Div-forum weer op Kerkbode-aanlyn geadverteer

Kyk ook:

Kerkbode-aanlyn

2010-08-06

NG forum wil Jan Alleman laat saampraat oor diversiteit

Die NG Kerk het ’n gespreksforum op sy webwerf begin om gesprekke oor diversiteit te fasiliteer en aan te moedig.

Die bestuurder van die forum, die skrywer en letterkundige dr Charles Malan, sê hulle wil oop gesprek oor diversiteit tussen alle verskillende groepe bevorder en aanmoedig. “Diversiteit beteken die erkenning van andersheid, sonder enige prysgawe van die eie en unieke, veral geloof.”

Die lewendige reaksie op die jong Diversiteitsforum toon duidelik hoe brandend aktueel die hele terrein vir die NG Kerk is, het dr Malan aan Kerkbode gesê.
Hy sê in die lig van voortdurende spanning op terreine soos ras, geslag, seksuele oriëntasie en interkerklike verhoudings, het die kerk ’n groot verantwoordelikheid om oor diversiteit leiding te gee.

Die forum op die NG Kerk se webwerf (www.ngkerk.org.za) wil ’n oop en openhartige gesprek stimuleer. “Daar is geen sprake van sensuur nie en alle boodskappe word aanvanklik geplaas. Maar vanselfsprekend moet die gesprek op ’n hoë vlak gevoer word,” sê dr Malan.

Uit die gesprekke op die forum blyk dit dat almal egter nie ewe opgewonde is oor die oop gesprek wat toegelaat word nie. Een van die deelnemers, James Maré, skryf op die forum daar moet begin dink word aan die verwydering van die besprekingsblad van die amptelike webwerf van die NG Kerk.

Dit was nadat ’n NG predikant volgens hom godslasterlike stellings op die forum gemaak het. Dr Malan sê egter in sy reaksie op die klagte hy kan nie sonder meer en sonder kontekste met mnr Maré saamstem oor alle moontlike vorme van “godslastering” nie.

“Vooraf sensuur gaan nie gebeur nie. Gaan verkla ons gerus by die Algemene Sinode van die NG Kerk, die Menseregtekommissie of waar ook al, ons het niks om te vrees nie. Vir ons is daar geloof, hoop en liefde – en die grootste daarvan is die liefde. Ook en veral vir ons naaste,” het dr Malan gereageer. Hy sê die forum is volkome onafhanklik en is nie oop vir manipulasie deur enige leier nie.

“Ek was half verbaas om my uit die bloute as webbestuurder van die forum te bevind. As jong NG Kerk-diaken na uiters slegte ervarings met ‘die kerkbestuur’, het ek my eie gang as gewone gemeentelid buite kerkstrukture gegaan.

Toe diversiteitsbevordering onverwags in my rigting kom, besef ek skielik hier is ’n terrein waar ek soos derduisende gewone lidmate ’n verskil rondom my kan maak,” het dr Malan aan Kerkbode gesê.

– jean@tydskrifte.co.za

—————————————

Kommentaar

Strategiese Diversiteitskeuses
2010/08/03

Reeds baie vroeg, net na die ontstaan van die Diversiteitsforum, is daar pleidooie gelewer vir die aanmoediging van positiewe diversiteitsbestuur waarvan die belangrikheid gemotiveer was deur te verwys na die besigheidsmodel.

Dit was reeds duidelik dat daar ’n baie positiewe affiniteit was vir anti-Bybelse diversiteitstipes soos homoseksualiteit, saambly, sinkretisme ens en is die boodskap duidelik dat die totstandkoming van ’n “Diversiteitsgroep” ’n instrument gaan word in die hand van elemente wat nie net tevrede gaan wees met die identifisering en simpatisering met sogenaamde “ander diversiteitstipes” nie, maar dat hulle alles in die stryd gaan werp om die sogenaamde “ander” gedragstipes en vreemde sienings in die Kerk in te dra en deel van die “wese van die Kerk” te maak.

Een bydraer het dit baie eksplisiet soos volg uitgespel “My probleem is juis dat die kerk dit in die verlede nie deel gemaak het van die wese van die kerk nie. Dit is juis die eksklusiewe houding wat die kerk dikwels in die verlede aan die dag gelê het wat ek sal wil sien verander. En dit verander reeds. Stadig maar seker”. Hierdie is ’n aanhaling van ’n plasing deur ene Stefan Nel.

Daar was telkens oor “Skrifbeskouing” gepraat maar die onderwerp is nooit toegelaat om na behore deurtrap te word sodat deelnemers met verskillende Skrifbeskouings mekaar deeglik sou verstaan en vanuit daardie perspektief voortbou in hul debattering van die onderskeie diversiteitstipes wat die Diversiteitsgroep telkens op die tafel plaas nie.

Dit het later ontaard in ’n situasie waar hoofsaaklik slegs diegene wat nie bereid was om hul Skrifbeskouing duidelik uit te spel en op die tafel te plaas nie, se bydraes aanvaar en geplaas is maar diegene wat dit durf waag het om ’n standpunt in te neem dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, het teenkanting en dreigemente van die webmeester ontvang.

Diesulkes is telkens gemaan dat Skrifbeskouing nie die onderwerp van die forum is nie, maar diversiteit. Hierdie is egter net ’n rookskerm wat deur die webbestuurder, Dr Malan, gebruik is.

As Bybelgelowige Christene het die Kerk, die NG Kerk by name, ons geskool om ons denke te skoei op die Woord van God. Die Bybel self doen ’n beroep op ons om toe te laat dat ons denke vernuwe moet word sodat ons die volmaakte wil van God kan ken.

In enige debat, maar veral debatte waarin anti-Bybelse sienings verdedig en geregverdig word, is dit logies dat Bybelgelowige Christene hul siening sal uitspreek wat uit die aard van die saak op die Woord geskoei is en sal hulle die siening dan ook vanuit die Woord self verdedig.

En dit is net hier waar die Webbestuurder die gaping sien om diesulkes van die blad te verwyder; te skors.

Dr Malan se stelling dat “Diversiteit beteken die erkenning van andersheid, sonder enige prysgawe van die eie en unieke, veral geloof.”, is gewoon nie waar nie. Bewyse van my stelling is legio op die forum. Die belangrikste hiervan is die siening van die webbestuurder persoonlik en ander deelnemers genaamd Gerhard Bothma en Fanie Cronjé dat daar selfs diversiteit ten opsigte van die siening van Verlossing is.

Die gesprek het so vurig geraak dat Dr Malan selfs sover gegaan het om die volgende wens uit te spreek en gesuggereer dat een van die deelnemers wat ’n suiwer Skrifgebaseerde beskouing huldig, nie enige geleentheid meer op Kerkbode Aanlyn gegun sal word nie. Hy het die volgende gesê: “Soos op die Diversiteitsforum sal hy hopelik ook nie hier veel verder die kans kry om met sy persoonlike verpakking van die enigste moontlike “verlossing” te smous nie.”

So ’n stelling impliseer onteenseglik dat daar na sy opinie meer as een tipe verlossing moontlik is; soos ook duidelik deur Fanie Cronjé en Gerhard Bothma aangehang word.

Die vraag kan met reg gevra word, hoe kan enigiemand toelaat dat ’n gesprek ongestoord toegelaat word om in ’n rigting in te gaan waar bv homoseksualiteit aanvaarbaar gemaak moet word binne die Kerk, sonder dat enige Bybelgelowige Christen die geleentheid gegun word om ook sy siening wat geskoei is op die Woord van God, wat dit baie uitdruklik nie net verbied nie maar selfs beskryf as ’n “skandelikheid”, op die forum uit te spreek?

En hoe kan die webbestuurder vir enigiemand sê, as dit ’n persoon se persoonlike opinie en geloofsiening is, dat hy nie die Bybel hier mag inbring nie. Want sodra iemand gedeeltes uit die Bybel aanhaal, dan konstateer dit volgens die webbestuurder, ’n debat oor “Skrifbeskouing” wat nie toelaatbaar is op die forum nie?

In die proses is daar effektief gesorg dat slegs die lede van die diversiteitsgroep en diegene wat hul sienings huldig, nog vry toegang tot die debat het. Al die ander moet sagkens op hul hoede wees dat hulle net nie te sterk oorkom oor wat die Skrif sê nie. So ’n stelling sal nie gesien word as jou persoonlike opinie nie, maar as ’n debat met die onderwerp “Skrifbeskouing”.

Die betrokke insident waarna Dr Malan verwys en wat ek as Godslastering uitgewys het en wat deur Dr Gerhard Bothma op 6 Julie 2010 geplaas is, pryk vandag steeds op die Diversiteitsforum ten spyte van versoeke tot die verwydering daarvan. Ek haal die plasing hier aan “ Daar is fricken baie werk wat gedoen moet word. Is die eksterne motivering wat die kerk dikwels aan mense voorhou (“As jy nou mooi nice is teenoor God en sy geskenkie vat, gaan Hy nie sy moer strip, ’n tantrum gooi en jou hel toe stuur nie” – ek stel hier doelbewustelik ’n karikatuur om die absurditeit van dié verlossingsmodel te illustreer) nie een van die redes waarom mense nie volhoubaar “goeie werke” verrig nie?”

Terloops, die “sy geskenkie” verwys hier na God se Verlossing.

Dit is vir my verregaande dat ’n predikant in die NG Kerk, op die amptelike webblad van die NG Kerk sulke opmerkings kan maak sonder dat daar ’n haan daarna gaan kraai.

Malan se stelling dat die forum onafhanklik en nie oop is vir manipulasie deur enige leier nie, is ver van die waarheid af. Manipulasie van andersdenkendes wat ’n baie liberale Skrifbeskouing het, is duidelik op die forum sigbaar. Verwyderde plasings van verskeie deelnemers getuig van die manipulasie en kan gesien word op www.daniellouw.co.za.

Die NG Kerkleiers moet deeglik kennis neem van wat op die Diversiteitsforum gebeur. Hulle moet ook kennis neem dat die sogenaamde oproep tot positiewe diversiteitsbestuur, slegs betrekking het op diversiteitstipes wat duidelik en ondubbelsinnig deur die Bybel as sonde afgemaak word of wat vreemd is aan die Gereformeerde leer.

Instede van positiewe diversiteitsbestuur waar die oogmerk ’n gladde, konflikvrye aanvaarding van en meelewing met diversiteit sou wees, is die wyse van hantering van gesprekke op die forum ’n seker resep vir polarisasie en konflik.

– James Maré

Vreemde diversiteite
2010/08/04

Die Diversiteitsforum se doelstellings en werkswyses is inderdaad nie orals ewe gunstig ontvang nie. Gaan lees gerus al die kommentare wat dit wel op die Diversiteitsforum oorleef het en besluit dan self hoe liefdevol dit byvoorbeeld is as een predikant ’n ander beswadder. Ek verwys hier na dr Gerhard Bothma se beswaddering van ds Etienne Maritz, wat dr Malan, wat hierbo liefde predik, geweier het om op sy Diversiteitsforum te verwyder.

Enigiemand wat belangstel om al die kommentare, insluitende dié wat van die Diversiteitsforum verwyder is, te lees, kan op www.glodiebybel.co.za gaan kyk, onder NGK Diversiteitsforum.

– Hennie Mouton

Dankie vir oop forum
2010/08/04

Ek wil graag die NG Kerk bedank vir die ruimte wat hulle skep om oor diversiteit te praat. Dit is broodnodig. Die gekla daaroor van mense soos James en Hennie Sesdag moet tog asseblief net nie weer die kerk die skrik op die lyf jaag soos destyds met Kletskerk nie. Gelukkig is daar nie beter advertensie vir Kletskerk as oom Hennie Sesdag self nie.

Die sinode het dalk besluit die forum se skakels mag nie meer op die NG kerk se webwerwe verskyn nie maar nou adeverteer oom Henie Sesdag dit steeds sonder ophou hier. Mooi so.

Ek sien Hennie verwys na kommentaar oor ene ds Etienne Maritz wat op die diversiteitsforum verskyn het. Is dit nou dieselfde dominee wat destyds ’n lidmaat van die kerk so afgebreek het met die “honderde” demone wat hy uit haar uitgedryf het dat hy deur die ring of iets beveel moes word om sy wanpraktyke te staak?

Of wil die NG kerk hê dat hieroor net so geswyg word soos wat die Katolieke Kerk oor sy pedofielpriesters geswyg het? As dit so is dan moet die kerk asseblief vir ons so sê.

– Gerrit

Oop Diversiteitsforum
2010/08/04

As webbestuurder van die forum kortweg ’n reaksie. Die beperkings om op die forum deel te neem is by herhaling uitgespel: dit handel oor diversiteit, nie oor allerlei geloofsake nie. Die webbestuurder het ook met bydraers persoonlik geskakel om te verduidelik. Verdere reaksie hier of elders is dus onnodig. Dit gee aan die oorbekende aanklaers bloot meer erkenning en gespreksruimte. Baie vervelig vir almal wat hulle deuntjies al ken.

– Charles Malan

Kom sing saam
2010/08/06

Vir almal wat wil saam sing op Charles Malan se Diversiteitsforum, wat om een of ander rede deesdae baie stiller as voorheen is, ten spyte van al die advertensie hier, gee ek graag die volgende riglyne oor aanvaarbare en onaanvaarbare deuntjies:

1. Aanvaarbare deuntjies:

* ’n Christen, selfs as hy bevriend is met ’n Hindoe (of Moslem ens.), hoef nooit met hom oor verlossing in Christus te praat nie, want God verwag van niemand om sy geloofsankers prys te gee nie.
* Net liberale vertolkings van die Bybel word toegelaat, maar verkieslik moet daar so min as moontlik na die Bybel verwys word want anders is jy ’n Bybelboelie, en dit mag diversiteitsdeelname belemmer.
* Almal is miskien deur Christus verlos, ongeag hul geloof, daarom hoef ons nie met ander oor hul geloof te praat nie.
* Christus as enigste weg beteken dat ons soos Christus moet optree, dat dit dalk OOK beteken dat verlossing slegs deur geloof in Hom en Sy kruisdood en opstanding moontlik is, is van mindere belang.
* Homoseksualiteit is geen probleem betreffende lidmaatskap en enige amp in die Kerk nie, inteendeel dis doodreg behalwe dalk die promiskue soort.
* Vriendskap met die wêreld sonder enige doel om geloof in Christus uit te dra.
* Bevraagteken die Bybel en die God van die Bybel.

2. Onaanvaarbare deuntjies:

* Die noodsaaklikheid van bekering.
* Die noodsaaklikheid van die evangelie te deel.
* Die Christelike geloof is die enigste ware geloof.
* Goeie Bybelse begronding van standpunte en goeie Bybeluitleg.
* Homoseksualiteit, of eintlik enigiets wat volgens die Bybel verkeerd voor God is, is sonde.
* Vriendskap met die wêreld met die doel om te evangeliseer.
* Antwoord die vrae oor die Bybel en God vanuit die Bybel.
* Vertel hoe iemand verander het van bitterheid teenoor God oor sy seun se dood, na geloof in God deur Christus as enigste Verlosser aan te neem.

– Klaas Niemandt

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui