sy kerk gegee het, is nie om grense te sluit nie, maar om grense oop te maak.

’n Kerk wat nie ernstig reflekteer oor haar eie afname en die redes daarvoor nie, en wat numeriese inkrimping as ’n teken van getrouheid romantiseer, loop die risiko om al verder te verklein totdat sy uiteindelik irrelevant en marginaal word binne die samelewing wat sy juis geroep is om te dien.

Dit is miskien dan nie vreemd om te sien dat weinig jong mense predikante wil word nie – die dalende getal Gereformeerde teologiese studente is maar een voorbeeld hiervan.

9. Sosiale verantwoordelikheid

Daar is soveel ander dringende sake waaroor die Gereformeerde Kerke hulle behoort te bekommer: die krimpende gemeentes, armoede, en geweld teen vroue en kinders, om net ’n paar te noem. Vrae soos waar en hoe nuwe gemeentes geplant word, bly grootliks onbeantwoord. Dit is kwessies met diep pastorale, morele en missionale implikasies. Tog sien ons min duidelike besluite of uitsprake van die 2026-sinodesitting oor hierdie sake.

10. Oproep tot transformasie

Ons kan dus nie anders as om ons besware te opper by kerkrade nie, en ons kan ook nie anders as om ernstig te begin nadink oor ons plek binne ’n kerkverband waarin ons toenemend minder ruimte vir openhartige gesprek ervaar nie. As ons in die kerk stilgemaak word, watter ander opsie het ons as om hieroor in die openbaar te praat?

Indien die GKSA nie bereid is om voortdurend te reformeer nie, maar eerder beweeg in die rigting van die hardvogtige toepassing van reëls, verharding en regressie, en sinodokrasie waar die selfstandigheid van die plaaslike kerk misken word, word ons genoodsaak om eerlik te besin oor waar ons staan en oor hoe ons roeping binne die liggaam van Christus gestalte moet kry.

Ecclesia reformata, semper reformanda.

Gebed en smeking

Ons bede is dat ons die vrede van God sal ontvang, soos beskryf in Filippense 4:6-9: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ondertekenaars

  1. Nickey Janse van Rensburg, GK Randburg
  2. Germarie Viljoen, GK Potchefstroom – Die Bult
  3. Willemien Du Plessis, Potchefstroom Oos
  4. Janien Linde, GK Potchefstroom – Die Bult
  5. Martha Van der Walt, GK Potchefstroom – Die Bult
  6. Nan Viljoen, GK Wapadrant
  7. Sunita Kruger, GK Randburg
  8. Nan Viljoen, GK Wapadrant
  9. Anja Viljoen, GK Potchefstroom – Die Bult
  10. Lizette Van Wyk, GK Randburg
  11. Annemarie Van der Westhuizen GK Stellenbosch
  12. Heilna Du Plooy, GK Paarl
  13. Jeanette Janse van Rensburg GK Klerksdorp
  14. Corrie Rheeder, GK Potchefstroom Oos
  15. Marieta Kotze, GK Randburg
  16. Karina Erasmus, GK Strand
  17. Cornelia Wessels, GK Potchefstroom – Die Bult
  18. Albertha Oosthuizen, GK Linden
  19. Anoniem XXX, XXX
  20. Alna Smit, GK Wapadrant
  21. Desiree Muller, GK Potchefstroom – Die Bult
  22. Anoniem XXX, XXX
  23. Veronica Van Rooy, GK Randburg
  24. Anoniem XXX, XXX
  25. Alicia Klem, GK Krugersdorp
  26. Elsabé Welman, GK Randburg
  27. Sienie De Klerk, GK Potchefstroom – Die Bult
  28. Suzette Coetzee, GK Potchefstroom – Die Bult
  29. Anél Du Plessis, GK Stellenbosch
  30. Corleen Van Aswegen, GK Klerksdorp
  31. Hanneli Linde, GK Secunda
  32. Anoniem XXX, XXX
  33. Sandra Swanepoel, GK Stellenbosch
  34. Ingrid-Louise Viljoen GK Potchefstroom – Die Bult
  35. Elma Fleischmann, GK Kaapstad
  36. Sandra Swanepoel, GK Stellenbosch
  37. Johanna Muller, GK Kleinmond
  38. Marinelda Van Niekerk, GK Wapadrand
  39. Magda Prinsloo, GK Wapadrant
  40. Kobie Janse van Rensburg GK Randburg
  41. Karina Voogt, GK Randburg
  42. Louise-Mari Muller GK Stellenbosch
  43. Emmie Griffioen, XXX
  44. Aletta Slot, GK Wapadrant
  45. Welma Prinsloo, GK Linden
  46. Marsia Simpson, GK Randburg
  47. Anoniem XXX, XXX
  48. Marietjie Van Aswegen, GK Klerksdorp
  49. Marietjie Potgieter, GK Brooklyn
  50. Wilna Pelser, GK Brooklyn
  51. Anoniem XXX, XXX
  52. Cornelia Wessels, GK Potchefstroom – Die Bult
  53. Linette Nolte, GKL
  54. Ester Marais, GK Wapadrant
  55. Gerda Naudé, GK Randburg
  56. Christien Van der Waal, GK Stellenbosch
  57. Marlet Homan, GK Randburg
  58. Erika Hitge van Rooyen GK Randburg
  59. Martie Saunders, GK Oos Londen
  60. Rone Potgieter, GK Randburg
  61. Mari Harris, GK Randburg
  62. Nadia Hancke, GK Linden
  63. Barbara Erasmus, GK Wapadrant
  64. Anoniem XXX, XXX
  65. Elize Johl, GK Randburg
  66. Anlia Pretorius, GK Randburg
  67. Hantie Krüger, GK Amanzimtoti
  68. Nina Potgieter, GK Randburg
  69. Sunette Janse van Rensburg (Junior), GK Randburg
  70. Nina, Brink, GK Potchefstroom – Die Bult
  71. Em, Volschenk, GK Potchefstroom Oos
  72. Janine, Raubenheimer, GK Brooklyn
  73. Tineke, Harris, GK Randburg
  74. Natasja, Fourie, Robertson
  75. Ina Honning, GK Stellenbosch
  76. Sunette Janse van Rensburg GK Randburg
  77. Jannet Gildenhuys, GK Kaapstad
  78. Gerrie Lotriet, GK Randburg
  79. Amanda Venter, Randburg
  80. Erina Bain, GK Strand
  81. Mariette Hitge, GK Potchefstroom – Die Bult
  82. Marleen Van der Walt, GK Wapadrand
  83. Anoniem XXX, XXX
  84. Anoniem XXX, XXX
  85. Anoniem XXX, XXX
  86. Daleen Butow, GK Randburg
  87. Annerooy/Mashudu Helberg, Louis Trichardt
  88. Selmi, Ebersohn, GK Randburg
  89. Francine Louw, GK Trinitas Vanderbijlpark
  90. Tinie Du Plessis, GK Warmbad
  91. Marieta Oosthuizen, GK Wierdapark
  92. Wilhelmina Van Rooyen, GK Randburg
  93. Caro Smit, GK Randburg
  94. Marietjie Griffioen, GK Linden
  95. Fransa Vorster, GK Potchefstroom – Die Bult
  96. Daleen Hoogendyk (Linde) Pietersburg
  97. Karina Coetzee, GK Potchefstroom – Die Bult
  98. Hesmé Schoeman, GK Potchefstroom – Die Bult
  99. Megan van der Westhuizen
  100. Ment Larney, GK Potchefstroom Oos
  101. Susan Conradie, GK Potchefstroom – Die Bult
  102. Elize Du Plessis, GK Trinitas
  103. Sophia Du Plessis, GK Stellenbosch
  104. Ineke Du Preez, GK Wapadrant
  105. Martjie Roos, GK Kleinmond
  106. Hannatjie Vorster, GK Potchefstroom – Die Bult
  107. Annemarie Maritz, GK Stellenbosch
  108. Ronel Swanevelder, GK Wapadrant
  109. Annemaré De Kock, GK Wapadrant

5 thoughts on “Ope brief van vroue in die GKSA oor VIDA”

  1. Rakende die stelling in die ope brief:
    “Hierdie onderwerp kom nêrens in die Gereformeerde belydenisskrifte aan die orde nie.”

    Die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikels 30 en 31, is egter wel direk van toepassing.
    http://cjbf.co.za/belydenisse/afrikaans/2aNGB.pdf

    ARTIKEL 30: DIE REGERING VAN DIE KERK
    … Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies
    word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee. [1 Tim 3:1-2]

    ARTIKEL 31: DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK
    … Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê
    dat dit van God kom. …

    1. Wat presies bedoel hulle met ‘hierdie onderwerp’?
      Daar is meer as een aantwoord in daardie konteks.
      Die belydenisskrifte se sommige dinge nie eksplisiet aangesien dit as vanselfsprekend aanvaar was. In die postmoderne era word dit nie meer so binne die samelewing aanvaar nie. Voorbeelde hiervan is gesag (outoriteit) en geslagsrole. En dis mos eintlik die groter onderwerp van dit bo. Die ‘groep vroue’. wil mos juis die ‘nuwe idees’ van geslagsrole in die kerk implementeer. Ook as dit in stryd met die skrif en die skepingsorde is.

  2. Die belangrikste boodskap van alle tye nl dat Chritus uit die dood opgestaan het, is deur 3 vroue oorgedra.

  3. Hi, Daniel, ek het vanoggend op rsg gehoor dat daar al 380 persone is wat hierdie ope brief onderteken het. Het jy miskien die nuutst skakel daarvan? Die dokument en skakel wa jy vir my gewhatsapp het, het ‘n klompie name gehad. Of miskien tel my voice over op die foon nie die name op wat intussen bygevoeg is nie? Groete Cliff

  4. Huidige reaksie oor dié onderwerp is bloot ‘n simptoom van ‘n veel groter konstruksie in problematiese gedagtegange. Die blote rede dat soveel vroue ‘n ander oortuiging begin aanvoer oor ‘n onderwerp wat gelowiges vir duisende jare vanuit ‘n baie duidelike lig beskou het, is tekenend van die blindheid van eie leiers aangaande aanleidende drywers wat tot ontwikkeling van die moderne era se eie ‘skewe lig’ bygedra het.

    Dié ‘moderne lig’ is besonder kleurryk, soos die vere van ‘n pronkerige pou se stertvere. Sodra mens die Bybel per ‘menslike beskouing’ soos ‘n deursigtige glas-piramide gebruik om die lig daarvan op te breek, en te fokus net op sekere kleurfrekwensies, en dan selfs die oog van ándere – soos ‘n valse profeet/apostel – met groter intensiteit te laat fokus met ‘n vergrootglas na die sogenaamde diepte en fyn nuanses binne-in in ‘n bepaalde kleur (soos bv ‘emosies’), is mens met niks anders besig as om die historiese aard van die Bybel te begin verander nie. Of ten minsste ‘twyfel’ te begin skep by mense nie. Ons almal weet wie was die outeur van ongeloof in die tuin van Eden, en God was nie die outeur van daardie ongeloof nie.

    In ‘n ‘essay’ deur DANIEL SKEFFINGTON, “On the uses of a legendary past’’ en gedateer 18 November 2025 (https://engelsbergideas.com/essays/on-the-uses-of-a-legendary-past/), bespreek hy die selfgerigte aard van persone wat geskiedenis herinterpreteer tot bevordering van hul eie agendas, bv:
    “In 2021, months before his ‘special military operation’ to annex the Donbas, President Vladimir Putin published his essay on the historical unity of the Russian and Ukrainian peoples. As was soon pointed out by a number of eminent historians and essayists, the piece is historical nonsense. Yet, despite its dubious credentials, it is a key document for understanding contemporary Russian political thought, particularly its ‘grand strategy’. Beyond the spurious interpretations of Russian and Ukrainian political histories, it is a major statement on the ambitions and worldviews of the Russian leadership, stretching beyond Putin to include his likely successors, political elites, and senior commanders. Such distortions of history have played a crucial role in Russia’s military campaign. Indeed, memory and politics have become integral to creating and sustaining Russian state mythology, legitimising the initial war aims while contributing to a culture in which war is, and continues to be, legitimised. This is not just a Russian anomaly. The Chinese Communist Party has recently been reinterpreting its historical memory of the Second World War, seeking out moral foundations for its national identity while attracting greater international recognition; an exercise in ‘self-legitimation, control and strategic posturing’. “

    Kan die kerk se leiers – en hier praat mens nou met die manne – waarlik sê dat hul harte onverdeeld was vir dekades oor die historiese gewigtheid van sovele sake in die Bybel? As ‘n man se hart waarlik onverdeeld was – en sy eie boesem ontbloot was in sy binnekamerlewe en met die Bybel – sou sy vrou hoegenaamd eers ‘n ander opinie begin aanvoer het?

    Ongelukkig het mens ook geleer, mens praat maar meestal met ‘n muur, want ‘indiepte self-introspeksie’ is gewoonlik afwesig by 99.99999% van die kerk se lidmate, wat boekdele spreek van die leraar se eie geestelike toestand. En in 1912 het Andrew Murray in Suid-Afrika alreeds gespreek van ‘n geweldige biddeloosheid onder leraars. Wat sou hy spreek in 2026?

    En die kerk dink selfs – en ek praat hier met die manne – dink hul het waarlik die Gees se oor, maar hul kies maar ook net die dele wat hul pas? Wie is nou eintlik die pronkerige pou in hierdie verhaal?

    Hul het GOD lankal verstoot op sovele ander wyses, so die ‘vroue leraar aspek’ is maar net een van vele finale stuiptrekkings van ‘n konstruksie van die ‘self’ wat dínk hul ken GOD se Hart.

    Praat help vir dekades nie meer nie. ‘Vroue leraars’ dink ek is problematies, maar dit is beslis nie die enigste probleem nie (ook vir dekades). Maar ‘n harde en onverskillige hart wat weier om te buig voor die Skrif, is ook ‘n wilsbesluit van die mens. God dwing Homself nie af op die mens nie. En dit geld vir alle kerke en al hul dogmas wat die Skrif ‘skeeftrek’ om in parallel met hul eie denke te laat ‘loop’. Altans, hul meen hul is in ‘parallel met die Skrif’ en spog selfs daaroor. Dit is ‘n baie gevaarlike pad om te loop sou mens dink jyself is ‘in-parallel-met-die-Skrif’. Die duiwel het ook só gedink.
    _______________________________________
    Jeremia 3:1  Hy sê: As ‘n man sy vrou verstoot, en sy gaan van hom af weg en word ‘n ander man s’n, kan hy dan nog na haar teruggaan? Sal daardie land nie skandelik ontheilig word nie? En jy het met baie minnaars gehoereer en wil na My terugkom, spreek die HERE! 
    Jeremia 3:2  Slaan jou oë op na die kaal heuwels en kyk! Waar is jy nie onteer nie? Aan die paaie het jy vir hulle klaar gesit soos ‘n Arabier in die woestyn, en jy het die land ontheilig deur jou hoererye en deur jou boosheid. 
    Jeremia 3:3  En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het ‘n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam. 
    Jeremia 3:4  Het jy My nie nou eers aangeroep nie: My Vader, die vertroude Vriend van my jeug is U! 
    Jeremia 3:5  Sal Hy vir ewig die toorn behou, of dit vir altyd bewaar? Kyk, dit het jy gesê, maar jy het slegte dinge gedoen tot die uiterste toe. 
    Jeremia 3:6  En die HERE het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer. 
    Jeremia 3:7  En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien. 
    Jeremia 3:8  En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het. 
    Jeremia 3:9  En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout. 
    Jeremia 3:10  Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die HERE. 
    Jeremia 3:11  Toe het die HERE vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda. 
    Jeremia 3:12  Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die HERE. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die HERE; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie. 
    Jeremia 3:13  Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE. 
    Jeremia 3:14  Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring. 
    Jeremia 3:15  En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand. 
    Jeremia 3:16  En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die HERE, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie. 
    Jeremia 3:17  In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie. 
    Jeremia 3:18  In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het. 
    Jeremia 3:19  Ék het wel gedink: o Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ‘n kosbare land, ‘n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie. 
    Jeremia 3:20  Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die HERE. 
    Jeremia 3:21  ‘n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het. 
    Jeremia 3:22  Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God. 
    Jeremia 3:23  Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die HERE onse God is Israel se heil. 
    Jeremia 3:24  Maar die Skandegod het die goed van ons vaders opgeëet van ons jeug af, hulle kleinvee en hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters. 
    Jeremia 3:25  Ons wil neerlê in ons skande, en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die HERE onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van die HERE onse God nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui