Magsblok verwoes weer ’n enkeling

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Magsblok verwoes weer ’n enkeling | Netwerk24

Rapport, 15 Januarie 2023

Marius Krige, Hermanus, skryf:

Die berig “Verhoor het my teologies verkrag” laat die wenkbroue lig. Dr. Peter Nagel word verhoor nadat hy ’n akademiese navorsingstuk geskryf het aangaande die vraag of Jesus God is. Sekerlik ’n geldige vraag aangesien daar in die tweede eeu ná Christus ernstige meningsverskille was.

Watter verwaandheid is dit van onder andere ds. Chris van Wyk om ’n gerekende navorsingstuk in die vaktydskrif Neotestamentica so te wil onderdruk. Wat is hier aan die gang? Word die behoudende magsblok van die NG Kerk alweer ingespan om ’n enkeling te verpletter en dit omdat eerlike navorsing gedoen word?

Wel vra ds. Van Wyk hiermee ’n pertinente teenvraag. Daar word twee geslagsregisters van Jesus opgeteken. Die een in Matteus en die ander in Lukas. Vergelyk ons die twee merk ons dat hulle hemelsbreed verskil! Slegs die naam Josef en ’n handvol ander stem ooreen. Waarom dié radikale teenstrydigheid?

Hoe is dit moontlik dat ons die Jesus-verhaal al voor sy geboorte so verkeerd het? Wat van die res? Voortvloeiend mag ’n tweede vraag gestel word. As Jesus uit ’n maagd gebore is, wat het Josef se geslagsregister met die saak uit te waai? Ds. Van Wyk, julle het ’n berekende onreg teen ’n individu gepleeg en dit behoort reggestel te word. Nou, ná 2000 jaar, bly Pilatus se vraag “Wat is waarheid” steeds onbeantwoord!

Kommentaar

Daniel Louw

Marius Krige verwys na verskillende geslagsregisters en wat Josef se geslagsregister met enigiets uit te waai het as Jesus maagdelike verwek het. Hierdie kwessie word bespreek in Jesus se geslagsregister volgens Matteus en Lukas.

‘n Mens is in die versoeking om te sê: as Marius sulke basiese dinge nie weet nie, dan trek mens sommer ‘n streep deur sy hele brief.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui