In antwoord op brief van vroue in die GKSA oor VIDA

Die volgende brief is geskryf in reaksie op Ope brief van vroue in die GKSA oor VIDA (Januarie 2026).

*********

In antwoord op brief van vroue in die GKSA oor VIDA

Met hierdie reaksie is ons nie van plan om op elke paragraaf van die pro-Vida-brief (van 26 Januarie 2026) te reageer nie, maar slegs ons eie menings of sienings oor sekere aspekte wat daarin na vore gekom het, te hanteer.

Ons rig ons daaglikse lewe, en ook kerklewe, in volgens God se Woord, en Sy Woord word as die enigste gesagsbron vir ons leer en lewe beskou. Daarom sal hier noodwendig aanhalings uit die Skrif wees.

Beskouing oor die mag van die sinode

Dit is so dat ons as Gereformeerdes glo in die presbiteriale kerkregeringstelsel, en dit is so dat elke kerkraad dan die hoogste gesag van elke gemeente is, met Christus as die hoof. Ons het egter as gemeentes onder mekaar afsprake gemaak (op grond van die Skrif) om mekaar te kan dien en bystaan tot opbouing van God se koninkryk, en hierdie afsprake tussen verskeie gemeentes het die band gevorm wat dieselfde denkende gemeentes aan mekaar verbind. Ons het ook onderling afgespreek (op grond van die Skrif) om klassisvergaderings, streeksinodes, en sinodes te hou waar gemeentes bymekaar kan kom om sake wat almal raak, te kan bespreek en oor te kan besluit. Die gemeentes in die kerkverband het ook afgespreek (op grond van die Skrif) om op sulke besluite, wat geneem is tot heil van die kerkverband en onderlinge gemeentes ag te gee, en dit toe te pas. Indien kerkrade hulle nie aan die afsprake of besluite van die sinode wil onderwerp nie, dan plaas hulle hulself mos eintlik buite die verband.

Die Skriftuurlike begronding van hierdie besluit, naamlik dat vroue nie as ouderlinge mag dien in die GKSA-gemeentes nie, is reeds op die vorige sinodes goed deurtrap (1988-2023). Ons aanvaar ook dat al die besluite wat hier geneem is, biddend geneem is, en goed deurdink is vanuit die Skrif. Hierdie vertrouensverhouding is mos wat ons as gemeentes saambind in die een verband, in Christus se kerk. Wie is ons nou, wat nie daar teenwoordig was nie, wat nie afgevaardig was nie, om na die sinodesitting vingers te wys of vrae te vra?

Is die vrou in die amp (Vida) ’n middelmatige saak?

Die sinode het ook vroeër besluit (op grond van die Skrif) dat Vida wel ’n wesenlike saak is, en dat dit daarom ook geweer moet word in die kerke in die kerkverband. Hierdie is ’n Skrifgesag-kwessie, dit is ’n kernwaarheid, want dit tas God se Woord aan. Aanvaar ons nog die eenvoudige waarhede soos uiteengesit deur Paulus in 1 Timoteus 2 en 3 as die ware Woord van God? Gaan lees ook die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 5 en 7. Vir die groep vroue om hierdie saak af te maak as “nie ’n kernwaarheid of wesenlike saak nie”, is dus verregaande. Die gesag van die Heilige Skrif word daardeur aangetas.

Die gevoelens van die vroue

Die vroue wat hier skryf, redeneer vanuit hul gevoelens, hulle praat uit die hart, en nie vanuit die waarhede van die Skrif nie. Jeremia 17:9 sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”

Ons as vroue wil graag redeneer vanuit ons harte, ons is meer emosioneel oor sake as die mans. En daar is niks mee verkeerd nie, dis hoe God ons geskape het. Hy het geweet Hy moet die vrou ’n meer gevoelige wese maak, want sy moet haar kinders met liefde kan toevou en versorg. Sy is ook die een in die gemeente wat moet omsien na die emosionele wel en wee van die verswaktes, siekes, gebrokenes van gees, bejaardes, ensovoorts. Die Here het egter baie goed geweet om haar nie in ’n regerende rol te plaas nie, want sy regeer vanuit die hart.

1 Timoteus 2 en 3 is vol van die vereistes vir opsieners, diakens en selfs vir die vroue. Ons gaan nie nou in diepliggende uitleg van die Skrif hieroor in nie, maar haal graag hierdie vers aan in 1 Timoteus 3:11: “Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie [ook nie teenoor die manne van die sinode nie], nugter, betroubaar in alles.”

Is daar nie genoeg geleenthede in elke gemeente vir die vrou om haar besondere gawes uit te leef nie? Ons gemeente het so baie liefdesdienswerk wat verrig moet word in die gemeente dat die susters hulself baie besig kan hou daarmee.

Hierdie vroue laat ons baie dink aan die sonde van Eva, Genesis 3:6: “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”

Is die vroue nie weer hier besig om hul mans in sonde te verlei nie? Die vrou begeer, sy is lus, sy wil graag verstand verkry, sy wil graag ’n ouderlingposisie in die kerk hê, en sy oortree, en dan laat sy haar man ook in sonde val. Mag die HERE ons daarvan in die GKSA bewaar dat ons ons mans weer in sonde sal laat val. Laat ons nie ’n ouderlingamp verlang nie, maar ons spesiale gawes en talente aanwend in die gemeente tot opbou van die gemeente in al die ander moontlike rolle wat daar is in die gemeente.

Mag ons nooit op ons gevoelens staatmaak nie, maar altyd teruggaan na die betroubare Woord van God, en daarvolgens ons lewe inrig, in elke dag se lewe, en ook in die gemeentes. Ons eie gevoelens is bedrieglik, en die Here was deeglik bewus van ons tekortkominge of ons swak plekke, en daarom gee Hy aan ons sulke eenvoudige duidelike voorskrifte in die Bybel oor die rolle van mans en vrouens. Ons benodig geen graad in teologie om die eenvoudige waarhede van die Skrif te verstaan nie, ons benodig slegs die Heilige Gees in ons harte om ons oë daarvoor oop te maak.

Ten slotte

Die vroue in die ope brief getuig dat hulle lief is vir die GKSA. Ons is óók lief vir die GKSA, maar altyd vir sover dit in ooreenstemming is met God se Woord. Ons kan met dankbaarheid getuig dat die mans by die sinode, onder leiding van die Heilige Gees, die leiding van die Here in Sy Woord hoog geag het, en daarom die besluite geneem het soos wat dit is.

Die kanker van die vrou in die amp wat die kerk binnegesluip het, is nou besig om uitgesny te word. En net soos enige operasie, mag dit ’n pynlike prosedure wees, maar dit is nodig, anders neem daardie kanker die hele liggaam oor.

Hoe wonderlik genadig is dit dan ook dat daar wel gemeentes is wat weer gaan besin het oor hul vroue in die ampte, en dat daar gemeentes is wat die kanker uitgesny het en besig is om te genees. Daarom bly ons, die ondergetekende vroue, bid dat die Vida-vroue en -gemeentes se oë mag oopgaan vir die waarhede in die Skrif.

Laat ons bly vashou aan die Woord van God alleen!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui