Kerkeenheid kom nader

Kyk ook:

En steeds dryf die NGK leierskap kerkeenheid. Die VGK het baie duidelik gesê dat die aanvaarding van Belhar ’n voorvereiste is vir enige verdere gesprekke oor kerkeenheid. Die NGK lidmate het gestem teen die aanvaarding van Belhar (kyk NGK Belhar stemresultate 2015). Hoe kan kerkeenheid dan nog op die tafel wees?

***********

Kerkeenheid kom nader

Claudi Mailovich Donderdag 23 Julie 2015 03:10

Die NG Kerk-familie het verlede week reeds ooreengekom op die bewoording van die voorwoord vir die voorlopige tussenorde wat opgestel gaan word om die weg te baan na kerkhereniging.

Volgens dr. Johann Ernst, aktuarius van die NG Kerk, het verteenwoordigers van die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika (NGKA), die Reformed Church in Africa (RCA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) almal in Volmoed, Hermanus, vir die vergadering oor die dokument bymekaargekom.

Hy is een van die NG Kerk se verteenwoordigers wat verder aan die tussenorde gaan skryf.

Hulle het ook ooreengekom op die soort strukture wat nodig is om die herenigingsproses aan die gang te kry.

Ernst het gesê die moontlikheid van gekombineerde gemeentes; regsgeldigheid wat verleen word aan gekombineerde ringe; die samestelling van gesamentlike ringe oor sinodale grense heen; die gesamentlike vergaderings van die moderamens en streeksinodale kommissies; die kombinasie van barmhartigheids- en getuienisbedieninge; oor-en-weer-deelname aan die werksaamhede van kerklike maatskappye en ander regsmense; oor-en-weer-beroepbaarheid van dominees; en gesamentlike teologiese opleiding is op die vergadering genoem.

Die NG Kerk-familie het vroeër besluit dat hulle hulp op die pad na kerkhereniging by die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gaan vra.

Prof. Leo Koffeman en ds. Evert Overeem, wat albei betrokke was by die jare lange proses wat gelei het tot kerkeenheid tussen die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangelies-Lutherse Kerk wat vandag die PKN is, was met hul kennis van tussenordes ook by die vergadering in Hermanus.

Koffeman, wat ook ’n internasionale kenner van die kerkreg is, gaan volgens Ernst terugkom om ook die volgende vergadering van 11 tot 13 Augustus in die Kaap by te woon, waar die volgende tree tot kerkeenheid gegee gaan word.

“Ons gaan dan begin skryf aan die tussenorde,” het Ernst gesê.

“Die produk van die vergadering sal vir goedkeuring aan die algemene sinode in Oktober voorgelê word.”

Volgens Ernst het al die sinodes van die NG Kerk hul reeds positief uitgespreek oor kerkhereniging.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui