Eet van varkvleis

Die volgende artikel is gekopieer van bybelkennis.co.za.

*******

Die eet van varkvleis

Deur Francois Malan

Ida vra:

Die stuk in die Bybel oor onrein diere – kan u dit verduidelik. Baie keer as mens varkvleis eet sê die mense maar die Bybel se dan jy mag nie varkvleis eet nie – dit is onrein.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In Levitikus 11:7­8 het die Here vir Moses en Aäron gesê:

‘n Vark het weer volledig gesplete kloue, maar hy herkou nie. Hy is vir julle dus ’n onrein dier. Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie: hulle is vir julle onrein.

Dit word in Deuteronomium 14:8 herhaal.

Israel se omgewing het waarskynlik hiertoe bygedra. In Egipte, waar Israel vir 400 jaar gebly het voor die uittog na Kanaän, is die eet van varkvleis verbied, wat ook met die jare vir Israel ’n weersin teen varkvleis gegee het. In Sirië was varkvleis deur sommige beskou as heilig en as offerdiere gebruik, terwyl ander dit as onrein beskou het. By die Kanaäniete, by wie Israel ingetrek het, was varke huisdiere wat aan hulle gode as kosbare besittings geoffer is. Daarom word Israel verbied om die Here te dien soos die Kanaäniete hulle afgode dien, en word enige kontak met die afgodsoffers van die Kanaäniete as onrein beskou.

In Jesaja 65:4 word die Jode na die ballingskap in Babel (na 515 v.Chr.) deur die Here verwyt dat hulle Hom beledig deur varkvleis te eet soos die heidene. In Jesaja 66:17 kondig die Here sy straf aan oor mense wat hulle self wy en reinig om varkvleis te gaan eet by die heidense offers. In Jesaja 66:3 word Israel beskuldig dat hulle by die tempel van die Here graanoffers bring maar ook offers van varkbloed soos die heidene.

Tydens die bewind van die Griekse koning Antiogus Epifanes oor Juda teen 167 v.Chr. is Jode gedwing om varkvleis te eet en aan Zeus te offer. Van die Jode is doodgemaak omdat hulle geweier het om varkvleis te eet.

In Matteus 8:30-­34 word vertel hoe die duiwels, wat Jesus uit die Griekse Gadareners uitgedryf het, Hom gesmeek het om hulle in die varke te laat invaar, en hoe die hele dorp Hom versoek het om hulle gebied te verlaat. Moontlik was die varke ook bedoel vir offers aan Zeus.

Maar dan kom Jesus en verbreek die hele Joodse sisteem van rein en onrein dinge, en sê vir die menigte:

Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein’ (Markus 7:14,15).

Vir sy dissipels verduidelik Hy:

Begryp julle nie dat niks wat van buite af in die mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan? Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

Daarna verwys Hy na ’n reeks slegte goed wat uit die mens se hart uitkom en die mens onrein maak: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid (vgl. ook Matteus 15:10-­20).

Na sy hemelvaart moes Jesus vir Petrus voorberei om die evangelie ook aan die heidene te verkondig deur ’n gesig van iets soos ’n groot doek. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls.

Driemaal kom die opdrag uit die hemel: “Kom, Petrus, slag en eet”. Petrus weier en sê vir die Here hy het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie. Die stem sê egter: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (Handelinge 10:11-­16). Dit gebeur drie maal om die belangrike beginsel duidelik te stel sodat dit verstaan en onthou sal word. Alle diere kan geëet word, en die evangelie is bedoel vir alle mense. Ons heiliging en reinheid kom deur ons vereniging met Christus Jesus (1 Korintiërs 1:30).

Skrywer: Prof Francois Malan

3 thoughts on “Eet van varkvleis”

  1. Professor Malan, u is ‘n groot leuenaar. Hoe kan ek so sê? Omdat die Bybel vir ons uitwys dat Markus 7:19 wat u nou hier in u skrywes gebruik het, eintlik oor die toestande van die hart gaan. Dit het niks te doen met vleis nie. Kom ons kyk wat was die werklike kwessie sodat ons die konteks van die Skrif mooi kan verstaan. In die eerste plek sien ons in Markus 7:1 dat die Fariseërs en die skrifgeleerders na Jesus gekom het om Hom aan te vat oor die kwessie dat Sy dissipels met ongewaste hande brood geeët het, waar Jesus die Fariseërs en die skrifgeleerdes die volgende woorde gesê het. Tereg het Jesaja oor julle, geveindes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander derglike dinge van dieselfde aard doen julle baie. En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder, en: Hy was vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: As ‘n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is ‘n oorgawe – dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorleweringe wat julle bewaar het; en dergelike dienge van dieselfde aard doen julle baie. En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister almal na My en verstaan. Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dit is die dinge wat die mens onrein maak. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor! En nadat Jesus van die skare af in ‘n huis gekom het, vra sy dissipels Hom oor die gelykenis. In Mattheus 15:15-20 kry ons die verklaring van hierdie gelykenis: En Petrus antwoord en sê vir Hom: Verklaar vir ons hierdie gelykenis. Maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand? Begryo julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie? Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is die wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.

    En die visioen van Petrus se laken met die onrein diere op waarvan ons lees in Handelinge 10 vanaf vers 10-16 kan ook nie gebruik word om te sê dat God wat nie ‘n veranderlike God is nie en wat ook nie van gedagte verander soos ‘n mens nie, nou skielik alle onrein vleis rein verklaar het. Hoe kan ek so sê? Omdat Petrus in Handelinge 10:28 sy visioen verklaar het soos volg: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek….en hier kom die verklaring…MAAR GOD HET AAN MY GETOON DAT EK GEEN MENS ONHEILIG OF ONREIN MAG NOEM NIE.

    Dus, Handelinge 10:10-16 het niks te doene met vleis nie, it is all about people.

    Selfs indien u dalk ook Romeine 14:2 en 20 wil gebruik om te verklaar dat God alle vleis nou rein verklaar het, wel, dit is ook waar u die grootste fout maak. Romeime 14:1-3 wys vir ons duidelik die vryheid van die gewete uit. Wel, as mens weereens die hele hoofstuk gaan lees, sal mens sien dat Romeine 14 gaan oor die “freedom of conscience” in engels of in Afrikaans ”vryheid van die gewete” en die verdraagsaamheid teenoor die wat swak in die geloof is. Dit het niks te doen met onrein vleis wat nou ewe skielik rein verklaar is nie.

    Kom ons bekyk nou die konteks. In Romeine 14:1-3 kom die die vraagstuk of die eet van vleis wat aan afgode geoffer kon gewees het, na vore. Die Jerusalemse raadsvergadering waarvan ons in Handelinge 15 lees, het besluit dat heidense bekeerlinge hulself moes onthou van sulke voedsel. Maar, daar was steeds die vraag of vleis wat by openbare markte te koop was, dalk afkomstig kon wees van diere wat aan afgode geoffer was soos ons lees in 1 Korinthiërs 10:25-33. Kom ons lees wat geskryf staan in 1 Korinthiërs 10:25-33. Daar staan geskryf: Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete, want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete. Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer – moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete – want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan – ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom word my vryheid geoordeel deur ‘n ander se gewete? En as ek iets met danksegging geniet, waarom word ek belaster oor iets waarvoor ek dank? Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God. wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dè van baie, sodat hulle gered kan wees.

    Professor Malan, u eie oortuiging is nie die wat die Bybel verklaar nie. Dis baie duidelik dat u self so mislei is dat u nie die duidelikheid van die Skrif eers kan raaksien nie. U moet asb seker maak van konteks. Hou asb op om andere te mislei deur die feit dat u teksverse buite konteks neem om u onwilligheid om aan God se Woord gehoorsaam te wees te verdedig en te regverdig. U het ‘n besliste tekort aan kennis.

    Jammer dat ek nou reguit praat, maar die tyd het aangebreek dat u moet begin wakker skrik. Dis tyd dat u uit daardie Babilon se valse leerstellings begin uitkom. U hou so vas aan u dispensasie-leerstellings en u tradisies en eie interpretasies en eie indrukke teen dit wat deur God se Woord duidelik verklaar word, dat u nie werklik besef dat u besig is om baie mense te mislei om nie aan God se Woord gehoorsaam te wees.

    Ek en u het al voorheen met mekaar op e-pos gepraat. U word absoluut deur ‘n teenstrydige gees gelei.

  2. Goeie dag,

    Graag wil ek meer duidelikheid kry oor n paar onduidelikhede, volgens my geloof glo ek daaraan as JESUS ons SALIGMAKER en VERLOSSER n wet geskryf het of reels gemaak het sal hy dit mos nie weer verander na sy smaak nie of om die mensdom te beindruk deur byvoorbeeld hulle te laat verstaan dat HY het die wet geskryf of laat skryf en HY kan dit verander net soos HY wil en waneer HY wil, soos die wet met onrein vleis (vark ) nee ek glo eenkeer onrein verklaar, altyd onrein, daar is soveel verwarring wat deur my gedagtis gaan dat ek nie meer weet wat om te glo en wat nie, ek weet elkeen het maar sy eie sieninge daaroor maar iewers moet daar net een waarheid wees, ek weet ook dat die BYBEL al n paarkeer oorgeskryf is en verander is oor die jare om die reels te laat inpas met die mensdom, maar weereens glo ek nogsteeds ons Vaders sou nog nooit SY reels of wette verander het nie,

    Net my opinie, maar sal graag die regte waarheid wil weet want ek het amper 7 jaar gelede van vark vleis afgeskaal tot vandag nog en mense vra my altyd is jy nou van Joodse afkoms of het jy nou die Joodse tradisie aanvaar, daar is partykeer n hewigge gestryery as ge volg hiervan tussen my friende en familie, maar nee dit is nie waaroor dit gaan nie, ek probeer net die laaste paar jaar die waarheid najaag om nader aan ons Vader te leef,

    Sal graag wil meer te wete kom oor die regte waarheid,

    Dankie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui