Galasiërs

*******

Aan wie geskryf

In Galasiërs 1:2 sê Paulus: “Aan die gemeentes in Galasië.” Hierdie brief is dus hoogs waarskynlik aan die volgende gemeentes in die Romeinse provinsie Galasië geskryf:

  • Antiogië in Pisidië – Handelinge 13:14–52
  • Ikonium – Handelinge 14:1–6
  • Listra – Handelinge 14:8–20
  • Derbe – Handelinge 14:20–21

Paulus en Barnabas het hierdie gemeentes tydens Paulus se eerste sendingreis gestig en hulle weer besoek tydens sy tweede en derde sendingreise.

Wanneer is dit geskryf

Die Galasiërsbrief is die eerste brief wat Paulus geskryf het. Dit is egter onseker wanneer dit geskryf is. Daar is twee opsies:

  1. Vroeë datering: Ongeveer 48-49 nC, geskryf vanuit Antiogië in Sirië, ná Paulus se eerste sendingreis en vóór sy tweede sendingreis.
  2. Laat datering: Ongeveer 53–55 nC, geskryf vanuit Efese tydens sy derde sendingreis (of moontlik vroeër tydens die tweede sendingreis, afhangend van die presiese rekonstruksie).

Doel van die brief

Die brief is geskryf om die gemeentes van Galasië te waarsku teen die optrede van sekere dwaalleraars wat van elders af ingedring het. Hierdie mense het die gesag van die apostel betwis en het verkondig dat die nie-Jode slegs ook gered kon word deur die wet van Moses te onderhou, Paulus reageer skerp deur daarop te wys dat hy sy apostelskap direk van Christus ontvang het en dat verlossing verkry word deur in Christus te glo (3:7), nie deur wetsonderhouding nie. Christus het die gelowiges vrygemaak van die wet, en nou moet die vrug van die Heilige Gees in hulle lewe sigbaar word. Die inhoud van hierdie brief kom deels ooreen met dié van die brief aan die Romeine.

Die hooftrekke van die brief

  • Inleiding 1:1-10
  • Paulus verdedig sy gesag as apostel 1:11–2:21
  • Dié wat glo, word vrygespreek deur God 3-4
  • Die Christelike vryheid en verantwoordelikheid 5-6

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui