Niemandt se aanvallende reaksie en latere verskoning

Kyk ook:

Onderstaande plasing in Maart 2012 deur prof. Nelus Niemandt en kommentare is afgetrek van facebook/kerkbode. Dit het gevolg op een van die kommentare deur Jan Louw soos bevat in die artikel “Wie val wie aan?“.

Let op watter kommentare deur Kerkbode verwyder is, en dat dr. Wynand Louw toe heeltemal op facebook/kerkbode deur Kerkbode geblokkeer is om op enige plek verder te kan deelneem. Die ironie is dat sy verwyderde kommentaar die een is waarin hy vir Nelus dringend versoek het om die betrokke predikant om verskoning te vra, wat Nelus toe later gedoen het, maar dié kommentaar van Wynand was vir Kerkbode die laaste strooi!

Nelus Niemandt -> Kerkbode

In die Islam-geloof kan ’n geleerde in die godsdiens ’n verklaring of ‘fatwa’ uitreik oor die Islamitiese wette en sy interpretasie daarvan. In enkele ekstreme gevalle, en ook in die meer fundamentalistiese groeperinge van Islam, word dit soms gebruik om die woede van God te proklameer oor mense wat volgens die ‘mufti’ (kenner van die wette) oortree. Op so ’n manier word selfs moord geregverdig – hoewel dit gelukkig baie selde voorkom in die miljoene fatwas wat al uitgereik is.

In die Christelike godsdiens het hierdie soort benadering, waar mense ander eers proklameer as mense wat God as vyand het, baie kere gelei tot van die mees tragiese vergrype. As God eers iemand se vyand is, kan jy enigiets aan so mens doen. Daarom die miljoene wat in die naam van Christus vermoor is tydens die kruistogte (selfs Christene wat verskil het, is uitgewis!). Daarom die wreedhede van die Spaanse Inkwisissie toe die kerk duisende mense terreggestel het. Daarom die stilte van ’n klomp Duitse kerke tydens Hitler se volksmoord op die Jode.

Wat beteken dit wanneer ds. Jan Louw van Secunda die besluit wat die Algemene Sinode oor die duiwel geneem het, kritiseer en dan diegene wat die besluit verduidelik as volg in die publiek waarsku: ‘ Ek is egter oortuig daarvan dat as julle voortgaan op die koers wat julle ingeslaan het, dat julle met die Here self as Vyand te doene sal kry.’ ’n Christelike vorm van fatwa?

Kommentare

Albert Cruywagen

Dis ’n verwronge vorm van nederigheid: “Julle gaan nie met my te doen kry nie – nee daarvoor is ek te klein en nietig, maar met God self”.

Ben du Toit

Ons as Christene kan na my mening, as ons met mekaar in diskussie en selfs dispuut gaan, van geen ander plek vertrek, as ons geloof in Jesus van Nasareth, die Christus, die Openbaring van God par excellence nie. Dis asof Hebr 1:1-3 die brug slaan tussen OT en NT, tussen die Godsgeloof van die Jode/Israel en die Christelike geloof na die Opstanding van Jesus. Jesus is die Woord van God. In Hom leer ons God onbetwisbaar ken as genadig, liefdevol en barmhartig. Daarin is Sy heiligheid. Daarin word Sy geregtigheid begrond. Eers vanuit hierdie geloof in Jesus as die Woord van God, kan ons met mekaar begin praat oor die Bybel (in sy oorsprong en geskiedenis so ver van ons verwyder in tyd en begrip) – oor Skrifgesag en Skrifgebruik, oor die Drie-enige God, oor die bose/kwaad/sonde – alles. Ons as Gereformeerdes het die mees genadige “weergawe” van die Evangelie. Gaan lees maar vr en ant 60 van die HK: verstommend!

Deon van Niekerk

Insiggewend Nelus. En bloedstollend.

Ek wonder of diegene (gewoonlik van regse/fundamentalistiese/wettiese oortuiging) wat so teen die demonologie (of eerder, VIR die demonologie) propageer, wat so ontsteld is dat die duiwel nou inderdaad van sy troontjie gestoot word, nie tekenend van ’n dieper motief in die godsdiens is nie. Dat hulle eenvoudig nie hulle lewens kan voorstel sonder die alomteenwoordige satan nie. Dat hulle dit nodig het. Geen God sonder satan! Tas die status van satan aan, dan sal julle “met die Here self as Vyand te doene sal kry”!!

Op die dualiteit van die God-satan teologie, die ewige stryd, en geestelike bewapening, ens. kan ons nou nie hier ingaan nie. Selfs fb sal dit nie oorleef nie!

Daar’s ’n verdere motief, vermoed ek. En dit staan nogal sentraal in die fundamentalistiese denke. Naamlik dat hulle meen die status van die Woord aangetas word as dit in sy kultuur-histories konteks, in terme van die destydse wereldbeeld geinterpreteer word. Op hulle beste meen hulle om die Woord te bekerm. Moenie hulle erns onderskat nie! (Daarom die ‘fatwa’!). Maar die Woord het nie bekerming nodig nie! Ek het ernstige twyfel of fundamentaliste vatbaar vir insig is… Eenmaal ’n duiwel, altyd die duiwel in. En altyd so fanaties, aktivisties. Verdere debat maak alreeds die duiwel in…

Maar, is ek verkeerd, of is daar deesdae meer van die fanatieke aktiviste as voorheen? Tekens van die tye…

Wynand Louw (verwyder deur Kerkbode)

Dr Niemandt, met hierdie insinuasie teen Ds Jan Louw het u ’n onaanvaarbare grens oorgesteek. Ek het u gewys daarop dat u verwysing na die inkwisisie in u artikel in Kerkbode kwetsend, onregverdig en onnodig was. Hierdie insinuasie is veel erger, en dit pas nie by u status nie. Ek versoek u dringed om Ds Louw om verskoning te vra.

Henrietta Klaasing

Ek ken vir Ds Jan as ’n besonder nugtere en ewewigtige mens en wil dus vir Wynand hierin ondersteun.

Henrietta Klaasing (verwyder deur Kerkbode)

Hierdie woorde van Wynand waarin ek hom ondersteun is blykbaar afgehaal: “Dr Niemandt, met hierdie insinuasie teen Ds Jan Louw het u ’n onaanvaarbare grens oorgesteek. Ek het u gewys daarop dat u verwysing na die inkwisisie in u artikel in Kerkbode kwetsend, onregverdig en onnodig was. Hierdie insinuasie is veel erger, en dit pas nie by u status nie. Ek versoek u dringed om Ds Louw om verskoning te vra. “

Albert Cruywagen

Henrietta: Dit gaan nie oor Jan se gaafgeit nie. Dit gaan oor sy aaklige stelling.

Ben du Toit

Ai, ai, ek wonder of ons nie maar op hierdie Saterdagmiddag liewer rugby moet kyk nie, dan kry die Here dalk minder seer.

Albert Cruywagen

Henrietta: Wynand is totaal en al ongeloofwaardig in die grootste deel van die NGK. Jou ondersteuning van hom beteken amper niks. Jy hety nog nie gereageer op Jan se aaklige stelling nie!!!

Deon van Niekerk

Dis waar ek nou is

Henrietta Klaasing

Albert ek kan verstaan hoe Jan voel en ek deel sy frustrasie

Kerkbode

Wynand Louw se volgehoue pogings om gesprekke hier te probeer kaap en ander mense se integriteit in twyfel te trek ondanks verskeie pogings om hom op sy verdraaiings, halwe waarhede en selfs blatante leuens te wys het lankal reeds alle perke oorskry. Dit is duidelik dat hy nie in gesprek belangstel nie maar hierdie ruimte probeer kaap om sy eie ideologiese stryd teen die kerk en indivdue te voer. Diegene wat verder met Wynand in gesprek wil tree kan dit gerus met homself opneem of op sy eie webwerf daaraan deelneem.

[Kerkbode het op hierdie punt vir Wynand Louw op facebook/kerkbode geblokkeer – hy kan dus geen bydraes meer enige plek daar lewer nie.]

Albert Cruywagen

Henrietta: Probeer asb ook verstaan hoe voel ons gewone vryer denkers oor sulke absurde, lelike, lasterlike opmerkings wat Jan gemaak het dat God nou ons vyand is.

Henrietta Klaasing

Albert, ek het dit as liefdevolle, broederlike vermaning gelees, Ef 4:15 se “speaking the truth in love”

Barend Nel

Ai Ben, daar is tye wat selfs ek spyt is daaroor dat ek al dekades gelede my geloof… in rugby… verloor het. Maar ek moet erken daar is ’n paar deelnemers hier wat selfs rugby aantreklik laat lyk :-((

Albert Cruywagen

Henrietta: Hoe op aarde is dit liefdevol om beweer dat God jou vyand is????

Henrietta Klaasing

Het Jan nie die volgende gesê nie, Albert: ‘ Ek is egter oortuig daarvan dat as julle voortgaan op die koers wat julle ingeslaan het, dat julle met die Here self as Vyand te doene sal kry.’ Die “… as julle voortgaan… dan sal ..” klink werklik vir my soos ’n liefdevolle broederlike vermaning. Die Woord van God wemel van soortgelyke waarskuwings.

Albert Cruywagen

Henrietta: Die NGK het klaar besluit – op Bybelse gronde.. Daar sal nie ’n sommer verandering wees nie. Dus: die NGK sal so voortgaan; dus – die Here is die NGK se vyand. Is dit liefdevol???

Coert Welman

Ek is heel verbaas dat Reductio ad Hitlerum nog nie teen Ds Jan gebruik is nie. Hoekom stop by die Kruistogte en die Inkwisisie?

Nelus Niemandt

Ek het my plasing weer gelees waar ek gereagreer het op ds. Jan Louw van Secunda en sy kritiek op die besluit wat die Algemene Sinode oor die duiwel geneem het, asook sy waarskuwing: ‘Ek is egter oortuig daarvan dat as julle voortgaan op die koers wat julle ingeslaan het, dat julle met die Here self as Vyand te doene sal kry.’

Ek wil onvoorwaardelik om verskoning vra vir my plasing. Ek kon op verskillende maniere gereagreer het, maar ek het verkies dat my pyn oor sy verskriklike beskuldiging dat die lewende Here my Vyand kan word, die oorhand kry. Op die wyse het ek ongelukkig die Evangelie en die liefde van Jesus Christus verswyg. Ek weet mos dat dit eenvoudig nie waar is nie. Ek weet mos dat ons liefdevolle Here nie sommer so goedsmoeds mense se vyande word nie. Selfs al sou die AS ’n fout gemaak het in die besluit oor die duiwel (en ek is nie oortuig dat dit die geval is nie), en ek in my verduideliking daarvan, is die Here se genade meer as genoeg om dit te vergewe.

Ek besef ook dat ek in my ontsteltenis verwys het na ander gevalle waar mense geproklameer is as vyande van God en dat ek in die proses die verskriklike pyn en lyding van die slagoffers van die kruistogte, die inkwisissie en Hitler se volksmoord gerelativeer het. Ek is jammer daaroor.

Ek vra ds. Jan Louw van Secunda onvoorwaardelik om verskoning. Die Bybel leer ons dat ’n sagte antwoord die grimmigheid afweer, en ek het nie gekies vir ’n sagte antwoord nie.

Dit is lydenstyd. Hierdie tyd is ek diep onder die indruk van die lydensweg wat Jesus Christus geloop het, en hoe dit ons almal oproep tot ’n pad van lydsaamheid en vergifnis. Ek besef dat die regte reaksie op hierdie soort beskuldigings eerder een van lyding is. Daarom vergewe ek ds. Louw ook vir die pyn wat sy opmerking in my lewe veroorsaak het.

Marius Britz

Nelus, dis presies hoekom ek ongelooflike respek vir jou het! dit vat moed en integriteit, wat nie almal het nie.

Daniel Louw

Ek het vandag die volgende bygevoeg by Die Nuwe Testament oor redding:

Johannes Facius sê die volgende in ’n reeds “Sitting at the feet of Jesus” in Skotland in September 2011:

Mense sê: die belangrikste van alles is liefde. Nee, die belangrikste van alles is reinheid.

Jakobus 3

(17) Maar die wysheid van Bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg.

(18) En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

Die wysheid van Bo is eerste rein, dis nie eerste liefde nie. Dit is nie eerste vredeliewend nie. Dit is nie eerste sagmoedig nie. By verre die belangrikste karaktereienskap van God is nie liefde nie; dit is heiligheid. Ons moet verstaan dat ons God moet eer en ons moet onderwerp tot die heiligheid van God. Sommige kerke verskil vandag oor die onderhouding van sekere van die tien gebooie – hulle beweer dat dit nie so belangrik is nie, solank ons mekaar net altyd liefhet. Hulle is besig met, wat ek sou noem, ’n dwaalleer, want die liefde van God is nie ’n humanistiese soet stropie nie. Die liefde van God kan baie, baie sterk wees, want as dit nie rein is nie, is dit nie God se liefde nie. As dit alles net oor liefde gaan, kan ’n mens nie indink dat God miljarde mense hel toe sal stuur nie. En daarom begin mense te sê dat daar nie ’n hel is nie. Selfs welbekende predikers soos John Stott skryf in sy boeke dat daar nie ’n hel is nie. Hulle is mislei deur humanisme – God kan mos nie ’n God van liefde wees en mense hel toe stuur nie. Ja o, Hy kan en Hy sal. Dit is in die Boek. So, stop asseblief al hierdie sentimentele nonsens. Daarom, éérste reinheid en dán liefdevol, vredeliewendheid, sagmoedigheid en die res.

Die Nuwe Testament oor Redding

www.glodiebybel.co.za

Hierdie is spesifiek geskryf teen post-moderniste wat sê dat Jesus net liefde is, dat Hy nie oordeel nie en dat almal hemel toe gaan. Wat leer die Nuwe Testament ons van God en van Jesus?

Henrietta Klaasing

Baie dankie professor, ek is diep aangedaan oor u vergewende gesindheid en waardeer dit opreg! Seën toegebid.

Marius Britz

Nie goeie opmerking nie. Kan mens pad hiermee loop?

Marius Britz

Messe druk van orals af in.

Alwyn Van Schoor

Hierdie getit for tattery, want dis presies waarop dit neerkom – jy het my seergemaak en nou gaan jy ook les opse. laat my dink aan Chesterton se raak woorde – dis nie soseer die waarheid wat seermaak nie, maar wel die weghardloop daarvan.

Jan Louw

Dankie Nelus jy het met jou laaste opmerking ’n deur oopgemaak en ’n hand van vriendskap uitgesteek. Ek het op ’n stadium in ’n Sinode vir jou gesê ons kyk op na jou. Ek kyk steeds op na jou om koers aan te dui. Dit is onteenseglik dat ons in ander tye leef, wat ons dit ookal sou noem. Ek het vandag ’n huwelikspaartjie by my gehad. Die man se oupa het die AGS gemeente in Centurion begin. Die vrou kom uit ’n stoere NG familie, maar altwee het kerklos geraak. Dit is net ’n voorbeeld. Wat myself betref is die emerging mentors nie die oplossing nie. Die woorde van Jesus aan die Samaritaanse vrou dat ons God in Gees en in Waarheid moet aanbid, dui vir my koers aan. As ons regtig die Here se leiding soek, sal Hy ons help om vir Hom ’n kerk te wees aan die suidpunt van Afrika in nuwe tye. Teen hierdie agtergrond is dit vir my regtig swaar dat ek die indruk kry dat ons so maklik die waarheid op die altaar plaas vir … vir wat? Wat bereik ons daarmee behalwe om die teleurstelling, selfs die toorn van God vir ons op die hals te haal. Ek het nou so ’n stukkie van my hart, aan jou en aan al my broers in die NG Kerk bekend gemaak.

Barend Nel

My opvoeding sê vir my ek moet ook Nelus se verskoning toejuig en dit laaik, daarom is ek eintlik skaam om te erken dat die emosie wat ek ervaar het eerder met die Engelse woord “cringe” beskryf kan word. Ek kan nie nou aan ’n Afrikaanse woord daarvoor dink nie.

“Definition of CRINGE

intransitive verb

1: to draw in or contract one’s muscles involuntarily (as from cold or pain)
2: to shrink in fear or servility
3: to behave in an excessively humble or servile way
4: to recoil in distaste”

Na ek die res van die draad gelees het “cringe” ek net nog meer.

Hennie Mouton

In hierdie plasing en die een waarna verwys word, kan mens sien hoe selfs predikante deur frustrasie en persoonlike teregwysings gedryf kan word om moontlik en beslis onaanvaarbare plasings respektiewelik te doen.

Dit is beslis lofwaardig dat Nelus vir Jan om verskoning gevra het, maar skynbaar besef hy en ander van die NG-leiers nie hoe hul hantering van ’n lidmaat soos Wynand, en talle ander lidmate, hulle al gedryf het om ook dinge taamlik kras te stel nie. Om dan venynig op die styl te reageer, waartoe hulle die betrokke lidmate eintlik gedryf het, maar die eintlike probleemvrae te ignoreer, en die lidmate bloot as die varke in die verhaal uit te kryt met alle media tot hul beskikking, gaan geen oplossing bring nie en is nie tot eer van God of sy kerk nie.

My ernstige voorstel is dat Nelus se goeie voorbeeld hier op Wynand Louw ook toegepas word.

Jean Oosthuizen

Barend troos jou daaraan jy is nie al een wat “cringe” nie. Geen wonder nie oop en eerlike gesprekke oor geloof vind al hoe meer in kleiner maar vinnnig groeiende veilige ruimtes plaas. Die krag en dinamika van sulke gesprekke moet nie onderskat word nie. Mense vra my dikwels of gesprekke soos die dan nog enige nut het. My antwoord is telkens ja. Al is dit dan net sodat die stille meerderheid van gewone gematigde gelowiges kan sien hoe daar soms verwag word dat mense ter wille van die liefde moet kruip voor diegene wat hoegenaamd geen liefde en deernis openbaar vir diegene wat (volgens hulle) ’n afwykende beskouing of oriëntering het nie.

Die paralelle tussen wat op die oomblik in die gesprek oor geloof in die kerk gebeur en die gesprekke wat veral in die tagtigerjare in die politieke debat plaasgevind het is legio. Die van ons wat dit meegemaak het weet dit baie goed. Mens sou maklik ’n verhandeling daaroor kon skryf. Selfs die persoonlikhede van diegene wat aan die gesprekke deelneem is dieselfde. Ek het die anderdag op RSG gesê en ek sê dit weer: Voordat ons nie ’n tipe 2 Februarie toespraak in die kerk kry nie is ons presies op dieselfde pad as die Ou Nasionale Party destyds.

Coert Welman ‎

“Die paralelle tussen wat op die oomblik in die gesprek oor geloof in die kerk gebeur en die gesprekke wat veral in die tagtigerjare in die politieke debat plaasgevind het is legio.”

Korrek, so ook die sensuur en stilmaak van stemme wat anders praat/doen/dink as diegene in bestuur van die kommunikasiekanale…

Stefaan de Jager

Die Broederbonders van die sestigs tot tagtigs is steeds in ons midde in die kerk. Die apartheidsbaadjie is uitgetrek en nou spog hulle met `n splinternuwe emergent baadjie. Die manier van doen bly egter dieselfde. Koukus in die donker en kom nie openlik uit vir dit waarvoor hulle staan en glo nie.

Jan Buter

Miljoene vermoor tydens die kruistogte??? Hoeveel miljoen mense was daar toe in Europa?? Ek is lankal siek en sat vir die verwysing na die kruistogte (ongeveer 1000 jaar gelede) en die Spaanse inkwisisie etlike honderde jare gelede. Moenie my agter/agter/agter/agter/agter ens grootvader se sondes bely nie, daar is MEER AS GENOEG sondes om oor te treur en om te bely VANDAG!!!! Maar om vinger te wys na die voorvaders en die verlede laat ons mos soos ’n fariseer voel, Dankie tog dat ek nie so sleg soos hulle is of was nie!!!!! Ja leer lesse uit die verlede, MAAR konsentreer op die sondes en foute van vandag!!!! Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

Andre Voigt

Nou waarom dra ons dan vandag nog Adam en Eva se sonde. Kan ons nou maar daarvan ook vergeet Jan Buter?

Hennie Mouton

Nee Andre ons dra nie hul sonde nie, ons dra die gevolg van hul sonde. Maar sommige herhaal ook hul sonde, deur te twyfel of God regtig iets gesê het (“in die Bybel staan mos net wat mense oor God gedink het”) en gevolglik self te wil besluit wat goed en wat kwaad is (“ons post-modernes weet mos nou baie beter as die pre-modernes”).

Barend Nel

Stefaan jy praat mos sommer twak en jy wéét dit. Die broederbonders van die 60,s tot 80,s wat nou nog leef is self daar by die 80, 90 jaar oud en die meeste van hulle het seker nog nie eers van die “emergents” gehoor nie. Die donker gekonkel is ook sommer twak! Waaroor is hierdie twis op hierdie forum? Waaroor is Nelus en ander van ons hier verguis? Omdat daar in die donker gekonkel is? NEE! Omdat hulle OPENLIK en eerlik gesê het waarvoor hulle staan en glo. Party, soos Nelus en Ben du Toit het jare gelede al boeke geskryf waarin dit waarvoor hulle staan op papier uitgespel staan. Dit het hulle in sekere kring baie ongewild gemaak, maar hulle het die moed van hul oortuiging gehad om dit openlik te bely. Ander soos ek, wat maar ’n klein vissie in die dam is en wie se mening nie enige gewig dra nie, het nogtans wanneer ons daartoe versoek is openlik uiteengesit waarvoor ons staan en wat ons glo. Ek het dit einde verlede week hier op hierdie forum weer gedoen. Iemand soos Hennie Mouton het nog opgemerk dat hy dit waardeer het, al het hy natuurlik glad nie my menings gedeel nie.

Dit is natuurlik jou reg om te verskil en ek sou selfs dink dat dit jou plig is om dit te sê as jy verskil. Maar dit is sowaar verregaande om aan die een kant moord te skree as mense hulle ooruigings, waarvan jy verskil, in die openbaar bekend maak… en dan aan die ander kant te beweer dat hulle “in die donker koukus’ en nie openlik uitkom met dit waarvoor hulle staan nie. Dit is juis mense wat hierdie openbare gesprekke wil smoor, wat dan mense sou dwing om in die donker te koukus.

Gerhard Bothma

Nelus, Jou standpunt het baie in waaroor ons dalk op n stadium verder moet praat. Dat jy om verskoning gevra het oor hóé jy dit gedoen het – en ek weet dit kom uit jou diepste wese – maak jou die groter persoon. Hoe wonderlik sou dit nie wees as almal wat so klippe en modder gooi só kon jammer wees en dit dan sê en hulle styl verander nie. Die woorde van MM Walters dringhulleself elke keer in hierdie gesprekke aan my op (sien volgende pos). Ek respekteer jou vir jou jammer. Ek voel tog dat daar meriete in jou stelling sit.

Gerhard Bothma

Die groot liefde (MM Walters, Satan ter sprake 2004:71, Protea Boekhuis) Die christelike wolf van onverdraagsaamheid

skuil steeds met rooi oë in sy hool, wagtend

dat hy weer ’n kans op wraak gegun word.

Ketters wat nie meer verbrand durf word

word nou hel toe gestuur ter vergelding,

Satan toe – laaste laksman van die liefdadiges.

Jan Louw

Daar was ’n opskudding Saterdag in hierdie gesprek toe ek die volgende opmerking aan ons kerkleiers gerig het [kyk Wie val wie aan? ]:

“Die mense wat julle probeer teëgaan is nie uit op verdagmakery nie. Ons is nie julle vyande nie. Ons is julle broers in die kerk. Ek is egter oortuig daarvan dat as julle voortgaan op die koers wat julle ingeslaan het, dat julle met die Here self as Vyand te doene sal kry.”

Vanmôre lees ek toe “toevallig” Jes 63:9,10: “Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra. Maar hulle het in opstand gekom en het sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle ’n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg.”

Ek wil na aanleiding van die teks die volgende opmerkings maak:

  1. Jesus het gesê: Joh 16:13: “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” Ek verstaan dit as ’n belofte aan die kerk.
  2. Die kerk of indiwidue in die kerk kan die Gees weerstaan of bedroef.
  3. Die Here kan vir ons ’n Vyand word en teen ons draai.
  4. Ons het ’n verantwoordelikheid om mekaar te vermaan en ons het ook onderneem om ons te “onderwerp aan tug en vermaning” in die kerk.
  5. Dit is nooit lekker om aan die ontvangkant van vermaning te staan nie, maar dit is verkeerd om dit summier as “leuens en verdagmakery” af te maak. In die gemeenskap van die heiliges wil die Here dalk iets vir jou sê deur jou medegelowiges.

Gerhard Bothma

Jan, oor jou eksegese en hermeneuse gaan ek eerder nie n uitspraak maak nie. Jy is vinnig om te vermaan ensomeer. Het jy al ooit gedink dat ons Here dalk vir jóú iets probeer sê wat jy nie wil hoor nie. Via Nelus het die Here al baie dinge vir baie mense gesê. Is dit net hy wat na jou moet luister, of moet jy ook na hom luister?

Jan Louw

As ons eendag voor die Here staan om verantwoording te doen oor ons lewens, sal ons almal moet verklaar waarom ons vermaan het en waarom ons nie na sekere vermanings geluister het nie.

Henrietta Klaasing

Jan, ek het die oorspronklike stuk waarna jy verwys, gelees as liefdevolle broederlik vermaning, en dit is waarom ek dit twee maal teenoor Albert Cruywagen geskryf het. Ef 4:15 se “speaking the truth in love” (in die Afr, vertaling staan dit anders) staan JUIS in ’n stuk waar dit oor die gesonde leer gaan , v 14 en 15: “that we should no longer be children, tossed to and fro and carried with EVERY WIND OF DOCTRINE, by the trickery of men, in the craftiness of deceitful plotting but, SPEAKING THE TRUTH IN LOVE, may grow up in all things into Him who is the Head – Christ – ….

Albert Cruywagen

Ek herhaal: Om God as ’n vyand te stel vir diegene wat vermaan word, is allermins liefdevol. Ek het God leer ken juis as ’n liefdevolle God, en Jesus se optrede op aarde was uiters verdraagsaam teenoor sondaars.

Barend Nel

Jan Louw sê: “As ons eendag voor die Here staan om verantwoording te doen oor ons lewens, sal ons almal moet verklaar waarom ons vermaan het en waarom ons nie na sekere vermanings geluister het nie.”

Jan dink jy regtig ons gaan eendag so volledig ondervra word en verslag moet gee van alles wat ons gesê (en nie gesê) en gedoen (en nie gedoen) het gedurende ons “70 of 80 as ons baie sterk is” lewensjare op aarde? Dit gaan mos, om die minste te sê, ’n verskriklik traumatiese proses wees. Sal ek werklik al die vermanings aan my kinders moet verklaar… en al die kere wat ek nie na my ouers se vermanings geluister het nie ook moet verklaar? Ek kan besluit watter die moelikste sal wee nie.

Stefaan de Jager

Albert, jy sê dat Jesus uiters verdraagsaam was teenoor die sondaars. Nou wat van die Fariseers as Jesus hulle `n addergeslag en witgepleisterde grafte noem?

Stefaan de Jager

Barend, tagies dat ek die elementêre van die Evangelie aan `n dominee moet verduidelik! As ek my sonde bely word dit my vergewe en die Woord sê dat die Here nie meer daaraan dink nie. In die ewigheid gaan hierdie ou koeie nooit weer uit die sloot gehaal word nie. Wie egter te trots is om hul sonde te bely, sal wel `n verskriklike traumatiese proses beleef omdat die boeke oopgemaak sal word en jy rekenskap sal moet gee van elke ligsinnige woord wat jy kwytgeraak het.

Barend Nel

Dankie dat jy die elementêre dinge vir Jan verduidelik het. Ek glo ook hieroor soos jy, dat die Here ons sonde vergeef en nie eendag weer die ou koeie gaan opgrawe nie. Ek weet nie of jy ook so voel nie, maar ek was nog altyd onder die indruk dat as ek my sonde, en sondigheid, bely Hy selfs die sondes vergeef waarvan ek al vergeet het en die waarvan ek nie eers bewus was dat dit sondig was nie.

Maar dit is goed dat jy dit vir Jan verduidelik, hy sal verseker eerder jou woord daaroor aanvaar as myne. Jy sien hy sê: “As ons eendag voor die Here staan om verantwoording te doen oor ons lewens, SAL ONS ALMAL MOET VERKLAAR waarom ons vermaan het en waarom ons nie na sekere vermanings geluister het nie.” Dit sou dan mos beteken dat ONS ALMAL deur daardie verskriklike traumatiese proses moet gaan om verantwoording te doen vir AL ons vermanings en AL ons versuime. (en wie weet wat nog alles)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui