Stellenbosse-konferensie laat vrae

Stellenbosse-konferensie laat vrae | Netwerk24

Henrietta Klaasing, Randfontein

22 Februarie 2022

Bernhard Ficker se brief “Kerk-reformasie Kairos se doelwit” (17.02) het betrekking. Hy verwys na die Stellenbosse Kweekskool se konferensie getiteld “Queering the Proph­et”, soos aangebied deur die gender-eenheid van die teologiese fakulteit. As jare lange, toegewyde lidmaat van die NG Kerk, het ek met afgryse die tien-bladsy-dokument gelees. Nie net dui die advertensie aan dat dit onder die vaandel van die fakulteit teologie aan die Universiteit­ Stellenbosch (US) gaan geskied nie, maar daar is ook verskeie NG Kerk-gelegitimeerdes en -dosente daarby betrokke.

Die verontheiliging van ’n historiese Bybelse karakter en die minagting vir die Woord van God is skokkend. Jesus self het die Jona­-verhaal as histories beskou en gehanteer (lees Lukas 11:29, ook Matteus 12:39 tot 41). Jesus het ook na die herlewing in Nineve as ’n historiese feit verwys. Hy verklaar: “Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!” (Lukas 11:32).

Die gesag van die Skrif en die getuienis van Jesus Christus word aangetas. Die integriteit van een van die NG Kerk se teologiese fakulteite is ook in die gedrang.

Dr. Frederick Marais, voorsitter van die NG Kerk se algemene kuratorium, het op verskillende platforms te kenne gegee dat die opleiding by die US se teologiese fakulteit gereformeerde teologie is. Hoe rym dit met hierdie konferensie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui