Jurie le Roux – ’n teoloog en mens sonder gelyke

In die artikel hieronder besing Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode, Jurie le Roux se lof toe na sy afsterwe.

Gustav verwys na ’n ” ’n ongefundeerde leerklag” waaraan Jurie “tot die einde met die letsels, van ’n aanklag waaraan hy onskuldig bevind is” sou worstel.

Dit is baie duidelik dat Gustav verwys na Ferdie Mulder wat Jurie le Roux, Julian Müller en Dirk Human in 2006 aangekla het omdat hulle nie hulle standpunt oor Jesus se liggaamlike opstanding wou bely nie.

Let daarop dat Jurie die volgende sê van Andries van Aarde se boek, Fatherless in Galilee:

“Van Aarde se boek oor die historiese Jesus is ’n hoogtepunt in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap.”

In hierdie boek spekuleer Van Aarde onder andere oor:

  1. Wie Jesus se ma was.
  2. Jesus was ‘n buite-egtelike kind. Dus was Jesus nie maagdelik verwek nie.
  3. Die moontlikheid dat haar man haar gelos het pas nadat Jesus gebore is (dus het Jesus sonder ’n vader groot geword).
  4. Die rede vir Jesus se kruisiging was heel moontlik agv konfrontasie met die owerhede. (5) Bevraagteken Jesus se wonderwerke.

(Kyk Kommentaar op Andries van Aarde se vaderlose Jesus deur Jurie le Roux).

Nuwe strominge in die teologie 4/4

Vir meer oor hom, kyk Wie is Jurie le Roux?

Dit bevestig baie duidelik Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, se teologiese sentimente.

******

Jurie le Roux – ’n teoloog en mens sonder gelyke | Kerkbode

Deur Gustav Claassen

15 Oktober 2021

Die afsterwe van prof Jurie le Roux op 12 Oktober, na ’n uitdagende tydperk van chemoterapie vir kolonkanker, laat ’n geweldige leemte in meer as een opsig.

Talle van sy oud-studente en kollegas het wêreldwyd met groot hartseer, op sosiale media en ander platforms, reageer op sy afsterwe. Hulle koester die nagedagtenis aan Jurie as dié van mentor, uitstaande akademikus en ’n wonderlike vriend. Studente en kollegas het omgee, deernis en egtheid in hulle vriendskap met hom beleef. Nie net in klasverband nie maar ook die informele teologiese en filosofiese gesprekke oor die teologie, filosofie en die lewe self, in die studentekafeteria La Plat, was vormend en inspirerend. Jurie se passie, waarmee hy akademiese uitmuntendheid nagestreef het op ’n nederige en beskeie wyse, was vir talle ’n inspirasie wat gelei het tot ’n lewenslange liefde vir die Ou Testament.

Binne die Suid-Afrikaanse teologiese konteks het die naam Jurie le Roux sinoniem geword met die beoefening van die Historiese Kritiek. Hy maak sy Suid-Afrikaanse teologiese gehoor bewus van ’n historiese sensitiwiteit vir die interpretasie van die Ou Testament. In dié verband het die teologie van die Duitse teoloog, Gerhard von Rad, ’n sentrale rol in sy benadering gespeel. Die geskiedenis het Jurie uitgewys as dié Ou-Testamentikus wat by uitstek die belang van die historiese bewussyn onder sy mense in die kerk, in die teologie en in die Suid-Afrikaanse samelewing tuisgebring het. Een van die belangrikste insigte vir Bybelverstaan wat Jurie in sy Suid-Afrikaanse teologiese omgewing probeer tuisbring het, is die onderskeid tussen Bybelse en moderne historiografie. Hy het aangetoon dat daar ’n verskil tussen die geskiedenis van Israel agter die teks, en die ‘Bybelse’ geskiedenis in die teks is. ’n Aspek wat uiters belangrik is om die teks te kan kontekstualiseer.

Op die gebied van die Ou-Testamentiese Wetenskap was Jurie aan die einde van die twintigste, begin van die een-en-twintigste eeu een van die belangrikste rolspelers. Daarvan getuig die kwaliteit van sy fenomenale akademiese bydrae en gevolglik wêreldwye erkenning. Jurie se akademiese loopbaan toon ’n besondere belangstelling in veral die Pentateug. Sy belangstelling in en navorsing oor hierdie deel van die Ou Testament strek vanaf sy beginjare as akademikus. Hy het egter die korpusse van die profete, geskrifte en Nuwe Testament met ewe veel passie en toewyding aangepak.

Jurie bedryf sy teologie solidêr-krities met kerk en samelewing. Sy liefde vir die kerk, kerkgeskiedenis en die kerkvaders bevestig dit. Vanaf 1973 was hy 33 jaar lank ononderbroke deeltydse predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die gemeente Harmonie, ’n middestad-gemeente in Sunnyside, Pretoria. Jurie se absolute lojaliteit aan die kerk vir wie hy lief was, was altyd bo verdenking. Daarom was dit vir dié, wat naby aan hom was, pynlik om die ongelooflike skade te ervaar wat die wantroue van ’n ongefundeerde leerklag aan Jurie berokken het. Hy sou tot die einde met die letsels, van ’n aanklag waaraan hy onskuldig bevind is, worstel.

Jurie se ondervinding as pastor en predikant het baie vir my persoonlik beteken as sy gemeentepredikant in Monumentpark. Sy informerende gesprekke ná kerk en in die SPAR is blywende herinneringe.

Jurie was inderdaad ’n veelsydige en geïntegreerde teoloog. Afgesien van sy liefde vir, en toewyding in, Ou-Testamentiese studies, het hy ’n lewendige belangstelling getoon in verskeie ander akademiese dissiplines. Dit sluit die Kerkgeskiedenis, Sosiologie, Filosofie, Musiek, Kultuur, Afrikaans en Nuwe-Testamentiese studies in. As historikus kon Jurie geslaagd sy wêrelde van die Ou Testament, kerkgeskiedenis en filosofie sinvol integreer. Uit die aard van die saak is hierdie nie die plek om enigsins reg te laat geskied aan sy indrukwekkende kwalifikasies, lang lys van publikasies, bydraes en toekennings nie. Soos ek die beskeie Jurie ken sou dit hom ook ongemaklik laat.

Jurie was met Lynette Swart getroud. Uit die huwelik is twee dogters gebore. Jurie en Lynette se liefde vir die klassieke musiek het ongetwyfeld ’n invloed op sy twee dogters gehad. Lizelle is ’n kunstenaar en violis, terwyl Jurné, afgesien van haar musikale aktiwiteite as ’n uitstekende violis, ’n loopbaan as juris volg.

Ons eer Jurie le Roux as ’n uitstaande teoloog, ʼn uitdagende gespreksgenoot, lojale kollega en opregte vriend en mentor vir vele. Iemand vir wie geloof ’n egte lewenswyse was.

Jurie se gelyke is uiters yl gesaai, sy heengaan laat ’n groot leemte op vele terreine wat baie lank gevoel sal word. Ons gaan nog baie van hom praat en sy bydrae koester.

Die aard van die herinneringe aan Jurie le Roux is dat dit nooit die laaste gedagtes oor hom kan wees nie. In die dae wat kom sal gedagtes oor hom as mens en sy groot akademiese nalatenskap ons steeds verryk en sal ons God elke keer dank as ons aan hom dink.

Ons innige meegevoel met die familie, Lynette, Lizelle en Jurné. Mag julle op besondere wyse getroos word deur die God aan Wie ons behoort. Daar is vele mense – mense wat julle nie eens ken nie – wat saam met julle treur oor die verlies van ’n groot gees. Ons hou julle in ons hart en gedagtes.

  • Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk. Hy was vir 24 jaar predikant in die NG Kerk Monumentpark waar prof Jurie le Roux en sy vrou Lynette woonagtig was.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui