Ons lees in die volgende dele in die Bybel van Hiskia se siekte:
Nadat Jesaja vir Hiskia meegedeel het dat hy sou sterf het Hiskia tot God gebid. God het Jesaja na Hiskia teruggestuur en vir hom gesê dat hy nog 15 jaar sou leef.
Nou is die vraag: Het Hiskia se gebed God se besluit verander?
In Hiskia se 14de regeringsjaar gebeur die volgende:
- Koning Sanherib van Assirië val al die vestingstede in Juda aan en verower dit.
- Sanherib se hoofadjudant sê dat Hiskia verniet op Egipte of op God vertrou. Hulle gaan verslaan word.
- Toe Hiskia dit hoor, skeur hy sy klere en gaan na die huis van die Here. Hy stuur Eljakim om dit vir Jesaja te vertel.
- Jesaja stuur ‘n boodskap terug en sê dat God hulle sal red.
- Sanherib kry berig dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Hy stuur briewe na Hiskia waarin hy weer sê dat Hiskia verniet hoop om gered te word.
- Hiskia neem hierdie briewe na die tempel, sprei dit oop en bid tot God.
- Daardie nag maak ‘n engel van die Here 185 000 man in die Assiriese kamp dood. Sanherib na Nineve in Assirië.
- Terwyl Sanherib op ‘n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid, steek Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde dood.
- In hierdie tyd vertel Jesaja vir Hiskia dat hy sou sterf.
- Net nadat Jesaja die paleis verlaat het, bid Hiskia tot God en vra dat hy nie dood sal gaan nie.
- God stuur vir Jesaja terug om hom te sê dat Hiskia se lewe met 15 jaar verleng sal word.
- Jesaja sit ‘n vyekoek op die sweer.
- Hiskia vra vir ‘n teken.
- Jesaja gee hom ‘n keuse van twee opsies: Moet God die skaduwee op Agas (Hiskia se pa) se sonwyser 10 trappe vorentoe laat gaan of 10 trappe agtertoe?
- Hiskia kies vanselfsprekend laasgenoemde opsie. Dit gebeur so.
Die vraag is, het Hiskia se gebed God van mening laat verander?
Die antwoord is “ja” en “nee”.
Ja: Dit is waarskynlik geldig om te sê dat sou Hiskia nie gebid het nie, dan sou God dit nie gedoen het nie.
Nee: Hiskia se gebed het nie God van mening laat verander nie. Dit is nie ‘n geval dat God van plan verander het nie. God het nie besluit dat Hiskia sou sterf en toe sag geword weens Hiskia se emosionele gebed nie. Hiskia se gebed was nie vir God ‘n verrassing nie. God het geweet dat indien Hiskia sou bid, Hy sy lewe sou verleng het.
Hoekom het God dan Hiskia in die eerste plek laat siek word?
Een van die sekerste maniere hoe mens geestelik groei is wanneer jy in ‘n krisis is, dan na God uitroep en wanneer God dan redding bewerkstellig.
Net kort tevore was Hiskia wel in ‘n krisis gedompel toe Sanherib gedreig het om Jerusalem oor te neem. En toe het Hiskia wel die regte ding gedoen: hy het na God geroep en God se profeet, Jesaja, geraadpleeg en God het uitkoms gegee.
In 2 Konings 18:3-7 word ook gesê hoe getrou Hiskia aan God was:
(3)Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg. (4)Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem. (5)Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. (6)Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het. (7)Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het.
Was dit dan vir God nodig om Hiskia verder geestelik te laat groei deur ‘n krisis?
Die rede mag dalk wees dat Hiskia hoogmoedig geraak het na sy oorwinning oor Sanherib.
‘n Mens sien dat Hiskia kort na sy genesing ook hoogmoedig geraak het en al sy rykdom aan die gesante van koning Merodak-Baladan van Babel gewys het.
Daarna het Jesaja hom berispe daaroor.
Genadiglik het Hiskia spyt gekry daaroor en tot sy dood getrou aan God gebly.
Hiskia se verhaal hierbo, herinner mens aan ‘n resensie wat ek onlangs gelees het, “Job deur nuwe oë: ‘n Seun vir glorie” deur Toby J. Sumpter. Die Engelse weergawe is die oorspronklike weergawe, maar met “AI”, kan mens deesdae alles vertaal.
Mens kan bemerk hoe Toby dië Bybelboeke ernstig benader, en die resenseerder merk die volgende op:
” ‘n Wonderlike boek wat u sal help om Job op ‘n heel nuwe manier te sien. Die belangrikste sterkte van die boek, is dat Toby die begin en die einde van Job ernstig opneem, en in die konteks, die dialoë binne daardie verhale laat funksioneer. Hy verbind die lewe van Job aan Adam en Christus, sowel as met verskeie ander figure in die Skrif. Die skrywer se siening is dat God Job help om as ‘n seun vir Hom, tot volwaardige volwasseheid te groei, al is dit deur geweldige lyding. Hierdie siening help mens om baie optredes van die Here deur die hele boek van Job te kan verklaar, soos waarom Hy Job aan die begin aan Satan uitgewys het. en hoe Job onberispelik kan wees, maar tog ook, dat hy moet groei.”
Die Here is veels méér betrokke in die alledaagse dinge van die mens se lewe, maar onbegryplik vir baie wat nie aldag erns mee maak om Hom te leer ken nie.
Die gebrek aan SKRIF-DIEPTE is seker die enkele oorsaak waarom die hedendaagse kerke-milieu, amper soos die 2000 jaar-oue ‘‘Jesus-Boot’’ lyk wat so paar jaar gelede vanuit die See van Gallee gehys en teen groot koste by wyse van ‘n staalkonstruksie bymekaar gehou word. Die moderne kerke wêreld het omtrent ‘n “Lasarus-kom-uit!’’ moment nodig, om die “dooie werke en woorde” van staalkabels, tot “lewende werke en woorde in Sy Gees” te bring.
Dit is ‘n tragedie om te beleef en aanskou die absolute onverskilligheid en argeloosheid vanuit die leierskapsfere – ‘n geweldige vorm van hoogmoed en trots wat homself verhewe beskou en eerder eie denkpatrone volg, as om waarlik ernstig met die Skrif en met God se Gees om te gaan.