Nee, dominees, liefde is nie onvoorwaardelik nie

Kyk ook:

Nee, dominees, liefde is nie onvoorwaardelik nie | Netwerk24

Prof Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein

24 Oktober 2019

Iemand stuur aan my ’n foto van die vorige moderator van die NG Kerk wat ’n T-hemp vertoon met die woorde “Love is love”, die slagspreuk van die LGBTQ+-beweging.

Alle seksuele oriëntasies word deur die liefde geregverdig. As daar liefde is, is alles reg. Want liefde, sê 1 Korintiërs 13, is die belangrikste.

Die Algemene Sinode het besluit dat alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, as predikante of kerkraadslede gekies mag word en die sakramente mag ontvang of bedien.

Volgens die situasie-etiek van Fletcher, Robinson en Tillich is die liefde die kompas van alle etiese gedrag. Selfs wanneer die Tien Gebooie nee sê, kan daar situasies wees wat oortreding van die wet noodsaak omdat die liefde dit vereis. Dan is dit nie meer “Jy mag” nie maar “Jy moet”.

Dit klink só reg. Tog is dit só verkeerd.

Hierdie soort natuurlike teologie verwring die Bybelse konsep van liefde en skep daarmee die indruk dat alles wat uit liefde is, moreel aanvaarbaar is.

Die wortel van hierdie dwaling is die veronderstelling dat die liefde onvoorwaardelik is.

Die Skrif hanteer nooit die liefde as enigste norm nie.

1 Korintiërs 13 verduidelik wat liefde is en nie is nie, en verbind die liefde aan geloof en hoop.

Wie sy naaste liefhet, sal nie die naaste op enige manier te na kom nie (Rom. 13).

Jesus se liefde aanvaar nie immorele gedrag nie (Joh. 4 en 8).

Wie God bo alles liefhet, sal graag wil lewe soos Hy verwag. Jesus sê in Johannes 15:10: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly.

Die teologiese debat is vir baie gelowiges onaanvaarbaar.

Word enige seksuele oriëntasie op grond van die liefde nou aanvaar?

Voorstanders van die LGBTQ+-beweging kan duidelik nie op die liefde as morele reg verdiging teruggryp nie. Hoe kry predikante wat van beter behoort te weet, dit dan reg?

3 thoughts on “Nee, dominees, liefde is nie onvoorwaardelik nie”

  1. Hallo Daniel,
    Keer op keer in die Bybel (Ou en Nuwe Testamente) verduidelik die Bybel wat word bedoel met die eerste gebod. God sê dat liefde vir Hom gelykstaande is aan gehoorsaamheid aan sy gebooie. Wanneer God vir ons iets in sy Woord laat opteken, is dit belangrik. Indien Hy dit herhaal, moet ons ernstig daarop ag slaan en wanneer dit sewe maal in die Woord gesê word, is dit uiters belangrik. God se heiligheid en sy aandrang op die eerste gebod is egter só belangrik, dat Hy dit meer as sewentig keer herhaal. Keer op keer op keer gee Hy vir ons dieselfde maatstaf van Eksodus 20:6 af: “Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.” So ook in Dan. 9:4 “Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam.”
    Jesus herhaal dit ook telkemale soos in Joh. 14:15: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” Net ’n paar verse verder in Joh. 14:21 sê Hy: “Wie my opdragte het en dit uitvoer––dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet (dus, wie my gebooie hou), hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”
    Om God lief te hê beteken om in gehoorsaamheid te leef soos wat Hy ons leer in sy Woord. Nêrens in die Bybel kry ons enige ander definisie van “liefde vir God” nie. Dit bestaan nie in ’n warm en wollerige gevoel nie. Ons kan en moet vir seker ’n passie vir Hom hê en ’n passie om sy wil te doen soos die psalmskrywer dit uitroep in Ps. 112:1 “Prys die Here! Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.” ’n Gelowige wat in dankbaarheid vir sy verlossing uit sy sondige verlede in gehoorsaamheid aan God lewe, ervaar sekerlik wonderlike emosies wat verband hou met sy spesiale band met die Drie-enige God. Hierdie belewenis is egter die gevolg van liefde vir God en nie op sigself liefde vir God nie.
    Jesus waarsku ook in Joh. 14:23: “Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”

  2. Die Liefde tog. Jare terug, in die tye van die grensoorlog, hoor ek van ’n lidmaat wat by sy buurvrou gaan slaap in die tyd wat haar man op die grens is… Om haar wat so eensaam is te gaan beskerm en vertroos…
    Alles ter wille van “die liefde”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui