Kerk pleeg nog sy eeue oue terreur

*******

BRIEF | Kerk pleeg nog sy eeue oue terreur | Rapport

Sondag, 15 Januarie 2023

Dr. Chris de Wit, Somerset-Wes, skryf:

Die berig oor die “teologiese verkragting” van die jong en weerlose predikant Peter Nagel was genoeg om mens met weersin teenoor die kerk se priesterlike orde te vervul. Daarmee is nog ’n daad van teologiese terreur, wat die kerk so ywerig op grond van sy basislose dogma deur die eeue gepleeg het en daarmee duisende lewens vernietig het, tot uitvoer gebring.

Sal die kerk se oë dan tog nie eendag oopgaan en die ware Jesus herken wat sy hand so hardnekkig opsteek nie?

In my boek Die dogmatiese drogredes van die kerk deur die eeue: Die tweede kruisiging van Jesus by Nicaea in 325, is daar ’n volledige beskrywing van die historiese agtergrond waarteen die gebeure by Nicea, onder leiding van Konstantyn en waartydens Jesus tot God verklaar is, hom afgespeel het.

Van die kerk wat Jesus in die eerste eeu gestig het, sou daar geen enkele teken wees in die kerk van Konstantyn ná 325 nie. As Jesus daar moes gewees het, sou hy sekerlik weer geween het.

Vir hom as Joodse rabbi sou dit die ergste vorm van godslastering gewees het deur hom as gelyk met God te verklaar. Nooit het hy – as mens die twyfelagtige betroubaarheid van die Evangelies sou aanvaar – laat blyk dat hy homself as gelyk aan God beskou het nie. Dit sou sy dood ook aansienlik verhaas het.

Wil die kerk nie maar aanvaar dat die Bybel nié die woord van God is nie, maar ’n boek geskryf deur onbekende mense vír mense; dat ’n mens nóóit God kan wees nie en dat God nie in die Bybel of kerk gevind kan word nie. Die koninkryk van God is ín julle, aldus Jesus self, dan nie?

Natuurlik sal die kerk nie, want daarmee sal sy hele fundamentele dogma en die kerklike piramideskema in duie stort. Geen wonder dat Thomas Jefferson, as stigter van die Universiteit van Virginië, teologie as studieveld verbied het nie. Geloofsvryheid, ja, maar nie ’n dogma sonder enige wetenskaplike grondslag nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui