NG Kerk Namibië maak bande los met Algemene Sinode
Juig!, Mei 2025
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Namibië het besluit om hul verbintenis met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika te beëindig. Hierdie besluit is geneem tydens ‘n vergadering op Donderdag 20 Maart 2025 in Windhoek, waar ‘n tweederdemeerderheid van afgevaardigdes van 42 gemeentes die stap gesteun het.
Resultaat van jarelange spanning
Die besluit is die resultaat van ‘n langertermynproses van nadenke, gesprekke en oorsig, en spruit uit jarelange spanning oor bepaalde besluite en rigtings wat deur die Algemene Sinode ingeslaan is, veral ten opsigte van kwessies soos selfdegeslagverhoudings en die hantering van belydenisskrifte. Reeds in 2016 het die NG Kerk in Namibië ‘n taakspan aangewys om hul verhouding met die Algemene Sinode te herevalueer. En in 2022 het die Namibiese Sinode ‘n sogenaamde “Matteus 18”-pad begin stap -’n Bybelse dissiplinêre proses wat die Algemene Sinode tyd gegee het om afstand te doen van besluite wat as onbybels beskou is, voordat bande finaal verbreek sou word.
Om die gemeenskap beter te kan dien
Die besluit behels dat die NG Kerk in Namibië voortaan selfstandig sal funksioneer, sonder formele ondergeskiktheid aan die Algemene Sinode. Volgens die kerk is hierdie stap geneem om hulle in staat te stel om plaaslike uitdagings en roepings binne die Namibiese konteks meer direk aan te pak.
Nie ‘n breuk met die breër NG Kerk-familie nie
Hoewel die stap dalk as drasties beskou kan word, beklemtoon die Namibiese kerk dat dit nie ‘n breuk met die breër NG Kerk-familie is nie. Bi-laterale gesprekke en toekomstige samewerking op bepaalde terreine bly moontlik, maar die bestaande sinodale struktuur en gesag sal nie meer van toepassing wees nie.
Algemene Sinode reageer met hartseer, maar begrip
In reaksie op die besluit het die bestuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika met “hartseer” gereageer maar ook hul waardering uitgespreek vir die erns en sorg waarmee die besluit oorweeg is. Hulle hoop om die Namibiese kerk binnekort formeel te ontmoet om die pad vorentoe en ‘n moontlike nuwe wyse van samewerking te bespreek.
NG Kerk Namibië neem voortaan eie bestuursbesluite
Die besluit beteken dat die NG Kerk in Namibië voortaan sy eie sinodale bestuur sal hê, onafhanklik van die besluite en beleidsrigting van die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.
Kerk
God het lankal nie meer in julle ‘n behae nie.
Julle godsdiens is tevergeefs.